Nomineer iemand nou wat Afrikaans as wetenskapstaal bevorder

Só lyk “Die Helpende Hand”-beeldjies deur Coert Steynberg (Foto: SAAWK)

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns wag nominasies in vir die Jan H. Maraisprys vir 2018.

Enige persoon of instansie is welkom om nominasies voor Woensdag 31 Januarie 2018 in te stuur. Die doel van die prys is om erkenning te gee vir ‘n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans.

Dr. Dionē Prinsloo, hoof- uitvoerende beampte van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê die prys is in beginsel vir natuurlike persone bedoel, maar die keurkomitee mag ook besluit om dit aan ‘n instelling of vereniging wat besonder verdienstelik is om Afrikaans as wetenskapstaal te bevorder, toe te ken.

Die prysgeld beloop R500 000 en ‘n beeldjie, Helpende Hand, deur Coert Steynberg. Die prysgeld mag in ‘n bepaalde jaar tussen meerdere pryswenners, soos deur die keurkomitee bepaal, verdeel word.

Die oorhandiging vind jaarliks in Stellenbosch op 30 Mei plaas (of so na as moontlik aan dié datum). Dit staan die keurkomitee ook vry om in ‘n bepaalde jaar geen toekenning te maak nie.

Die prysgeld kan na goeddunke van die ontvanger aangewend word.

Hoe nomineer jy iemand?
• Die voorstel moet duidelik motiveer waarom die bepaalde kandidaat/instansie vir die prys voorgestel word. Daar moet ook duidelik aangetoon word watter uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal deur wetenskaplike werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans gelewer is.
• Die nominasie moet deur ‘n voorsteller en twee sekondante onderteken wees.
• Die grootste mate van vertroulikheid moet gehandhaaf word. Onder geen omstandighede mag die kandidaat bewus wees dat hy/sy vir die prys genomineer word nie.
• Die volle name van die kandidaat, asook van die voorsteller en sekondante, landlyn- en selfoonnommers, adresse, e-posadresse moet verskaf word.
• Die voorstel moet gesteun word deur die nuutste curriculum vitae en publikasielys van die kandidaat, indien van toepassing.
• By die toekenning van die prys is die keurkomitee se besluit finaal. In die geval van ‘n nominasie wat nie suksesvol was nie, sal geen korrespondensie of gesprekke na die toekenning gevoer word nie – nie met voorstellers nie en ook nie met kandidate nie.

Nominasies sluit op Woendag 31 Januarie 2018.
Bekendmaking van die prys: Einde Maart 2018

Skriftelike nominasies vergesel van ‘n volledige CV moet per gewone of e-pos of per koerier gerig word aan:
Die Hoof- Uitvoerende Beampte, Privaat sak X11, Arcadia, Pretoria 0007.
Elektroniese nominasies moet gestuur word na e-posadres: [email protected].
Fisiese adres vir aflewering per hand of per koerier: Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria 0083

Navrae kan gerig word aan die Hoof- Uitvoerende Beampte, dr. Dionē Prinsloo: Tel. 086 133 3786 (kantoorure) of e-pos: [email protected].

Volledige besonderhede is ook beskikbaar op die SA Akademie se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Nominasieproses nie vir ons gewone sterflinge nie.
Dis soos om te FICA, namens n ander persoon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.