Nuwe reeks vir tienerharte

Hartklop

Foto: Verskaf

Dit is sekerlik elke ouer se wens dat hul tiener ʼn liefde vir lees ontwikkel, nie net omdat dit ’n mens se lewe verryk nie, maar omdat lees ook ontvlugting bied. En daar is min dinge wat sulke gesonde ontvlugting bied soos ʼn goeie boek.

Cecilia Steyn, ʼn skrywer van tienerfiksie, se boeke verkoop soos soetkoek, en sy meen dis omdat tieners hul eie lewe in die boeke kan sien. “Daar is verrassende elemente in die boeke, die karakters is interessant en ek spreek kwessies aan waarmee tieners hulle kan identifiseer – ouers wat skei, die skool, ma’s en hoe kinders mekaar behandel. Daar is ook altyd ’n gelukkige einde in my boeke, want die lewe is ernstig genoeg.” Cecilia sê haar boeke is veral vir tienermeisies geskryf en dat dié mark veral aanklank by haar boeke sal vind.

Hierdie nuwe skrywer het eers as volwassene ʼn liefde vir lees ontwikkel en meen daar was nie eintlik liefdesverhale, soos haar eie boeke, vir tieners destyds nie. “Ek het in ʼn huis grootgeword waar almal gelees het, maar ek het net nooit as kind ʼn liefde daarvoor ontwikkel nie.”

Dié ma van twee is nuut in die skrywerswêreld en nadat sy haar debuut, Die meisie op die dak, geskryf het, het die gogga haar omtrent gebyt. “Die meeste skrywers het van kleintyd af ʼn liefde vir skryf gehad – beslis nie ek nie. Ek dink ek was verveeld, en toe probeer ek skryf, en toe werk dit!”

Cecilia het vroeg vanjaar Hartklop bekendgestel, die eerste boek van die Tienerharte-reeks. Die tweede boek sal in Junie op die rakke wees, en die derde boek in Oktober.

“Ek wil vir tieners sê dat alles nie verlore is nie, dat hulle in hulself moet glo en dat hulle enigiets kan doen.”

Daar is geen keer aan dié skrywer nie, want sy is reeds besig met ʼn nuwe reeks wat gemik is op jonger tieners, asook ʼn roman vir volwassenes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Thys.Viljoen. ·

Ek ken die skrywer al van kleins af Sy is werkik cool

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.