R50 000 se prysgeld vir radiodrama-skrywers

Argieffoto

Argieffoto

Die wenners van vanjaar se RSG en Sanlam se Radiodrama-skryfkompetisie deel weer eens in die prysgeld van R50 000. Die wenner van die 2014-kompetisie sal R22 000 en die naaswenner R12 000 ontvang.

Die wenner van die derde prys ontvang boonop R8 000 en daar is ook ‘n prys vir ‘n skrywer jonger as 30 jaar, wat ook R8 000 is.

Daar is geen voorgeskrewe tema nie, solank dit net ‘n nuwe en oorspronklike radiodrama is. Geen verwerkings of stukke wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

Die volle spektrum van Afrikaans kan gebruik word, maar die inskrywings word beperk tot slegs een drama per persoon.

Die duur van die dramas moet tussen 40 en 50 minute wees – sowat 45 A4-bladsye wat volgens die wedstrydreëls getik is.

‘n Volledige handleiding wat ook die reëls en inskryfvorm bevat, is gratis op RSG se webblad beskikbaar. Daar is ook ‘n spesiale blad met skryfwenke vir nuweling-skrywers, asook diegene wat graag hul skryftalent wil skaaf.

Die sluitingsdatum is Maandag 21 Julie 2014.

Daar sal ook gratis slypskole in samewerking met Sanlam in Kaapstad én Johannesburg aangebied word en meer besonderhede sal in Februarie en Maart op RSG aangekondig word.

RSG ontvang jaarliks tussen 100 en 130 nuwe radiodrama-tekste vir dié gewilde kompetisie.

Verlede jaar se wen-dramas word vanaf April op Donderdae om 20:00 in Radioteater op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Vrypas deur die akteur Marcel van Heerden, wat die 2013-kompetisie gewen het, word ook in hierdie Radioteater-seisoen gehoor.

Besoek RSG se webblad om op hoogte te bly of om die kompetisie se handleiding af te laai. Kyk onder die hofie “Wat gebeur”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.