Nuwe leeskringe laat Afrikaans voortleef

Leana Lategan van NALN (Foto: Leopold Frechow)

Leana Lategan van NALN (Foto: Leopold Frechow)

Nuwe en jonger leeskringe is nodig om Afrikaanse leeskringe te laat voortleef, het Leana Lategan, hoofvakkundige van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN), by vanjaar se ATKV Feesviering van Lees by die Vrystaat Kunstefees gesê.

Bloemfontein se leeskringlede het tydens dié geleentheid saam besin oor die belangrike rol wat leeskringe in die gemeenskap speel.

Die ATKV se taalafdeling het ook ʼn boektrommel aan Renett Bam, koördineerder van Mangaung Biblioteke in Bloemfontein, oorhandig.

Bam het gesê die tien geregistreerde leeskringe in Bloemfontein is baie aktief en honger vir die nuutste letterkunde in Afrikaans. “Die leeskringe hou ons op ons tone en laat weet ons dadelik as daar nuwe boeke verskyn,” het sy laat hoor.

Karien Brits, bestuurder: taal by die ATKV, sê die ATKV-taalafdeling wil met die ondersteuning aan die Bloemfontein-leeskringe die liefde vir lees in Afrikaans verder bevorder. “Volgens Unesco, die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie, is geletterdheid die sleutel tot volhoubare ontwikkeling. Dit is dan ook wat die ATKV deur middel van verskeie leesprojekte wil bereik: volhoubare gemeenskappe,” het Brits gesê.

Sy sê ook die ATKV se aktiwiteite en projekte is daarop gemik om Afrikaanse geletterdheid op ʼn inklusiewe en kreatiewe wyse te bevorder. “Dit strek van olimpiades vir Afrikaans, spelkompetisies, leeskompetisies, leeskringe tot slypskole vir taalonderwysers – en dit word nie net vir moedertaalsprekers van Afrikaans aangebied nie, maar ook vir tweede- en derdetaalsprekers van Afrikaans.”

Lees gerus meer op die ATKV se webwerf oor die organisasie se unieke taalprojekte en vind uit hoe jy ʼn ATKV-leeskring in jou gemeenskap kan begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.