Reis Afrikaans: Ontmoet lede van die Republiek

Jolene Potgieter en Lara Erasmus (Foto: Verskaf)

As daar een ding is waarvoor Lara Erasmus en Jolene Potgieter meer lief is as vir reis, is dit mense. Dit is waarom hulle gretig begin soek het na Afrikaanse avontuur-diere om verteenwoordigers van Reis Afrikaans te wees. Die reaksie op hulle versoek op sosiale media het ingestroom.

“Die doel van die Republiek van Afrikaanse Reisigers is om ʼn netwerk van mense te skep met persoonlike reiskennis en -ervaring.” Op dié manier kan navrae rakende spesifieke lande of kennisvelde op ʼn sinvolle wyse hanteer word.

Reis Afrikaans bied bystand deur nuttige reiswenke, stories en inligting oor werksmoontlikhede te verskaf. Daar word boonop ook begrotings- en visumadvies op die webwerf gedeel.

Maroela Media het by ʼn paar Republikeine gaan aanklop om meer uit te vind oor hulle betrokkenheid by Reis Afrikaans en die verskil wat dié platform maak.

Hoeveel beter is dit nie om te droom, beplan, reis en geleenthede te ontsluit in jou eie Moedertaal nie?

“Afrikaanssprekendes is, was en word toenemend wêreldreisiger en -burgers,” sê Werner Pretorius, wat tans in die noordooste van Australië saam met sy vrou, Karla, woon. “Reis Afrikaans is derhalwe ‘n fantastiese beweging om mede-Afrikaanssprekendes, veral jong Afrikaanses, bewus te maak van asemrowende reisbestemmings, asook werk- en studiegeleenthede in die buiteland.

“En hoeveel beter is dit nie om te droom, beplan, reis en geleenthede te ontsluit in jou eie Moedertaal nie? Daarom Reis Afrikaans.”

Werner en Karla Pretorius (Foto: Verskaf)

Werner het pas sy meestersgraad in besigheidsadministrasie (MBA) by die Universiteit van die Sonskynkus verwerf en Karla is ʼn beroepsnetbalspeler wat vir die Sunshine Coast Lightning speel.

“Dis vir my en Werner lekker om oor plekke wat ons besoek te skryf, dagboek te hou en dit met ander mense te deel,” vertel Karla. “Ek hou ook daarvan om die reiservarings van ander mense te lees. Reis Afrikaans is ʼn goeie platform vir beide.”

Olivia Loots (Foto: Verskaf)

Olivia Loots, wat navrae oor Frankryk hanteer, meen om ʼn Republikein te wees laat jou deel voel van iets groters.

“Reis Afrikaans kweek ʼn mate van trots en samehorigheid,” sê sy. Loots het in 2013 ʼn oorbruggingsjaar geneem en toe in Frankryk gaan werk. Sy het onder meer op ʼn sampioenplaas gewerk, ʼn trapstel in ʼn plattelandse huis afgeskuur en druiwe gepluk. Loots het deurgaans dagboek gehou en in 2016 is haar Franse avonture as ek. frankryk. 246 dae. gepubliseer.

“Een van die grootste verskille wat die inisiatief in ander mense se lewens maak, buiten dat dit in Afrikaans is, is die ingesteldheid om praktiese wenke te deel,” sê Loots. Luan Swart, ʼn voormalige ingenieur, beaam dié gedagte.

“Dié platform wys vir mense dat enigeen kan reis. Dit inspireer mense om te voel dat hulle dit ook kan doen,” vertel Swart, wat al 31 lande besoek het. Na sy mening is stories en wenke die waardevolste inhoud wat op Reis Afrikaans gedeel word.

“Die inhoud wat uiteindelik die meeste waarde dra is dit wat ʼn baie lekker reisstorie vertel óf inligting wat ander mense kan help.”

Luan Swart in Moskou, Rusland (Foto: Verskaf)

Hoewel Reis Afrikaans ʼn virtuele tuiste bied aan jong mense wat in die buiteland woon, is die taal oral. Só meen Werner.

“Spandeer ‘n dag in enige stad ter wêreld en jy sal Afrikaans vind,” sê hy. “Hetsy dit ‘n mede-Afrikaanssprekende, in ‘n verdwaalde Afrikaanse boek of tydskrif, of bloot op iTunes, Showmax of YouTube is. Afrikaans sal altyd ‘n pad vind, sy is orals.

“Afrikaans is alomteenwoordig, sy spoor haar sprekers op en vang hulle ontkant op die vreemdste plekke.”

Besoek Reis Afrikaans op Facebook
Besoek Reis Afrikaans se webwerf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.