Raak woordslim met die VivA-app

viva appDie stigting van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), het sopas hulle splinternuwe, gratis app amptelik bekend gestel.

Die app, wat op enige slimfoon of tabletrekenaar afgelaai kan word, gee gebruikers kitstoegang tot betroubare Afrikaanse taalbronne, sonder om aan die internet gekoppel te wees. Woordeboeke in die app sluit onder andere die woordelys van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), asook die tesourus en woordelys van die bekende speltoetser van CTexT® se Afrikaanse SkryfGoed in, om maar net drie te noem.

Een van die opwindendste aspekte van die Android-weergawe van die app is dat gebruikers wat onseker is oor die spelling van ʼn woord, die regte spelling kan vasstel deur Google Voice te gebruik. “As jy byvoorbeeld nie weet hoe om ‘interessant’ te skryf nie, kan jy die woord sê, en dan verskyn die juiste spelling op jou skerm,” verduidelik prof. Gerhard van Huyssteen, VivA se uitvoerende direkteur.

Hoewel enigeen die VivA-app kan gebruik, wil VivA dit spesifiek onder jongmense bemark. “Vandag se skoolkinders en studente moet oor vyftig jaar steeds Afrikaans kan praat, en daarom wil ons vir hulle die tegnologie gee om Afrikaans te kan gebruik,” sê Van Huyssteen. “Dit is belangrik om te onthou dat ʼn taal leef waar sy gebruikers leef. As Afrikaanse gebruikers op rekenaars en mobiele toestelle leef, dan is dit dáár waar Afrikaanse hulp en toepassings ook beskikbaar moet wees.”

Van Huyssteen is veral ook opgewonde oor die insluiting van Protea Boekhuis se Kuberwoordeboek en ʼn splinternuwe Entrepreneurskapwoordeboek. “Dit gee vir mense die woordeskat om in ‘n digitale en sake-omgewing met mekaar in Afrikaans te kan gesels.”

Die app is beskikbaar op die Google Play Store sowel as die iPhone App Store.

Op www.viva-afrikaans.org sal gebruikers in die toekoms in ʼn nog groter verskeidenheid woordeboeke soektogte kan doen. Vir ʼn beperkte tydperk kan geregistreerde gebruikers gratis in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) soektogte doen. Later in die jaar sal gebruikers daarop kan inteken, asook op die splinternuwe HAT, die Etimologiewoordeboek van Afrikaans en ʼn blokkiesraaiselwoordeboek. Vele spesialiswoordeboeke, waaronder RSG se uitspraaklys, sal ook met verloop van tyd beskikbaar gestel word.

“Ons Woordeboekportaal is maar net die eerste van VivA se produkte en dienste,” verduidelik Van Huyssteen. Later in die jaar word ʼn taaladviesdiens bekend gestel, terwyl VivA se terminologiediens vroeg in 2016 van stapel gestuur word. Ander inisiatiewe sluit onder andere in ʼn blog waar mense saam kan gesels oor taalsake, webinare, ʼn platform waar mense deur groot versamelings tekste kan soek en ʼn omvattende beskrywing van Afrikaans se grammatika.

Japie Gouws, voorsitter van die VivA-direksie en besturende direkteur van die ATKV-groep, voel dat VivA ʼn unieke geleentheid is om Afrikaans as inklusiewe taal op digitale platforms te vestig. “Die direksie, stigterslede en ander belangstellendes glo dat VivA oor vyf jaar goed gevestig gaan wees en gebruik gaan word as een van die belangrikste taalplatforms in die wêreld,” verduidelik Gouws.

VivA se stigterslede is die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die ATKV, Dagbreek Trust en Noordwes-Universiteit. Daarbenewens dra die Atterbury Trust, Afrikaanse Taalraad, AfriForum, die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®), Fonds Neerlandistiek Suid-Afrika, die PUK-Kanselierstrust en Vriende van Afrikaans ook finansieel by tot die instituut se werksaamhede.

Oops! We could not locate your form.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette ·

Ek is redelik teleurgesteld. Ek het gehoop die direkte vertaling van Engels sal verminder word. Nou praat hulle selfs van “app” en nie van ‘n toepassing nie. Met die onderhoud op RSG het ek dieselfde opgemerk. Suiwer Afrikaans word glad nie bevorder nie.

Anon ·

Ek hou van die woord “app”, want dit is wat dit is. My siening: Mens kry nie so ding soos ‘n “toep” nie; vir my is dit net ‘n opgemaakte woord.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.