Op reis met Afrikaans – van hart tot hart

prof-anne-marie-beukes-sa-akademie-vir-wetenskap-en-kuns

Prof. Anne-Marie Beukes. Foto: Verskaf.

Deur Anne-Marie Beukes

“Die verste reis wat ’n mens kan onderneem, is van mens tot mens, deur die hart”.

Só het die bekroonde skrywer Elsa Joubert (wat onlangs oorlede is) in haar boek Die verste reis geskryf waarin sy vertel van haar besoeke aan verskeie Wes-Europese lande kort ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Die pyn en nagevolge van hierdie mensgemaakte ramp vir gewone mense staan voorop in haar vertellings. Vir Elsa Joubert het dit kennelik nie gegaan net om op ’n reistog landskappe te betree nie, maar ook die harte van mense.

Daarom, as ons op reis gaan met Afrikaans, ons soetste taal, word dit ook ’n hartsreis van een Afrikaanse mens tot ’n ander Afrikaanse mens. Kom, onderneem saam met my ’n vinnige reis deur die fassinerende landskap van ons taalgemeenskap tot in die harte van ons mense!

  1. Afrikaans beklee ’n belangrike plek in die Suid-Afrikaanse samelewing, omdat dit ons derde grootste taal is met 6,8 miljoen sprekers: nagenoeg 12% mense gebruik Afrikaans as hul huistaal. Sowat 25% mense gebruik Zulu (die taal wat die meeste gepraat word) as hul huistaal en 15% mense se huistaal is Xhosa (die taal wat die tweede meeste gepraat word).
  2. Afrikaans is een van die jongste tale ter wêreld wat eers in 1925 amptelike taalstatus in Suid-Afrika, naas Engels en Nederlands, ontvang het. Die eerste vertaling van die Bybel in Afrikaans is eers in 1933 gepubliseer.
  3. Afrikaans word nie slegs in Suid-Afrika gepraat nie. Dit is moontlik nie algemeen bekend nie, maar Afrikaans se voetspoor staan nogal stewig: nagenoeg 24 miljoen mense ter wêreld verstaan Afrikaans! Hierdie mense vind ons in lande soos ons buurlande Namibië en Botswana, maar natuurlik ook in die Nederlandssprekende Lae Lande. In hierdie dae bly daar ook ’n beduidende aantal Afrikaanse mense verspreid in die Verenigde Koninkryk, Kanada, Australië en Nieu-Seeland.
  4. Afrikaans is een van slegs vyf tale – naas Hebreeus, Hindi, Katalaans en Maleisies – wat in die twintigste eeu tot ’n volwaardige wetenskaps- en akademiese taal ontwikkel het.
  5. Afrikaans is ’n dogtertaal van Nederlands, maar is ook beïnvloed deur inheemse tale soos die Khoi- en Santale en Oosterse tale. Hierdie ryke herkoms van ons Afrikaanse taalgemeenskap het tot gevolg dat ons die mees heterogene taalgemeenskap in ons suiderland is.
  6. Kom ons kyk na ’n paar feite oor hoe ons taalgemeenskap tans daar uitsien (volgens die jongste inligting van Statistieke SA):
  • Sowat 77% van die bruin gemeenskap gebruik Afrikaans as hul huistaal en 69% praat die taal ook buite die huis soos, byvoorbeeld, die skool en die werkplek.
  • Sowat 61% wit mense praat Afrikaans in die huis, terwyl 37% die taal ook buite die huis gebruik.
  • Verder gebruik 1% van swart mense Afrikaans as hul huistaal en 1% die taal ook buite die huis (wat die skool en werkplek insluit).

Afrikaans is ’n dinamiese taal wat in verskillende dialekte oor ons landskap gepraat word en vir ’n ryke verskeidenheid mense ’n “tuiste in eie taal” bied, om Jaap Steyn se woorde te gebruik. Dink maar aan Namakwalandse Afrikaans en Kaapse Afrikaans, om maar net twee te noem, met sprekers van Kaapse Afrikaans die grootste groep.

Die bekende skrywer en akademikus, prof. Adam Small, skryf in 1973 in sy voorwoord van Kitaar my kruis soos volg:

“Kaaps is ’n taal in die sin dat dit die volle lot en noodlot van die mense wat dit praat, dra: die volle lot, hulle volle lewe ‘met alles wat daarin is’; ’n taal in die sin dat die mense wat dit praat, hul eerste skreeu in die lewe skreeu in hierdie taal, al die transaksies van hul lewens beklink in hierdie taal, en hul doodsroggel roggel in hierdie taal. Kaaps is nie ’n grappigheid of snaaksigheid nie, maar ’n taal”.

Dr. Willa Boezak. (Foto: DAKnetwerk.com)

Daar het pas in Novembermaand ’n lieflike bundel verwerkings van die Bybelse Psalms in Kaaps deur die bekende teoloog, dr. Willa Boezak, verskyn. Die titel van sy boek is Die Pesalms vi ôse mense (uitgegee deur die DAK Netwerk). Volgens dr. Boezak het hy so versigtig as moontlik die eietydse konteks van die mense wat hierdie streektaal praat, in sy bewerking van die Psalms in ag geneem. Só kon hy die hartstaal van die sprekers van Kaaps bereik.

Lees gerus Pesalm 23 hardop en beleef ’n aangrypende reis van een Afrikaanse hart na ’n ander:

[1]PESALM 23

Die Djirre is my Leader

’n Pesalm van Dawid.

 

1 Die Djirre is my Leader,

ek ’et brood oppie tafel.

2 Hy hou my innie holte van sy hand,

Hy vat my na koel wates

waa vrie’de is.

 

3 Hy gie my niewe krag.

Hy hou my oppie straight n narrow pad,

tot ee van sy Naam.

4 Al kô ek inne donke êllie

gat ekkie bang wiesie,

kôs U is langesan my

safe in U se hanne – even innie graf.

 

5 U invite my virre buffet,

while my enemies moet stanin kyk.

U treat my soese ’n VIP,

en embrace my.

6 U smaail – soe vol liefde –

sallik nooit ve’gietie

en ek voel tys

in U se hys

fô ewwe en ewwe. Amen.

Is die Afrikaanse taalgemeenskap vernuwend op reis in Afrikaans? Ja, ongetwyfeld, geanker in ons hartstaal, beweeg ons aan en verken ander landskappe.

  • Anne-Marie Beukes is die uitvoerende hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.
  • Hierdie artikel is met vergunning van die Granaat, Die Dameskring se tydskrif, geplaas.

[1] Uit: Die Pesalms vi ôse mense, ’n publikasie van DAK Netwerk, Kaapstad, 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaun

Noem dit Kaaps, maar asseblief net nie Kaapse Afrikaans nie, want dis g’n Afrikaans nie. Dis ‘n gebrabbelde mengsel van Engels en Afrikaans – so asof die spreker nie vaardig in een van die twee is nie.