Pedro se vingers ken ook die pad

Pedro Kruger (Foto aan Maroela Media verskaf deur Afrikaans.com)

Pedro Kruger is ʼn ambassadeur van Afrikaans.com. Hierdie onderhoud is een van ʼn reeks wat ons oor dié betrokke ambassadeurs vir Afrikaans publiseer om te wys watter verskil hulle vir Afrikaans maak. – Red

Deur Alita Steenkamp

Met die maak van Klavierkuiers met Pedro, het ’n droom wat Pedro Kruger lankal gekoester het, waar geword. Kleintyd het hy agter die klavier in sy ouerhuis ingeskuif, en dan het vriende en familie heerlik saamgesing terwyl hy op die klawers tokkel. Hoekom dan nie ook om ’n klavier met interessante kunstenaars kuier terwyl die televisiekameras dit vasvang nie, het hy gewonder. Pedro het met die idee van só ’n program voelers uitgesteek en Izelle Venter van Via TV het die jawoord gegee.

Saam met Hennie van Greunen, sy kreatiewe vennoot en Red Pepper Productions, is daar dadelik skouer aan die wiel gesit en uiteindelik het die opnames vir hierdie program in Februarie vanjaar plaasgevind. Al 13 episodes is voor ’n gehoor in die Drostdy-teater in Stellenbosch opgeneem. Vir hierdie nuwe TV-reeks, wat Vrydagaande om 20:00 op VIA (kanaal 145) uitgesaai word, sit Pedro agter die klavier, en dan kom loer 13 spesiale Afrikaanse kunstenaars by hom in die ateljee in. Daar word kopstukke gesels, herinneringe gedeel en die kunstenaar kry ook die geleentheid om ’n paar liedjies saam met Pedro te sing.

Vir sommige van hierdie kunstenaars, wat gewoond is om altyd ’n kitaar byderhand te hê, was dit nogal ’n yslike uitdaging om so effe weerloos voor mense op te tree, maar ’n ieder en elk het hulle baie goed van hul taak gekwyt. Na afloop van elke episode word daar besondere waardering vir Pedro en sy gas op sosiale media uitgespreek. Vir Pedro is dit besonder lekker om op hierdie wyse ’n kunstenaar se loopbaan en lewe te vier, met musiek wat die goue draad vorm wat deur hulle almal se lewe loop.

Hennie van Greunen het op sy beurt uitstekende navorsing gedoen en met die kunstenaars se familie en vriende gesels en so interessante staaltjies en stories raakgeloop waarmee die kunstenaar dan op die program verras word. Saam met die stories en staaltjies is daar foto’s wat wonderlike herinneringe uitlok. In die eerste vier episodes wat reeds uitgesaai is, was Anna Davel, Jay du Plessis, Emo Adams en Corlea Botha Pedro se gaste. Op die lysie van kunstenaars wat nog saam met Pedro gaan kuier is daar Coenie de Villiers, Valiant Swart, Lize Beekman, Kurt Darren, Mynie Grové, Heinz Winckler, Nicholis Louw, Jak de Priester en Snotkop.

In Maart vanjaar het Pedro ook die geleentheid gekry om sy lyf akteur te hou in die tweede reeks van die suksesvolle Boekklub. Hy was in Graad 8 toe hy as Benjamin Komoeti die verhoog gedeel het met Shaleen Surtie-Richards in die verhoogproduksie van Fiela se kind wat in die destydse Nico Malan teater opgevoer is. Hierna het baie ander musikale produksies, maar ook verhoogstukke gevolg soos onder meer die briljante Dinsdae met Morrie waarin hy die student gespeel het wat op ’n Dinsdag by sy professor gaan kuier, en so wonderlike lewenslesse geleer het. Chris van Niekerk was te sien as die professor. Pedro hy baie dankbaar vir hierdie kans in Boekklub om weer as akteur saam met van sy wonderlike vriende in die vermaaklikheidsbedryf te werk.

Nie net is Pedro ’n bekroonde akteur, musikant, regisseur, liedjieskrywer, vervaardiger, pianis en aanbieder nie, sy voetspoor in die Afrikaanse samelewing is besonder groot. In 2016 het hy aangesluit by die span ambassadeurs vir Afrikaans.com. Saam met Hennie van Greunen en hulle teatermaatskappy, Wordsmith Theatre Factory, lewer hulle ’n besondere bydrae tot die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. Hierdie maatskappy is een van die mees suksesvolle selfonderhoudende teatermaatskappye wat Afrikaanse teater skep.

Vir Pedro is dit heerlik om in Afrikaans te skep, te skryf en kreatief te wees. Die geleentheid om die stuk Lyf, wat Hennie van Greunen in Afrikaans geskryf het en in Engels as Normality vertaal is, in 2009 na die Edinburgh Kunstefees en New York te neem, was ’n hoogtepunt vir Pedro, juis omdat Afrikaans op daardie manier behoorlik sy stempel op die internasionale arena kon afdruk. Pedro was verantwoordelik vir die musiek van hierdie produksie.

Normality het in Edinburgh uitstekende resensies gekry, en het ook die Hidden Gem-prys gewen. Die stuk is ná die sukses van Edinburgh uitgenooi na die United Solo Festival op Broadway, New York waar dit die prys gewen het as die beste musiekgedrewe produksie. Beslis ’n eerste vir enige Suid-Afrikaanse produksie.

“Om ’n sukses te maak op die wêreldverhoog, en jy weet die stuk is oorspronklik in Afrikaans geskryf, laat my hart warm klop. Dit is my manier om ’n bydrae tot ons taal te maak. Ek was ook tot aan die einde van 2016 as kursusleier en kreatiewe-hoof betrokke by die ATKV se Crescendo Liedjieskryfskool en het ook as beoordelaar by die ATKV se jaarlikse Tienertoneelkompetisie opgetree. Afrikaans is die taal waarin ek dink en voel, en juis met kompetisies soos Crescendo is dit heerlik om te sien hoeveel vertakkings daar in Afrikaans is.

“Ek is nou 30 jaar in die bedryf, en kan regtig sê: Been there, done that, and got the T-shirt. Dit was vir my heerlik om ook nou met Klavierkuiers met Pedro as televisieaanbieder te kon werk en so ook hierdie droom te bewaarheid. Ek wil ook baie graag as mentor optree vir ’n jonger generasie kunstenaars en my kennis en ondervinding met hulle deel. Dan kan hulle eerder fokus op die kreatiewe aspekte van hulle loopbane sonder om dieselfde foute te begaan as wat ons het. Hulle vars uitkyk op alles is baie opwindend en ek leer weer soveel by hulle. Tog is dit nog glad nie tyd om agteroor te sit nie en ek en Hennie gaan steeds volstoom voort met die vervaardiging van Afrikaanse teater. Daar is immers nog soveel wonderlike stories om te vertel!” sê Pedro.

Lees meer oor Pedro as Afrikaans.com ambassadeur.

Afrikaans.com poog om ʼn nuttige saamkomplek vir gebruikers van Afrikaans te skep en die voortou te neem in die skep van ʼn aanlynbeweging wat Afrikaans positief bemark en beïnvloed.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.