Nuwe Afrikaanse stromingsdienste beskikbaar

internet-tabletrekenaar-koffie

(Foto: Kaboompics/Karolina/Pexels.com)

Internetstromingsdienste is ʼn gewilde platform om na gesogte televisiereekse en rolprente te kyk.

GloTV, Dapper Media en RoepTV.com het reeds die pas aangegee as Afrikaanse stromingsdienste en nou is NET Afrikaans en Jou Afrikaans twee nuwe platforms wat kykgenot in Afrikaans aanbied.

NET Afrikaans is die eerste betaalde kyk-op-aanvraag (Android-gebaseerde) televisievermaaklikheidsapp (soortgelyk aan Netflix en Showmax) met splinternuwe, eksklusiewe Afrikaanse inhoud.

Die handelsnaam is afgelei van Netwerk Afrikaans en sou kykers dit verkies, kan dit aanvullend tot ander kanale gekyk word. Die koste om aan te sluit beloop R79 per maand vir vier digitale toestelle (byvoorbeeld ʼn rekenaar, televisie, slimfoon en tablet) per intekenaar.

“Wat ons nóú doen, doen ons vir Afrikaans. Ongeag van hoe jy dit in jou huis praat, bly Afrikaans ʼn taal met ʼn toekoms uit eie reg wat splinternuwe eksklusiewe kykgenot verdien wat oor die landsgrense heen geniet, gepraat en gekyk kan word,” sê Retha van Reenen, handelsmerk-ambassadeur vir NET Afrikaans.

“Tans bied ons intekenare 15 splinternuwe reekse, waarna nuutgeskepte produksies deurentyd eksklusief op die vermaaklikheidsapp gelaai sal word om volhoubare kykgenot van topgehalte te verseker,” verduidelik Van Reenen.

ʼn Paar van die nuutgeskepte leefstyl- en vermaakprogramme wat NET Afrikaans eksklusief bekendstel, sluit in:

  • Ouma se Raad – ʼn kookprogram met Daniel Hoffmann as aanbieder. Verskeie Suid-Afrikaanse oumas berei hul gunstelingdisse voor terwyl hulle boererate uitruil en staaltjies uit hul kinderjare oorvertel.
  • Hallo Dolly – ʼn heerlike kuier-en-braaiprogram met sanger Kevin Leo as aanbieder.
  • In TwakPraat met Piet Pompies vertel Suid-Afrika se bekendste vermaaklikheidskunstenaars kykers tong-in-die-kies van hul grootste verleenthede.
  • Sportentoesiaste behoort KatKoors, ʼn werklikheidsprogram wat handel oor rofstoei, en Smiley se Sport Grotes, waarin Werner Swanepoel met verskeie sportlegendes gesels, te geniet.
  • Slagpen, met Marius Barnard, sal vir die vuurwapenliefhebber ʼn nuwe wêreld oopmaak.
  • Optimum Sukses sal die finansieel georiënteerde kyker interesseer.
  • Lekker kreatiewe vermaak vir die jongspan is natuurlik ook beskikbaar op NET Afrikaans, soos Spoeg en Plak, waarvan Jeanette Pretorius en Bee-Bee die by, Dienkie en Doedels die seekoeie, en Appelliefie en die Reus, deel is.

“NET Afrikaans-intekenare kan soveel programme kyk wat hulle wil, net wanneer hulle wil. Hulle word natuurlik ook saam met produksiehuise uitgenooi om tree vir tree saam met ons te groei en hul idees vir nuwe programme met ons te deel. Splinternuwe dramareekse en flieks is ook op die horison namate NET Afrikaans se gewildheid onder intekenare groei.”

Sluit aan by NET Afrikaans deur die webwerf te besoek.

Jou Afrikaans, wat onder andere die sanger Steve Hofmeyr aan die stuur het, bied ʼn platform vir Afrikaanse inhoudskeppers om hul flieks, reekse, dokumentêre, kortflieks en ander vermaaklikheidsidees te wys.

Die helfte van alle inkomste wat deur Jou Afrikaans gegenereer word, word teruggeploeg in die skepping van nuwe Afrikaans-inhoud.

“Jou Afrikaans gooi jou toe met Afrikaanse reekse, sport, kinderprogramme, ou rolprente, nuwe rolprente – met niemand om vir ons voor te skryf nie,” sê Hofmeyr.

“Werklik bevryde Afrikaans, bevryde kuns, bevryde vermaak – as dit is wat jy wil hê, sê ja vir Jou Afrikaans. Ongekaapte kykvryheid vanaf die Kaap tot in Canberra, vanaf Perth tot in Pretoria.”

Besoek Jou Afrikaans se webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.