Praat saam oor Afrikaans by die Suidoosterfees

Bladsy uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) (2013)

Die stand van Afrikaans by Suid-Afrikaanse universiteite kom op 29 April weer onder die loep wanneer die Afrikaanse Taalraad ʼn Jakes Gerwel-gesprek oor dié onderwerp by die Suidoosterfees in die Wes-Kaap aanbied.

Ria Olivier, projekbestuurder vir die Afrikaanse Taalraad, sê dié gesprek, onder leiding van Freek Robinson, beloof om die klem van praat na doen te verskuif en nuwe lig op die voortdurende taaldebat te werp.

Die paneellede is proff. Angelique van Niekerk (Universiteit van die Vrystaat), Wannie Carstens (Noordwes Universiteit), Rufus Gouws (Universiteit Stellenbosch) en Steward van Wyk (Universiteit van die Wes-Kaap).

“Die groot gaping tussen die huidige werklikheid en die Gerwel-kommissie se aanbeveling in die 1990’s dat minstens een noordelike en een suidelike universiteit vir Afrikaanse studente voorsiening behoort te maak, sal vooropstaan in die gesprek,” sê Olivier.

Die doel van die gesprek is uiteindelik om ʼn praktiese, probleemoplossende benadering tot meertaligheid te volg.

“Die paneel sal idees oor die doeltreffende hantering van taaldiversiteit in die verskillende universiteitskontekste bespreek, asook die verskillende rolle van Afrikaans as onderrig- en leertaal, administratiewe taal, kultuurtaal en gemeenskapstaal.”

Suksesvolle meertaligheidsmodelle in universiteite elders in die wêreld sal as voorbeelde dien. Daar sal ook gefokus word op praktiese oplossings om Afrikaans as universiteitsvak te bestendig en uit te bou onder moedertaal-  én niemoedertaalsprekers.

Die gesprek word Saterdag 29 April, van 12:00 – 13:00, by die Kunstekaapteater aangebied. Toegang is gratis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Boerseun ·

Kan ek asb verstaan hoekom al die gesprekke oor Afrikaans net in die Kaap gehou word? Is die broederbond nogsteed in beheer van die Afrikaner? Tyd dat die Afrikaner homself identifiseer in die 2 groepe wat daar is, Boere en Kapenaars en in hulle veskillende rigtings gaan.

reinhardt ·

Ek stem soortvan saam. Ek voel ons moet almal saamstaan en dat die Kaap die uiteindelike toekoms van Afrikaners gaan wees, maar terselfde tyd het ek myself nog nooit n boer genoem nie en sal ook nie, ek het groot geword in die Kaap. Ek dink ook dis cool dat ons twee verskillende groepe kan wees, maar ek weet nie of dit prakties is nie. Eerslikwaar, is dit ooit prakties dat ons een groep is? Die wit mens gaan nie die 22ste eeu haal in SA nie.

John ·

1) Dis daar omdat kapenaars baie slimmer as diegene in die noorde is; 2) Omdat kapenaars alleenlik kundig is oor rugby; 3) Net Tafelberg ‘n regte egte berg is;4) Net kapenaars ‘eek’ reg uitspreek; 4) Daar nooit weer enige Afrikaanse universiteit in die Kaap tot stand sal kom nie, want almal daar praat eintlik Engels met die kelners wanneer hulle ‘n restaurant besoek;
5) Omdat goedkoop wyn nog goedkoper in die Kaap is en ware Afrikanerskap op die feeste vroliker op soet tonge gedy; en 6) Ver van ons goed is mos ver van ons skade.. lui ‘n ou kaapse spreekwoord mos… ja, mos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.