Oom Herrie se kerrie: Woordpolisie asseblief (of nie?)

Oom-Herrie-se-Kerrie

Oom Herrie se kerrie. Foto: Argief.

Vanoggend gebruik oom Herrie die uitdrukking van “die kous is klere” in ’n nuuskommentaar. Die herkoms is baie duidelik – “The coast is clear”. Maar dit bly ’n lastige vraag hoekom die Kakies na die Vrystaatse vlaktes as “coast” sou verwys, en nog minder sou sê die “coast is clear” as die Boere binne hoorafstand daarvan is, en so die “kous is klere” geskep het.

Maar die Engels maak nie altyd sin nie. Neem nou maar die woord “Engelse sout”. Ja, oom Herrie moes die afgelope week vir die eerste keer in sy ganse lewe dit ook op die proef stel. Sout? Nie ’n tiekie nie. Dis galbitter.

’n Naam soos “Engelse gal” sou veel beter wees, maar oom Herrie is nie seker waar die “Engelse” hier in die prentjie inkom nie. En boonop het dit g’n niks gewerk nie, en ’n dag later moes oom Herrie die brouwerk regkry deur ’n aalwynpilletjie te sluk.

Mev. Herrie bedoel om die pilletjie uit die flessie in oom Herrie se hand uit te skud, maar twee pilletjies kom saam, en die een rol seepglad van oom Herrie se hand onder die bank in. Oom Herrie soek daai vermiste pilletjie, want, daai een het baie minder bitter gelyk as die een wat oom Herrie toe inhad.

Die persoon wat die kwessie van woordpolisie op die agenda geplaas het, is die Nederlandse skrywer met ’n Marokkaanse pa, Jamal Ouariachi. Hy het ’n kleintjie dood daaraan dat ou gebruiksname weens politieke korrektheid moet verdwyn, en selfs uit ou boeke verwyder moet word, ter wille van politieke korrektheid. Hy is baie vies omdat iemand hom aangespreek het oor hy die woord “wijf” gebruik het. “Niet alle vrouwen zijn wijven, zelfs niet alle wijven zijn vrouwen.”

Dit laat oom Herrie dink aan jare der jare gelede toe die jonge Herrie nog ’n verslaggewer by die Volksblad was. Volksblad het nooit die woord “dame” gebruik nie, want, is verduidelik, “alle dames is vroue, maar nie alle vroue is dames nie”. Vir ’n klomp “damesklubs” was dit ’n irritasie dat hulle in die koerant na “vroueklubs” verander is. Volgens oorlewering het ’n gewilde rubriekskrywer ’n “damesklub” gaan toespreek. Hier, gedagtig daaraan dat die gehoor uit dames bestaan, pak hy uit oor vroue wat in woord en daad hul “kômmingeit” uitbasuin. Vir een “dame” is dit te veel, en sy gil op die spreker: “Jy praat nie so van ons nie, ons is f*&^%$n ladies!” Geen verdere argumente nie.

Maar soms, as oom Herrie ’n ou boek lees, voel dit tog ook asof woorde liefs vervang moet word. Soos die Kinderensiklopedie waarin ’n onderskrif by ’n foto lui dat dit ’n “Ovambomei- …” is wat gaan water skep.

Die afgelope dag of so lees oom Herrie ook ’n boek uit 1973 van Doc Immelman, en daar is dit nie soseer die kwetsende woorde nie, maar hoe gedrag wat vandag as erg kwetsend sou deurgaan, beskryf word asof dit aanvaarbaar is net omdat dit beleef bedoel word.

Terselfdertyd lees oom Herrie ’n Louis L’Amour-boek, en oor die “Indians” wat so baie moeilikheid gemaak het. Ja-nee, nou is “native American” die manier waarop Rooihuide genoem moet word.

Toe oom Herrie by Volksblad was, was hy ’n groot voorstander daarvan dat ’n bruin verslaggewer vir die “Ekstra” aangestel moet word. Dit realiseer toe in die vroeë 80’s. Die nuwe verslaggewer, saam met die ervare wit Ekstra-verslaggewer, is toe na ’n vertrekkie agter die subs geskuif, ver van die nuuskantoor af. Oom Herrie dink darem nie die bruin man moes ook, soos Conrad Sidego by Die Burger, in die parade se toilette gaan piepie omdat daar nie geriewe by die koerant was nie.

Nou is Sidego ’n burgemeester, en Volksblad se verslaggewer het ’n LUK geword.

Die Herries en die man en sy gesin was toe al ’n klompie jare huisvriende. En ’n mens het nogal erg skaam gekry om by hulle te hoor oor die snedige opmerkings wat hulle moes verduur omdat hulle, as “Hot- … -s” met so ’n deftige vuurwa gery het.

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bruno Stef ·

Dit herinner n mens sterk aan jou grootword dae toe die Engelse gemeenskap in SA name vir die Afrikaners gehad het soos (hiary backs/ rock spiders / mealie munchers en japies ) wat ons gewoonlik met (rooinekke /souties) terug geantwoord het.In die tye het die meerderheid Engelsmanne n soorte van n meerdere houding gehad wat tot baie vuisgevegte gelei het maar vandag is van my kinders met Engels sprekende mense getroud wat volkome tweetalig is.

Andries ·

hoekom is julle resepte so ‘n geheim? Wil TT Cloete se gunsteling beesstert aflaai maar dit verseg om af te laai. Die bekendste en beroemste resepte kan afgelaai word, wat maak julle so besonders?

Andries

Piet Snot ·

Andries, jy gaan baie verder kom as jy mooi vra.
Ek het dieselfde vraag (mooier) gevra, en ‘n geldige antwoord gekry.
As jy mooi vra, deel ek die antwoord met jou.

Karen ·

Die woord Engelse sout vir Epsom salt kom ook uit die konsentrasie kampe. Die Engelse het Engelse sout, of te wel, Epsom salt, vir die mense in hulle konsentrasie kampe gegee en seker gedink hulle is baie snaaks of net koud en wreed. Want Epsom salt is magnesium, wat ‘n lakserende effek het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.