Prysgeld van R500 000 vir wetenskaplike werk in Afrikaans

(v.l.n.r.) Magdaleen van Wyk, prof. Andreas van Wyk, Ton Vosloo (uittredende voorsitter van Naspers), Anet Pienaar-Vosloo Foto: Anton Jordaan (verskaf)

(v.l.n.r.) Magdaleen van Wyk, prof. Andreas van Wyk, Ton Vosloo (uittredende voorsitter van Naspers), Anet Pienaar-Vosloo Foto: Anton Jordaan (verskaf)

Prysgeld van R500 000 sal van aanstaande jaar deur Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF) in samewerking met die Universiteit Stellenbosch en Naspers toegeken word aan ’n akademikus of navorser wat in Afrikaans werk en sodoende die taal se aansien as wetenskap- en akademiese taal uitbou.

Die Jan H Marais-prys, die grootste van sy soort vir Afrikaans, is Saterdagaand (30 Mei 2015) deur prof Andreas van Wyk, voorsitter van HJMNF, bekendgestel by ’n dinee waar die 100-jarige bestaan van die Fonds gevier is.

Die dinee het by die Jannie Marais-huis op Coetzenburg plaasgevind. By die geleentheid is ook erkenning gegee aan “Stellenbosch se weldoener”,  Johannes Henoch Marais (1851-1915), wat Saterdag presies 100 jaar gelede oorlede is.

Die oggend is ’n kranslegging by Marais se graf op Papegaaiberg gehou.

“Hierdie prys sal akademiese  werk en publikasies op hoë vlak en van hoë gehalte in Afrikaans bekroon,” het Van Wyk gesê. “Die prys word in samewerking met Naspers en die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied, wat elk tot die prysgeld bydra.”

Van Wyk het verduidelik die saadjie vir die prys is deur prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, geplant.

Jannie Marais (Foto verskaf)

Jannie Marais (Foto verskaf)

“Ná sy aanwysing as die volgende rektor van die US verlede jaar, het hy in ’n onderhoud gevra waar die ondersteuning van buite is vir die ontwikkeling van Afrikaans as akademiese taal. Hy het daarop gewys finansiële aansporing kan nie net van die Universiteit af kom nie. Hierdie prys is ’n reaksie op sy uitdaging,” het Van Wyk gesê.

Beoordeling sal gedoen word deur ’n komitee van vooraanstaande plaaslike en internasionale akademici en wetenskaplikes wat jaarliks saamgestel word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Die eerste oorhandiging sal op 26 Mei 2016 in Stellenbosch plaasvind. Die prys sal elke jaar in Stellenbosch oorhandig word. HJMNF stel geen vereistes oor hoe dit aangewend moet word nie en die ontvanger kan dit na goeddunke gebruik.

Werk in alle dissiplines – geesteswetenskappe, natuurwetenskappe, gesondheidswetenskappe en tegnologie – binne en buite Suid-Afrika kan genomineer word.

Die Fonds het in 1915 tot stand gekom danksy ’n erflating van Jan Marais. Danksy versigtige en deurdagte bestuur staan dit vandag meer as R1 miljard sterk.

Dit was ook danksy oom Jannie – soos studente hom graag noem – se nalatenskap van £100 000 (vandag sowat R100 miljoen werd) dat die US in 1918 uit die Victoria Kollege kon ontstaan. Marais het ook kort voor sy dood £30 000 geskenk vir die totstandkoming van die destydse Nationale Pers Beperkt (vandag Naspers) en die dagblad De Burger (vandag Die Burger).

HJMNF skenk jaarliks meer as R20 miljoen aan skole, universiteitsprogramme, hospitale, kultuurprojekte, regsklinieke en verskeie ander organisasies en projekte in veral Stellenbosch. Deur sy betrokkenheid by onder meer die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en ondersteuning aan uitvoerende kunstenaars strek die hulp van die Fonds ook landswyd.

Die boek, Nalatenskappe sonder einde: Die verhaal van Jannie Marais en die Marais-broers , deur die historikus Pieter Kapp, emeritus-professor aan die US, is by die dinee bekendgestel. Uittreksels uit Die goeie gewer, Herman Binge se dokumentêre film oor Jannie Marais, is ook by die geleentheid vertoon.

Twee uitstallings wat die lewe van Jannie Marais en sy broers uitbeeld, is tot einde Junie in onderskeidelik die US se biblioteek en die Jannie Marais-huis (deesdae die setel van Maties Sport) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gina ·

R500 000.? Daar is mense wat besig is om te vergaan van die verhonger. Maar die gesegde sê die armes sal meer verarm en die rykes nog meer ryker. In plaas van al die geld, hoekom nie vir die mense gee wat so verskriklik swaar kry nie. Hoeveel mense daar buite sit met geleerdheid maar geen werk? Dit maak net nie sin nie

Peet Schabort ·

Veels geluk vir goeie bestuur van die fonds en skenkings waar dit hoort.
Hou net die sokkerbase weg!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.