Pendoring 2016: Opskud, inskrywings sluit binnekort

www.pendoring.co.za

www.pendoring.co.za

Die gesogde Pendoring-toekennings is om die draai en advertensies wat van 1 Augustus 2015 tot 31 Julie 2016 uitgesaai/gepubliseer is, kan nou ingeskryf word. Inskrywings word aanlyn gedoen by www.pendoring.co.za en die sluitingsdatum is Maandag, 1 Augustus 2016.

Die finaliste word Vrydag, 16 September 2016 aangekondig.

Die pryse vir die beste skeppende werk sluit die volgende in:

  • R100 000 (oorsese studiereis) elk vir die Prestige- en Umpetha-wenner.
  • Vir studente is daar twee pryse van R10 000 elk op die spel – R10 000 vir die beste Afrikaanse inskrywing en R10 000 vir die beste inskrywing in een van die ander inheemse tale.
  • R6 000 vir wenners van ’n goue Pendoring.
  • R2 500 vir wenners van ’n silwer Pendoring.
  • Die kliënt van die Prestige-wenner ontvang gratis mediablootstelling van Pendoring se vennote.
  • Die wenner van ’n goue Pendoring in die radiokategorie ontvang handelslugtyd ter waarde van R75 000 van OFM, mits die bekroonde advertensie op OFM geskeduleer was. In die geval van meer as een wenner kry elke wenner handelslugtyd ter waarde van R50 000 van OFM, mits die bekroonde advertensies op OFM geskeduleer was.

Die beoordelaars van vanjaar se Pendoring-reklametoekennings is pas bekend gemaak en dit is, soos altyd, ʼn paneel om mee rekening te hou.

“Die geloofwaardigheid van die toekennings is vir Pendoring ’n prioriteit. Om werklik uitnemende reklame te bekroon, is uitnemende beoordelaars nodig, en ná ’n deeglike siftingsproses en gesprekke met kenners uit die bedryf, glo ek ons het ’n paneel beoordelaars van die boonste rak saamgestel,” sê Franette Klerck, hoofbestuurder van die Pendoring Reklametoekennings.

“Pendoring is 21 jaar gelede gestig om agentskappe met erkenning en prysgeld aan te moedig om in skeppende en oorspronklike Afrikaans te adverteer. Sedertdien het die toekennings ontwikkel tot ’n omvattende veldtog wat daarop gemik is om ’n groter bewustheid te skep vir die krag van huistaal-kommunikasie vir ’n teikenmark – hetsy Afrikaans, Zoeloe, Xhosa of ’n ander inheemse taal.

“Daarom is daar vanjaar net een beoordelaarspaneel aangesien al die inskrywings (dus al die tale behalwe Engels) op gelyke voet met mekaar meeding om toekennings,” voeg sy by.

Die beoordelaars is:

  • Susan Aukema, vryskutkunshoof
  • Paul de Klerk, uitvoerende skeppende hoof, Etiket
  • André de Wet, groephoof: kopieskrywer, FCB, Kaapstad
  • Antoinette Johnson, senior kopieskrywer, Ogilvy, Johannesburg
  • Festus Masekwameng, besturende vennoot en uitvoerende direkteur, MKT Media
  • Jacque Matthee, uitvoerende skeppende hoof, Y&R, Johannesburg
  • Qingqile Mdlulwa, uitvoerende skeppende hoof, Connect & More
  • Freda Raubenheimer, kunshoof, Joe Public
  • Sbu Sitole, skeppende hoof, The Odd Number
  • Molefi Thulo, skeppende hoof, Ogilvy, Johannesburg
  • Zwelakhe Zee Tshabangu, besturende direkteur en uitvoerende skeppende hoof, Dashboard  Africa
  • Tian van den Heever, skeppende hoof, FCB, Johannesburg
  • Marius van Rensburg, uitvoerende skeppende hoof, Ninenty9cents Communications
  • Deon Wiggett, uitvoerende skeppende hoof en stigtersvennoot, Famous Copy

“Ek gaan beslis let op die vlak van vernuf. Ek verlustig my daarin as goeie insig en idees verhef word tot uitstekende kommunikasie,” sê Molefi Thulo, skeppende hoof van Ogilvy, Johannesburg.

Volgens André de Wet, groephoof: kopieskrywer van FCB, Kaapstad, gaan hy soek na ’n “hoekom-het-ek-nie-daaraan-gedink-nie”-gevoel wanneer hy die inskrywings beoordeel. “Jaloesie is gewoonlik die eerste teken dat werk vir my goed is. Tweedens moet dit in een van ons inheemse landstale werk – dis tog wat Pendoring so ’n unieke toekenning maak.”

Deon Wiggett, uitvoerende skeppende hoof en stigtersvennoot van Famous Copy, sê hy soek maar altyd na dieselfde ou goed: knap, relevante en boeiende werk. “Dis lekker dat taal nie vanjaar saak maak nie – dit gee ons die geleentheid om behoorlik te kyk na ál die SA werk wat nie in Engels geskep is nie. Ek dink ons gaan ’n klomp werklik interessante werk sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.