Ongehoorsaam skryfreëls

Argieffoto (Foto: rawpixel, Pixabay)

Dié 24 Afrikaanse taalreëls laat selfs veterane struikel. Kyk na die misbruik – en hou koers!

  • Moenie apostrofe’s verkeerd gebruik nie.
  • Modewoorde moet basies uit die aard van die saak vermy word.
  • Moenie sinne aanmekaarlas nie gebruik punte en hoofletters dit maak jou werk leesbaarder
  • Utiliseer slegs terme wat vir die waarskynlike lesers hic et nunc penetrabel is.
  • Vermy oortollige pleonasmes en dubbeldoor-toutologieë.
  • As jy van ‘n woord se speling of skryf wyse onseeker is, slaan na.
  • Maak seker dat jy nie die slot-nie weglaat.
  • Slegs bysinne, wat beperkend is, word tussen kommas geplaas.
  • Al skrywende duik daar soms deelwoorde op wat nêrens by hoort nie; skrap hulle.
  • Die voornaamwoord en hulle antesedente moet getalsmatig ooreenstem.
  • Voorkom dat jy nie die teendeel skrywe van wat jy bedoel nie.
  • ‘n Helder, ongemengde beeld is dikwels die treffende ruggraat van goed kommunikerende taalgebruik – veral in koppe, maar ook in lyfteks.
  • Onlangs het ek geleer wat tant Betje is en sal ek dus nie meer foutiewe sametrekkings van sinne maak nie.
  • Moet niks weer herhaal nie en sê ook nooit dieselfde ding twee maal nie.
  • Geen fragmente van sinne.
  • Te lang sinne is vermoeiend. Te kort sinne net so. Die onderlinge samehang ontbreek dan. Die sinslengte moet liefs varieer.
  • Elke paragraaf behoort oor één aspek te handel. Sinne wat oor iets anders handel, hoort nie in die paragraaf nie. ‘n Sin vir humor is baie nodig.
  • Gebruik Hoofletters oordeelkundig.
  • Geliewe nie te hoogstylig vir die okkasie tot skrywe oor te gaan nie.
  • Onalg. afks. moet so min mntl. gebruik word, want vir b. het die wsk. leser meer nodig as net e.l.
  • Roei steurende Anglisismes in jou taalgebruik lok, stok en vaatjie uit.
  • Ek is enersyds ongelukkig met die feit dat nie alleen in amptelike taal nie, maar ook – en wellig veral – in taaluitings binne die politiek die verskynsel hom op allerlei vlakke voordoen dat mense hulle bedien van weliswaar grammaties onberispelike, maar desalnietemin onoorsigtelike sinne, waarbinne stellings, in sover hulle duidelike uitsprakte bevat, vermy word, maar waarin verdere beperkings en voorbehoude daarvoor sorg dra dat die leser – of toehoorder – die spoor byster raak, maar ek het andersyds, omdat ek my enigsins onder die polities geletterdes skaar, daar begrip voor, maar geensins simpatie mee nie, dat dit die geval is om niepartygenote die politieke harnas in te jaag, wat natuurlik ook weer nie opgeneem mag word as ‘n aansporing om die kiesers sand in die oë te strooi nie.
  • Pasop om nie verkleinwoordjies in ‘n saaklike geskriffie te gebruik nie.
  • Proelfees jou wrek noureukig.

Oorspronklik gepubliseer in die boek Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink met illustrasies deur Piet Grobler.
Uitgewers: Tafelberg, 1998

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Suzette ·

Eish, die skrywer van die stuk is net so ongehoorsaam hehe. “as jy onseeker is van die speling slaan die woord na” en hoe proeflees jy jou wrek??????? Nie baie nice nie hoor

Mariné Lourens ·

Dagsê Suzette

Dankie vir jou kommentaar. Die teks is oorspronklik gepubliseer in die boek Kwinksinnig: Taalskertse deur Johan Combrink met illustrasies deur Piet Grobler. Die teks is juis só geskryf om skertsend spelreëls te illustreer.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Wena ·

Ek is van mening dat die skrywer moedswillig die foute gemaak het, dit was seker die doel om die punt wat hy gestel het, te onderstreep. Of hoe?

SpelSersant ·

Baie oulike artikel! Die skrywer het sy punt goed oorgebring.

Schalk ·

Hierdie moet ń grap wees! Niemand praat of lees sulke ernstige oortollige gebruik van korrekte afrikaans nie. In elk geval niemand normaal nie

Peet Schabort ·

Lank laank geleede was dar spelreeels wat ok op skool ingedril waas. Nou se daae is dit duidelik dat spelvoute algemeen is. 10uit10 vir Johan Combrinck, ek bedoel ‘Kombrink’. Ag toggie ‘Combrink’.
My oorlede vader was onderwyser en op ‘n dag kry hy ‘n brief van ‘n moeder aangaande haar kind wat as volg begin: ‘Geagte meneer Skaap Bord . . .’ Sy opmerking was: ‘Laat ek nou eerlik wees, die brief is aan my gerig!’.

Peet Schabort ·

Ek wil nog ‘n eiertjie lê . . . Daar was ‘n stadium/tyd wat ek ‘n speletjie daarvan gemaak het om besighede/instansies te wys op spelfoute. Veral woorde soos ‘akkommodasie/akkomodasie’ en ‘palissade/palisade’ waarvan die engels is ‘accommodation/accomodation en ‘palisade/palissade’. In voorgaande is die tweede, m.a.w. na die teken ‘/ ‘ die verkeerde vir daardie taal. Wanneer dit engels was het ek gou-gou die fout uitgewys dog met die afrikaanse spelfout van ‘n engelse besigheid het ek meermale stil gebly uit vrees dat die engelsman immers probeer en dalk die woord(e) sal verwyder.
So ook met aankope van ‘n produk het ek eerder die duurder een gekoop met afrikaans op. Daarna het ek my waardering teenoor die vervaardiger uitgespreek oor hoekom ek sy produk gekoop het en of hy nie plan kan maak met die prys!
Dalk is dit tyd om saam te staan en op ‘n hoflike manier ons taal te bevorder?

Nelani Pfaff ·

My kommentaar het eintlik betrekking op al Maroela Media se teks, aangehaal en eie. Ek is self ‘n taalversorger en let op dat die ‘n se teken dikwels verkeerdom lê. Ek vra baiekeer vir skrywers en joernaliste om aan te leer om uit die staanspoor die ‘n se teken regom te tik sodat dit vir taalversorgers minder onnodige werk skep. Maroela se teks, veral Facebook-teks sal netjieser en meer professioneel vertoon as die teken regom lê. Dit is een van ons taal se mees basiese taal- en skryfreëls, soos die artikel dan ook verwys na die korrekte gebruik van die apostroof.

Renier ·

Spelreëls blyk lankal nie meer geleer óf gebruik te word nie. Daar is min dinge so irriterend en onooglik soos mense wat te lui is om voluit te skryf, of sinne wat net neergepen word sonder dat die spelling nagegaan word nie.
Die gróót probleem lê egter juis by die plekke waar behoorlike taalgebruik en skryf geleer moet word: By die huis en by die skool. Skitterende artikel!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.