Reis Afrikaans bied virtuele woning vir jong reisigers

Lara Erasmus en Jolene Potgieter met hulle Koker-toekenning (Foto: Afrikaanse Taalraad/Facebook)

Lara Erasmus en Jolene Potgieter het laas jaar die Koker-jeugtoekenning vir die Bemagtiging van Afrikaanssprekendes verower. Hul projek, Reis Afrikaans, bemagtig jong mense wat in die buiteland woon en werk óf beplan om binnekort so ʼn avontuur aan te pak.

Erasmus het by Maroela Media se ateljee kom inloer om oor dié projek te gesels. Potgieter woon en werk tans in Qatar en was dus nie beskikbaar om saam te gesels nie.

“Reis Afrikaans is in 2017 gestig met die doel om Afrikaanse avonturiers te bemagtig en te verbind,” vertel Erasmus. “Wanneer ʼn mens so iets vir die eerste keer aanpak, is dit baie oorweldigend. Ek weet omdat ek self vir byna drie jaar in die buiteland gebly het.”

Potgieter voeg by dat Reis Afrikaans ontstaan het uit ʼn behoefte om hul eie reisstories te deel. Dit het met ʼn Instagram-profiel begin en is later uitgebrei na ʼn persoonlike blog en Facebook-blad.

“Ons het destyds eintlik ʼn leemte geïdentifiseer,” sê Potgieter. “Baie mense het belangstelling in ons profiel getoon en dit het ons gemotiveer om meer te doen en die inisiatief uit te brei.”

Lara Erasmus en Jolene Potgieter (Foto: Verskaf)

Binne drie jaar het Reis Afrikaans se profiel tot meer as 11 000 volgelinge gegroei.

Dié inisiatief skep dus ʼn platform wat reisigers in staat stel om die proses om oorsee te gaan woon of werk met gemoedsrus en in hul eie taal aan te pak en deur te voer.

Bemagtiging en bystand word op verskeie maniere aangebied.

“Ons kom agter die kap van die byl wat visums, begrotings en meer betref, en werk saam met ander Afrikaanse reisigers om ʼn groot aantal moontlikhede aan jou te bring,” vertel Erasmus en Potgieter.

Hiermee verwys hulle ook na die Republiek van Afrikaanse Reisigers, wat uit ʼn groep jong mense bestaan wat reeds in die buiteland woon of werk. Die Republiek bemagtig voornemende reisigers deur hul eie ervarings in die vorm van blog-inskrywings en praktiese wenke op Reis Afrikaans se webwerf te plaas.

Lara Erasmus en Jolene Potgieter (Foto: Verskaf)

“Ek dink een van die grootste lesse wat ek geleer het, is dat daar soveel meer daarbuite is. Ons wêreld word al hoe kleiner en meer bereikbaar en ons moet dit tot ons voordeel gebruik,” vertel Potgieter. “Dit help dus wanneer die Republiek wenke en ervarings op Reis Afrikaans deel.” Potgieter meen dié reiswenke is op die punt af en doenbaar vir enige tipe reisiger.

Erasmus erken dat sy ook ʼn paar lewenslesse geleer het terwyl sy oorsee gewerk het.

“ʼn Mens is sterker as wat jy dink en eintlik is ʼn mens nooit alleen in die buiteland nie,” vertel sy. “En as dit nie uitwerk nie, kom jy net terug. Ek sien dit glad nie as ʼn mislukking nie. Dis altyd ʼn les of herinnering.”

Erasmus meen om só ʼn avontuur aan te pak sit nie in enigiemand se broek nie, maar sy beveel dit vir almal aan.

“Jou ervaring gaan nie dieselfde as ʼn ander persoon sʼn wees nie – al gaan julle na dieselfde bestemming toe,” verduidelik Erasmus. “ʼn Mens moet net genade met jouself hê.”

  • Lara Erasmus het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak en met Christa Steyn gesels oor Reis Afrikaans. Luister na die onderhoud boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.