Opstelkompetisie: Hier is die wenners

skryf-jou-eie-storie

Argieffoto.

Die wenners van Skoleondersteuningsentrum (SOS) se opstelkompetisie is bekendgemaak.

Daar was drie kategorieë waarin afsonderlik ʼn wenner gekies is. In die intermediêre fase het Deonè-Andri Mouton, ʼn gr. 6-leerder, met die eerste prys weggestap. Mia Steenkamp, ʼn gr. 9-leerder, het eerste prys in die senior fase verower. In die VOO-fase het ʼn gr. 11-leerder, Andrea Naudé, weggestap met die louere.

ʼn Prys is ook toegeken aan die skool met die meeste inskrywings. Dié prys gaan aan Wilma Nel, Laerskool Muldersdrif.

Die tema was  “Afrikaans, my taal ”.  Die wenner van elke afdeling stap weg met ʼn R400-geskenkbewys van SOS en ʼn R500-geskenkpak van Maroela Media.  Die skool met die meeste inskrywings wen ʼn stel Verruklike Afrikaans-plakkate, ʼn jaar lidmaatskap van GeRAT (Die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers) en ’n R500-geskenkpak van Maroela Media.

Hier is die wenopstelle:

Intermediêre fase:  Deonè-Andri Mouton, ʼn gr. 6-leerder van Laerskool Muldersdrif

Ek staan in jou skoene, Afrikaans!

Afrikaans is my kerkskoentaal, my tekkietaal en my skoolskoentaal… Ek staan in jou skoene, Afrikaans!

Sondae het ek my kerkskoene aan wat my kleintoontjies druk dat ek hik. Ek luister na die dominee se suiwer Afrikaanse woorde. Hy praat eerlike Afrikaans en soos my kerkskoene ongemaklik druk, druk die dominee se woorde ook ongemaklik. Woorde soos vergifnis, opregtheid en eerlikheid. My Afrikaans is reguit en eerlik en plaas my soms in ongemaklike situasies waar ek eerlik moet praat en reguit moet wees, al is ek ongewild onder my maats.

Tuis skop ek my kerkskoene uit en trek my tekkies aan. Ek draf en luister na Karen Zoid, Elvis Blue en Bok van Blerk se “gemaklike” lirieke, in my tekkietaal! My huistaal,my praattaal, my maattaal- my Afrikaans waar ‘n gemaklike “ok” uitglip. Ek voel tuis in Afrikaans.

“Staan op, sit stil, boeke oop, leer jou les!” Ek het my skoolskoene aan! In Afrikaans leer ek lees, skryf, somme maak en ontdek nuwe dinge. Ek staan in my skoolskoentaal, my leertaal en is trots om met my mond vol Afrikaanse woorde die toekoms te betree.

Afrikaans my taal- As die skoen jou pas trek hom aan! Ek staan in jou skoene, Afrikaans!

Senior fase:  Mia Steenkamp, ʼn gr. 9-leerder van Hoërskool Ermelo

Afrikaans, my taal

Die taal Afrikaans bestaan al vir meer as negentig jaar. Ek is besonder trots op my moedertaal en deel graag iets omtrent haar unieke verhaal.

Die spore van ons voorouers, slawe sowel as Afrikatale loop deur Afrikaans se are. Dink maar aan ons erfgoed soos carte blanche, lobola, tsotsi, aikôna en aitsa. Bobotie, sosatie en swernoot het deel van ons taalskat geword. Ons kosbaarste besitting bly egter ons eiegoed. Afrikaans se woordeskat vertel stories van die trekpad sowel as die swaarkry van ons voorouers. Dit getuig van lewenslesse wat geleer is, mannemoed, oorlog en gevegte.

Ek verlustig my in ons Afrikaanse spreekwoorde en gesegdes, gebore uit spitsvondige vindingrykheid en so beeldend en gevat. Ons ken mos almal ‘n rissiepit, ‘n rabbedoe of ‘n kekkelbek. Ons weet mos van pootuit wees of noustrop trek. Afrikaans is ook ons volk se hartstaal. Ons gebruik graag troetelwoorde soos skattebol en hartedief. Ons eer en aanbid ook die Here in ons moedertaal.

Afrikaanssprekendes beleef Afrikaans in die natuur. Miskien is daar ‘n piet-my-vrou of ‘n bokmakierie wat sy stem laat hoor. Dalk ruik jy êrens die geur van kambro, katjiepiering of laventel. Iewers gewaar jy dalk ‘n koedoe of ‘n witkruisarend wat koninklik deur die lug sweef. Afrikaans is ook byderwets en hou tred met tegnologie. Ons spog met nuutskeppings soos tuisblad, kletswerwe, slapskryf en slimfoon.

Basta met al die gerugte dat Afrikaans in onbruik gaan raak en uitsterf. Afrikaans, ons moedertaal, is hier om te bly … inderdaad ‘n kanniedood!

VOO-fase: Andrea Naudé gr. 11-leerder van Hoërskool Die Wilgers, Andrea Naudé

My Moedertaal

Afrikaans, my taal… Trots in my hart geplant.

Hierdie taal is so vonkelend en kleurvol, dit laat die biesies bewe met sy kreatiwiteit. Waar anders op aarde vind jy dan ‘n taal met die woorde ‘sompompie’ en ‘pokkelpensie’ in sy woordeskat?

Afrikaans lewe in ‘n wêreld van sy eie. Ons raak verlore in ons woorde en dans in hul oorspronklikheid. Ons versier ons taal deur die letters aan mekaar te snoer. Ons sin vir humor is soos ‘n skerp lig in die donker tonnel wat ons swaar tye vlerke gee. Ons taal is die klokke in die verte, die blomme in die veld, die wolke daarbo, die reën en die reënboog…

Die prag van my taal herinner my altyd aan die lug wat van pienk na rooi verkleur. Ek is so ongelooflik lief vir die taal waarin my woorde dans en baljaar en ek met vrye teuels die woorde kan skryf wat my hart vir die wêreld wil sing.

Afrikaans is ‘n skildery, my mond die kwas en my woorde die verf. Saam maak ons ‘n fenomenale kunswerk wat ‘n pragtige storie vertel. Dis ‘n kuns om met woorde te toor. Gebruik te veel beskrywings en die prentjie verdrink. Te min en die prentjie verdwyn.

Om woorde saam te laat smelt en te keer dat die sinne lomp uit mekaar soos ‘n swak konstruksie val, moet daar ‘n liefde vir die taal wees. Woorde soos ‘hysbakkies’ vir die Engelse woord ‘face-lift’ en dan natuurlik ‘vloermoer’ vir ‘n ‘tantrum’ verdiep my liefde vir my taal en verjaag enige demper op my dag.

Afrikaans, lieflingtaal van my hart en siel. Waar ek myself op papier kan wees, my gedagtes heeltyd op soek na woorde wat sal inspireer. Dit word altyd by my moedertaal gevind. Die veilige plek waarin my gebede en denke gevorm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.