‘Ons groei dennebome’

(Foto: Osman Rana/Unsplash)

Ons groei dennebome in groot nommers sodat ons in die somer teen Krismis biljoene sneeuvlokkies op ʼn miljard takbokke se rûe kan strooi.

Dit wil vir my lyk of dit nie net ons taal is wat deur ʼn golf van Anglisering oorspoel is nie, maar ons bly ook bygelowig klou aan ons Europese manier van dink en doen, soos ons viering van Kersfees wat maar net nie wil wegkom van sneeu en klokkies nie.

Die nuwe Anglisering van Afrikaans verstaan ek nog effens, want die enigste ding wat die ANC sedert ’94 suksesvol kon doen, was die afdruk van Engels in almal se kele en die moord op veeltaligheid. Dit is daarom te verstane dat Afrikaans weer bewus moet raak van die inval van Engels. Nee, ek is nie weer uit op ʼn Anglisisme-jag nie! Die paranoïese oorlog teen Anglisismes is in die meeste gevalle, soos met ons xenofobiese vrees vir alles wat na ʼn –isme lyk, op onkunde gegrond. Moenie oor Anglisismes praat as jy nie regtig weet wat dit is nie, want dit lyk nie Engels nie, maar dit verdring ʼn taalverskynsel wat in wese Afrikaan is, soos die verwoestende foutiewe gebruik van groei en nommers. Om van die verwarrende gebruik van biljoen en miljard nie eers te praat nie.

Die beangste vasklou aan Europese Kersgebruike bly vir my egter nogal duister.

Dis swaar om deesdae ʼn boer te wees: Ek hoor in byna elke verslag dat boere mielies of koring groei. Dit moet moeilik wees om mielies te groei. In my dae het mielies sommer self gegroei! Seker weer die gowwerment se skuld.

Om skool te hou is dese dae ook baie moeiliker as in my dae, want die klasse is glo oorvol as gevolg van die groot nommers leerders wat nou se dae wil leer. In die ou dae was daar ʼn kleiner aantal leerlinge. Toe was skoolhou nog ʼn plesier.

En weet jy hoe bly is ek ek is nie vandag ʼn kader nie! Jy steel ʼn biljoen en dink dit is duisendmiljoen, maar as jy begin tel, is dit net honderdmiljoen. Duisendmiljoen rand is in Afrikaans ʼn miljard en honderdmiljoen is ʼn biljoen. Die Engelse billion is nie biljoen in Afrikaans nie, dis miljard. Askies, kamerade, julle dog nog julle leen ʼn paar biljoen by die IMF, toe is dit al die tyd ʼn miljard. Ai toggie.

Of is dit net die slortonge wat nie meer Afrikaans kan praat nie; nie meer omgee wat reg en wat verkeerd is nie? ʼn Mens kan nie mielies groei nie, net die Engelse kan. In Afrikaans kan jy net graan plant of verbou en plante kan jy kweek. Jy kan dit nie groei nie, dit groei vanself. Ek hoor hoedat sprekers al hoe meer die Anglisistiese nommers gebruik as hulle getalle of aantal bedoel. Nommers kom op sportmense se truie of op hul hemde. Die aantal toeskouers by die eindstryd is die getal mense wat kyk.

Nee, ek het nie van Kersfees vergeet nie. Ek vier vanjaar ʼn Afrikaanse Kersfees sonder ʼn uitheemse denneboom en spierwitte sneeu en ʼn slee. Ek gaan onder ʼn melkhout sit met loeries en spreeus as Kersversierings in die takke en die breek van branders as dankgebed terwyl ek my oë toemaak en saam met Koos Doep sing, “Welkom o stille nag van vrede onder die suiderkruis,” en die Vader dank dat ek van Afrika is.

Meer oor die skrywer: Hans Du Plessis

Hans du Plessis is ‘n woordmens van formaat: taalkundige, skrywer, digter, navorser, akademikus en dramaturg. Hy het groot bekendheid verwerf met sy bundels Griekwapsalms.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sylvia ·

So jammer om jou “wolkie” te bars, maar daar is duisende mense in ons land wat nie ‘n wit Kersfees en sneeu uitbeeld nie, hierdie is al so ‘n afgesaagde “cliché”, dat dit die waarde van die voorafgaande
berig/rubriek benadeel. Sê maar net….

Kiewiet ·

Die strooipop wat hier gebou word kan min van ons ons mee vereenselwig ,meer met Francis van Assisi se uitbeelding van Kersfees stal miskien . Hoe ook al sy simbole moet ons help om die diepere betekenis agter dit te sien anders is dit maar net simbole , of erger n afgod . Ons het simbole nodig want die Godelike ervaring in die mens se psige kan beter so uitgebeeld word as legalistic woorde .
Melkboshoud en n spreeu ? werk dalk vir u ,vir my baie moeilik om die verband te sien
Gaan jy dit regtig doen ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.