Redakteursbrief: Afrikaans – die taal waarin jou hart grootword

Bladsy uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (5de Uitgawe)

Bladsy uit die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (5de Uitgawe)

Op Afrikaanse Taaldag vanjaar leer ek ʼn splinternuwe woord: duikel.

Ek probeer darem so gereeld moontlik ʼn nuwe woord aanleer, maar die verrassing is dat dit ʼn 17-jarige jong man van ʼn seunskool is wat dié woord tot my woordeskat toevoeg.

Ek woon Donderdag ʼn Afrikaanse Taaldag-viering by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria by, en te midde van al die ander feestelikhede lewer die onderhoofseun van die skool, Jan-Anton Theron, ʼn toespraak oor die mooigeit van Afrikaans. “Ons taal se woorde sing. Hulle duikel en slaan bollemakiesie,” sê hy.

Al die rooi liggies in my kop gaan net daar aan’t gloei. Hy het seker bedoel dartel, dink ek en mis die volgende drie paragrawe van sy toespraak terwyl ek probeer uitwerk of dit moontlik is dat ʼn 17-jarige my taalkennis nou net ore aangesit het.

By die kantoor gekom, soek ek dadelik die woord in die HAT op. Daar staan dit. “Duikel: Al duikende beweeg, of bollemakiesie slaan, tuimel; ʼn Vis wat in die water duikel.”

Hoe mooi.

…eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipressie tot ʼn vlam verwring.

In reaksie op dié gedig van DJ Opperman, “Vincent van Gogh”, sê Maroela-leser Elizabeth vroeër dié week: “Ai, Opperman kon darem die taal laat sing!”

Chris Chameleon se liedjie “Die taal van die liefde” praat só oor Afrikaans: “my hart het in my taal grootgeword”.

In een van sy Griekwapsalms, “Psalm 8”, skryf Hans du Plessis:
dasie ʼn lantie so ver of woes geleë
Jirre, sos dié sandland wat U vi my kom gee
want selfs in hierrie dro annerlikheid
groei die gemsbokkomkommer van u heerlikheid

CM van den Heever skryf in 1956 in “Somer” só in die mooiste Afrikaans:
“Op die stoep is dit koel. Voor hulle doem die nagvorm van die randjie op en daaragter tril die sterre met ʼn helderheid soos alleen die somernagte ken.”

Op ʼn ligter trant span Joffel van der Westhuizen in die hengelstorie “Mobydickinus Carpus” uit sy boek “As’t ware – hengelkluitjies in vissous” ons mooie taal só in: “Die volgende oomblik skree daai houtkratrol asof dit van blik gemaak is… Seun wou nog iets kwytraak – seker weer spog – toe peil ʼn ding soos ʼn befoeterde torpedo op ons af. Dit laat ʼn fosforstreep in die water en dit lyk of die dam soos die Rooi See in twee gekalwe word. Die waterwalle bol in die kollig soos ʼn dromedaris se twee boggels.”

My eie meisiekind sê so op vier jaar rond eendag vir my: “Mamma, skuif net ʼn bietjie op, ek wil graag hier langs jou inknus.” En ons seunskind sê omtrent op dieselfde ouderdom oor sy gunsteling-dogtertjiemaatjie: “Mamma, Kayla is sag. En hoe langer ek haar ken, hoe sagter word sy.”

In Adam Small se bekende gedig “Kô, lat ons sing” skryf hy:
Toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?
Ma’ die Here sê vir hom: djy sal djou mense lei
wat’s in jou hand?
en Mosas sê: ʼn staf

Dit smaak my te midde van nuus oor omstrede hofsake, misdaad, plaasmoorde en internasionale onrus vergeet ons so nou en dan ʼn staf of twee wat ons Afrikaanssprekendes hier aan die Suidpunt van Afrika in die hand gestop is: ons moedertaal, en ons sin vir humor. Dis wat ons het, en dis waarmee ons goed is. Kô, lat ons sing.

Hoop jy het ʼn wonderlike Afrikaanse Taaldag gehad!

Groetnis
Susan

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae