PG du Plessis-versameling kom ‘huis toe’

Deur Ilze Nieuwoudt

Foto: Verskaf

Sowat 400 km van sy Wes-Transvaalse plaas, Sémoér, het die inhoud van die skrywer PG du Plessis se studeerkamer uiteindelik ’n finale bestemming bereik.

’n Wavrag van Du Plessis se boeke, lêers met dokumente, plakkate van toneelstukke en fotomateriaal het vroeër vandeesmaand as’t ware huis toe gekom en sal nou as versameling by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein gehuisves word.

Foto: Verskaf

Du Plessis, onder meer ’n medestigter van NALN, is in Junie verlede jaar in die ouderdom van 82 oorlede en sy omvangryke literêre nalatenskap het deur dié skenking ’n logiese tuiste by die sentrum gevind. Volgens Leana Lategan, waarnemende bestuurshoof van NALN, het onderhandelinge met Marie du Plessis oor die moontlike bemaking van die inhoud van haar oorlede man se studeerkamer vroeër vanjaar afgeskop. Mev. Du Plessis was boonop duidelik daaroor dat dit haar man se wens was dat sy literêre kosbaarhede, en veral sy boekery in geheel, ná sy afsterwe aan die museum geskenk moet word.

Die versameling sal uiteindelik in ’n toeganklike en besoekersvriendelike uitstalling geplaas word, maar vir eers lê ’n intensiewe ontsluitingsproses voor. “Hoewel daar in hierdie stadium nog nie ’n aanduiding is van die aard van die inhoud van die skenking nie, kan ’n mens met ’n eerste deurblaai deur ’n paar lêers reeds oorspronklike handgeskrewe manuskripdokumente identifiseer,” verduidelik Lategan.

Foto: Verskaf

Intussen kan die bestaan van ongepubliseerde skryfwerk uit die versameling van dié meesterskrywer nie uitgesluit word nie. “Wanneer die ontsluitingsproses begin, sal ons weet of daar moontlike ongepubliseerde fragmente ter sprake is en sal ’n mens kan begin om kreatief verbande te probeer lê tussen bestaande tekste en ongevormde dinkwerk,” sê Lategan.

Verskeie kundiges en organisasies, waaronder die Erfenisstigting en AfriForum, het die tuiskoms van Du Plessis se versameling moontlik gemaak. Onder die kundige oog van dr. Tom Larney, afgetrede hoof van die Ferdinand Postma-biblioteek by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, en personeel van die Erfenisstigting is die versameling verpak en gesorteer.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die vervoer van die versameling vanaf Du Plessis se plaas na Bloemfontein befonds.

Foto: Verskaf

Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, meen die versameling sal ’n waardevolle bydrae tot die bestudering van Du Plessis se werk maak. “Hy [Du Plessis] sal onthou word vir sy vermoë om mense so lewensgetrou, maar met deernis uit te beeld. Enigeen wat hom en sy werk in die toekoms wil bestudeer, sal nou die voorreg hê om deur die versameling meer oor hom te wete te kan kom.”

PG (Pieter Georg) du Plessis is in 1934 op die Vrystaatse dorpie Boshof gebore. Sy skryfwerk – waaronder verskeie dramas, draaiboeke, kortverhale, rubrieke en romans – het sedert die laat 1960’s Suid-Afrikaanse teatergangers en lesers laat regop sit. In 1969 debuteer hy met die drama Die nag van Legio. Verskeie ander bekroonde dramas sou hierop volg, waaronder Siener van die suburbs en ’n Seder val in Waterkloof in onderskeidelik 1971 en 1977.

Foto: Verskaf

In die 1980’s breek ’n vrugbare periode as kortverhaalskrywer vir Du Plessis aan en in dié tyd verskyn onder meer sy gewilde Koöperasie-stories. Hiermee het Du Plessis ’n nóg dieper plek in die harte van lesers én kykers van die latere televisiereeks losgeskryf. Dit sou uiteindelik sy meesterstuk Fees van die ongenooides (2008) wees wat waarskynlik sy grootste nalatenskap sou word.

Of dit Genis en sy Koöperasie-stories is, Siener se Tiemie of Jakes, of die wel en wee van die Van Wyks in Fees van die ongenooides – daar is soveel in Du Plessis se werk wat waardeer kan word en wat nou in meer diepte vir elke Du Plessis-aanhanger bewaar sal word. ’n Digitale indeks van die versameling sal na afloop van die ontsluitingsproses aanlyn by NALN beskikbaar gestel word. Besigtiging van die inhoud van dié versameling sal dan ook aan die publiek oopgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.