Pendoring: Die wêreld wink… as jy inskryf

Innoverende, veeltalige agentskapswoordeboek (Foto: Pendoring)

Innoverende, veeltalige agentskapswoordeboek (Foto: Pendoring)

Verbeel jou, jou droom het waar geword en jy is op pad na die 2017 Cannes-reklamefees. Behalwe om jou te verlustig in die beste skeppende werk wêreldwyd, kan jy dalk skouers skuur met die groot koppe in die reklamewêreld. Sonder dat dit jou ’n sent kos!

Danksy Pendoring is dit presies wat op Dominique Swiegers wag. Dominique, wat deel was van King James Kaapstad se span wat laasjaar met Pendoring se Prestige-toekenning weggestap het, is binnekort op pad Cannes toe. Dink net, as jy die Prestige-toekenning met jou beste werk wen, kan jy volgende jaar in haar voetspore volg.

Die wenner van die Umpetha-toekenning kan vanjaar ook sy/haar drome vleuels gee want die Umpetha-toekenning is nou ook ’n oorsese studiereis ter waarde van R100 000.

Boonop staan die wenner van die Prestige-toekenning se kliënt ’n kans om gratis advertensieruimte en lugtyd van deelnemende mediaborge te wen.

“Ons weet geen taal oorleef in isolasie nie, daarom is ons heel opgewonde oor dié kans om al ons inheemse tale se beste reklamewerk op een platform te sien en te vier,” sê Izelle Venter, Pendoring-direksielid en kanaalhoof, VIA TV / Media24.

Die agentskap agter vanjaar se Pendoring-veldtog is King James Kaapstad, wenner van verlede jaar se Prestige-toekenning vir sy Sanlam Musiekfees-veldtog.

Verenig deur taal

“Ons wil die boodskap dat Pendoring van vanjaar af die beste bemarkingskommunikasie beloon ongeag of dit in Afrikaans, Ndebele, Pedi, Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa of Zoeloe is, op ’n eerlike maar aangrypende manier oordra,” verduidelik die King James-span.

“In so ’n uiteenlopende land soos ons s’n, is ons geneig om die baie verskillende inheemse tale as ’n struikelblok te sien maar ons wil met ons veldtog Suid-Afrikaners daaraan herinner dat baie inheemse tale iets moois is, iets om te vier, iets om ons te verenig.

“In ware King James-gees het baie mense oor verskillende dissiplines heen saamgewerk om reg te laat geskied aan Pendoring se nuwe posisionering. Die geleentheid om kragte saam te snoer met die 2016 Pendoring-veldtog het ons opnuut laat besef hoe gelukkig ons is om in ʼn land met so baie tale te bly en deel te wees van so ʼn kleurryke kaleidoskoop,” voeg hulle by.

Benewens gedrukte, aanlyn- en TV-uitvoerings, behels die veldtog ook ʼn eiesoortige woordeboek wat ontwerp is om die reklamegemeenskap te help om met hul kollegas te “konnekteer”, sê die span.

Pryse

Net die wenners van goue trofeë ding mee om die twee hoofpryse, naamlik die Prestige- en die Umpetha-toekenning wat elkeen ʼn oorsese studiereis ter waarde van R100 000 is.

Elke goue wenner in elke kategorie wen R6 000 en silwer wenners wen R2 500.

Albei algehele studentewenners – van die beste Afrikaanse werk én die beste werk in enige van die ander inheemse tale – ontvang elk R10 000 kontant plus ’n internskap by King James Kaapstad vir 2017.

Belangrike datums

Advertensies wat van 1 Augustus 2015 tot 31 Julie 2016 uitgesaai/gepubliseer is, kan ingeskryf word. Die finaliste word op Vrydag, 16 September 2016 aangekondig en die wenners op 28 Oktober by die glansryke gala-aand by Vodacom World, Midrand.

Skryf in vóór 1 Augustus 2016 op www.pendoring.co.za

Sluit aan by die Pendoring Facebook-groep of volg @Pendoring_ op Twitter en gebruik die hutsteken #Pendoring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Xa ·

Baie goeie besluit van pendoring om oop te maak vir ander tale ook. Afriforum moet in die algemeen meer saam werk (verskoon as jul dit reeds doen en ek nie weet nie) om ander tale en rasionele mense van ander groepe saam met Afrikaans en Afrikaners te beskerm, dalk ander groepe help om soortgelyke organisasies as susters organisasies te stig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.