‘Op vakansie’ of ‘met vakansie’? Gids tot Woordeboekportaal

Argieffoto (Foto: Free-Photos, Pixabay)

Ek kry in die week ʼn navraag van ʼn gebruiker: Is dit “op vakansie” of “met vakansie”? Hoekom het ek nie hierdie antwoord op julle app opgespoor nie? Ek gebruik die app gereeld en ek soek al lank na hierdie inligting, maar as ek enige van die twee moontlikhede intik, kry ek ʼn boodskap dat die uitdrukkings nie bestaan nie. Hoekom?

Dis ʼn baie belangrike vraag, en dis belangrik dat elke gebruiker, jonk en oud, weet wat die antwoord daarop is.

Vir die ouer garde wat nog grootgeword het met dik papierwoordeboeke met blaaie wat dunner is as Bybelpapier, gaan die antwoord dalk meer voor die hand liggend wees. Maar vir die jonger generasie wat in die era van digitale soektogte grootgeword het, is dit miskien nodig dat ons moet stilstaan by die aard van woordeboeksoektogte, en hoe om dit so te doen dat jy die antwoord kry wat jy nodig het.

In die eerste plek moet jy onthou dat die bronne in Woordeboekportaal (dis die bronne waartoe jy toegang het via ons VivA-app en webblad) woordeboeke en woordelyste is. Dis met ander woorde nie ʼn gewone internetsoektog in ʼn enorme hoop ongesorteerde inligting wat jy met ʼn frase of ʼn vraag kan onderneem nie. Dis ook nie ʼn korpus (versameling) tekste waarin jy soektogte met ʼn frase kan onderneem nie. Die inligting waardeur jy soek, is op ʼn bepaalde manier gerangskik, en die program wat jou soektog vir jou onderneem, kan nie vir jou antwoorde gee uit inligting wat dit nie raaksien nie.

As jy in woordeboeke soek, soek jy deur woorde wat klaar in ʼn alfabetiese lys gerangskik is. In die ou papierwoordeboeke is hierdie woorde onder mekaar, en dikwels in vetdruk, aan die linkerkant van die bladsy gedruk, en regs daarvan is inligting oor die woord, soos die lettergreepverdeling, die woordsoort, die betekenis, vertaling, herkoms en gebruiksmoontlikhede aangedui. Hierdie vetgedrukte woorde in die alfabetiese lys staan in die leksikologie as “lemmas” bekend, en in Woordeboekportaal is die lemmas die trefwoorde waardeur die program soek. As jy via ons app of webblad soektogte onderneem, soek die program deur die lemmalys, nie deur die inligting wat by die lemma staan nie. Dis nie ʼn tekortkoming in die program nie, dis bloot die manier hoe ʼn mens al van die eerste woordeboek af daarin naslaan. Maar dit beteken dat jy nie in die app “met vakansie” of “op vakansie” kan intik nie, want nie een van dié uitdrukkings is ʼn lemma nie.

Hoe spoor jy dan dié uitdrukkings op? Jy kies die woord (en hier moet jy so ʼn bietjie dink) wat die kern van die uitdrukking vorm. In die geval van “met/op vakansie” is dit maklik – jy tik “vakansie” in, en die app sal vir jou ʼn lys bronne aandui waarin dié lemma voorkom. En dis hier waar die skape van die bokke geskei word: Jy kan nie net sien die woord is in ʼn bron opgeteken en daarom besluit dis bruikbaar nie, jy moet in die bron gaan kyk wat daar oor die lemma geskryf staan.

Daar verskeie soorte woordeboeke en woordelyste in Woordeboekportaal opgeneem. Afhangend van die soort inligting wat jy benodig, gaan jy vir elke soektog waarskynlik ʼn ander bron raadpleeg. Die AWS (Afrikaanse woordelys en spelreëls) is die verstekbron vir spelkwessies. As ʼn bepaalde spelvorm in die AWS opgeneem is, is dit die manier waarop dit gespel moet word, al verskil van die ander bronne. Woordeboeke soos die HAT en WAT verklaar betekenis. Die EWA (Etimologiewoordeboek van Afrikaans) gee herkoms, en Annerlike Afrikaans bevat ʼn lys spreektaaluitdrukkings. Die Departement Kuns en Kultuur het vir ons hulle terminologielyste beskikbaar gestel, en daarin kry ʼn mens vertalings. Dan is daar vakwoordeboeke soos die Chemiewoordeboek, Fisikawoordeboek, Sterrekundewoordeboek en Kuberwoordeboek wat vertalings gee vir vakterme. SkryfGoed se Tesourus is ʼn wonderlike hulpbron vir skrywers en blokkiesraaiselentoesiaste, want dit bevat lyste sinonieme en verwante woorde vir ʼn lemma.

Die woordeboek wat jy veral gaan gebruik vir [voorsetsel + naamwoord]-frases soos “met/op vakansie” is die Tweetalige Voorsetselwoordeboek. Dit is ʼn gratis bron (en jy het dus geen verskoning nie!) waarin jy spesifiek kan gaan naslaan watter voorsetsels saam met ʼn bepaalde naamwoord gebruik kan word. As jy met die woord “vakansie” ʼn soektog doen, kry jy die volgende inligting in die Voorsetselwoordeboek:

Term: vakansie
Uitdrukking(s)
inin (oor) die vakansie / during (over) the holidays
metmet (op) vakansie wees / be (go) on holiday
om: die vakansie is om / the holidays are over (at an end)
opop vakansie word ‘n mens lui / one becomes lazy when on holiday

Die “Term” bo is die lemma (die trefwoord). Links sien jy die voorsetsels wat in Afrikaans saam met “vakansie” gebruik kan word, en regs is daar frases, in Afrikaans en Engels, om aan te dui hoe jy hierdie voorsetsel en “vakansie” saam in ʼn sin kan aanwend. Dit is veral vir tweedetaalsprekers bruikbaar, wat dikwels sukkel met hierdie voorsetselkollokasies (verbindings tussen die woord en die voorsetsel).

Dit help veral ook moedertaalsprekers wat bang is vir anglisismes. Ek kry baie mense wat raas oor “op vakansie” en “op verlof”. So lyk die inskrywing (die lemma plus inligting) vir “verlof”, waaroor mense ook twyfel:

Term: verlof
Uitdrukking(s)
metmet u verlof / by your leave
metmet verlof om te… / with leave to…
metmet (op) verlof wees / be on leave
tot: verlof tot appèl / leave to appeal

Volgens hierdie woordeboek is “met” en “op” reg, en die rasers moet telkens die aftog blaas as ek dit uitwys. Die punt van dié storie? Moenie raai nie en moenie verdwaal nie. Die antwoord oor die korrekte skryfwyse is twee klikke ver.

Een opmerking oor die soektogte: Daar is bronne, ook in Woordeboekportaal, wat wel frases as lemmas opneem. VivA maak self ‘n databasis waarin ons woorde en uitdrukkings opteken, en dié databasis is vir gebruikers toeganklik. Die Varsgebek-inisiatief se inskrywings gaan byvoorbeeld in ons databasis in, plus antwoorde op vrae wat ek van gebruikers kry. In sulke gevalle probeer ek dit vir gebruikers so maklik moontlik maak om die inligting op te spoor, en dan voer ek wel frases as lemmas in. Ander bronne, soos SkryfGoed se Tesourus en die Kollokasiewoordeboek bevat ook frases. Selfs die AWS het al frases in die woordelys, bv. “om verskoning vra”. Dis die soektogte in tradisionele woordeboeke wat die bietjie dinkwerk en twee ekstra twee klikke verg.

Tot slot: Maak seker jy het die nuutste weergawe van die app. Daar is twee weergawes daarvan: ʼn vanlyn en ʼn aanlyn weergawe. Die aanlyn weergawe word weekliks bygewerk, die vanlyn weergawe word elke ses maande bygewerk. As jy ʼn app op jou foon het waarvan die logo die twee kletskouse is, verwyder dit en laai die nuwe weergawe af. So maak jy seker jy het die nuutste inligting tot jou beskikking.

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Ons het dit so geleer, voor vakansie – Ons gaan op vakansie. Terwyl ons op vakansie is – Ons is met vakansie. Maak nie werklik saak, albei ervarings is lekker….
Desember gaan ons Jeffreysbaai toe op vakansie, terwyl ons met vakansie is gaan ons swem in die see.

Paul ·

Hallo Sophia, graag wens ek soos volg kommentaar te lewer oor sekere woorde/anglisismes en uitdrukkings wat in die nuutste AWS opgeneem is, terwyl jy die bogemelde toelig. Ek kom nou en dan ‘n woord op Maroela tee wat ek bevraagteken, een spesifiek was sommer suiwer uit die Engels oorgedra, met spelling en al. As ek by hulle daaroor navraag doen, is die antwoord net eenvoudig dat die so deur die AWS aanvaar word, einde van die storie.

My persoonlike gevoel is om weg te bly van enige nie-Afrikaanse woord wat net ingespan word omdat die anglisisme dalk meer gesofistikeerd ‘of wat ook al’ klink, omdat mense dit praat, ek kry skoon rillings en bou erge weerstand daarteen op. Ek skyf daagliks en weier om enige ‘vreemde’ woord (of terwille-woord) te gebruik, ek soek sommer outomaties die sinoniem en dit wat by my skryfstyl pas – suiwer Afrikaans.

Dan as ek die artikel by die onderstaande skakel lees, is ek baie teleurgestel dat ons nie meer ons taal eer en Afrikaans kan noem nie, veral nie na die nuwe AWS nie, dit is nou gespikkel-Afrikaans.

https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/347-die-duiwel-se-franchise-vers-2-oor-anglisismes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.