Om moedertaalonderrig te onderskat, is om onderwys te verdoem

(Foto: Klimkin/Pixabay)

Vanjaar, meer as ooit, moet die belangrikheid van moedertaalonderrig in Suid-Afrikaanse skole besef word. Met Internasionale Moedertaaldag, wat pas Sondag gevier is, kan ʼn mens terugkyk na die tragiese verloop van die vermindering van moedertaalonderrig in skole.

Grondwetlik is leerders daarop geregtig om onderrig in die amptelike taal van hul keuse in openbare onderwysinstellings te ontvang. Natuurlik word hierdie reg beperk deur die staat se vermoë om hierdie beginsel uit te voer. Hierby skryf die Suid-Afrikaanse Skolewet verskeie voorwaardes voor wat verband hou met die bepaling van taalbeleide in openbare skole. Van groot belang om te onthou, is dat skoolbeheerliggame (SBL’e) volgens die wet die taalbeleid van ’n skool mag bepaal, met inagneming van die Grondwet. Hierdie regte word egter tans bedreig deur voorgestelde wetgewing op provinsiale en nasionale vlak wat die reg van SBL’e om die taalbeleide van skole te bepaal, oorskuif in die staat se hande.

Alhoewel statistieke oor onderrigtaal in skole moeilik bekombaar is, is daar in 2010 ʼn verslag oor die status van tale in skole vrygestel wat ʼn baie somber prentjie skets. Volgens die verslag word die meerderheid van leerders (ongeveer 66%) in Engels onderrig, gevolg deur Afrikaans (ongeveer 10%), isiZulu (ongeveer 7%) en isiXhosa (ongeveer 6%). Die inheemse Afrikatale word gevolglik in slegs 24% van skole aangebied. Wat wel verblywend is, is dat 77% van grondslagfase-leerders op daardie tydstip in hul moedertaal onderrig is.

Die persentasie val egter drasties en teen 2016 word slegs 19% van gr. 1- tot 3-leerders in hulle moedertaal onderrig. Dieselfde jaar kon 78% van leerders wat deelgeneem het aan die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS)-toets in Suid-Afrika nie eens die laebasislynpunte in dié toets behaal nie en slegs 0,2% van Suid-Afrikaanse gr. 4-leerders kon die gevorderde basislynprestasie bereik.

Dit is nie net ʼn tekortkoming van die staat nie, maar ook van ouers wat verkies om hulle leerders in ʼn tweede en soms derde taal te laat skoolgaan. Volgens amptelike syfers is die voorkeurtaal van ouers (soos aangedui tydens skoolregistrasie) dikwels Engels (64%) of Afrikaans (11%). Hoewel 25% van die leerders isiZulu as moedertaal het, het slegs 6% van die leerders die voorkeurtaal as isiZulu aangedui.

Afrikaanse ouers wat hul kinders doelbewus in Engelse skole sit, omdat “Engels ʼn wêreldtaal is”, of omdat hulle “in elk geval eendag in Engels gaan werk of studeer”, veroorsaak ʼn akademiese agterstand en sosiale uitdagings vir hul kinders.

Waarom maak dit saak?

Navorsing reg oor die wêreld het al talle male bewys dat leerders wat in hulle moedertaal onderrig word, beter presteer. Afrikaanse skole se matriekuitslae is ʼn inspirerende voorbeeld van die positiewe rol wat moedertaalonderrig in leerders se prestasie speel. In die 2019 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen is Afrikaanse leerders se slaagsyfer van 87,1% aansienlik hoër as die nasionale slaagsyfer van 81,3%. Afrikaanse skole lewer boonop 13% meer toelatings om aan ʼn universiteit te studeer as die nasionale gemiddeld op. Hoewel Afrikaanse leerders slegs 10% van die totale getal matrikulante uitmaak wat wiskunde as vak neem, dra dié groep by tot 32% van die onderskeidings in wiskunde.

Wat moet gedoen word?

Maak seker die beheerliggaam verstaan die nagevorsde realiteite van moedertaalonderrig en baklei, waar nodig, vir die grondwetlike reg om moedertaalonderrig te bied. En koester skole wat moedertaalonderrig ondersteun en ondersteun hulle sodat hulle nog lank kan bydra tot die kulturele ontwikkeling van ons kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Eks met moedertaalonderrig deur skool en universiteit. Matriek goed geslaag. 2 universiteitsgrade verwerf. Vandag kry ek nie werk nie want ek het die “verkeerde” velkleur….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.