Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 1)

Roep van die uil
Hoofstuk 1
Deur François Bloemhof

’n Losieshuis op ’n plattelandse dorpie is mos net die plek vir iemand wat desperaat vrede soek. Wat Linda Carstens daar inwag, is egter iets heeltemal anders …

Linda klop aan die voordeur, reg onder die naambordjie: Kanieklanie.

Dis ’n dubbelverdieping, massief soos ou huise op klein dorpies kan wees. Luike voor die vensters. Bome staan die voortuin vol.

Die deur swaai oop. “Jittetjie! Is dit jy, Linda?” Die vrou het haar hand oor haar mond.

“Dis reg – mevrou Maree?”

“Ag, net Essie. Het jy al die pad van die stasie af gelóóp met die grote tas?”

“Dit het wieletjies!” Linda volg Essie die huis binne.

In die sitkamer kyk ’n jong man en nog jonger meisie op van hulle skaakspel. Albei is amper onwaarskynlik aantreklik, die donker oë en hare ’n kontras teen die ligte velle.

“My seun Stephen en my doggie Leanne,” sê Essie. “Sy’s in matriek. En dis ons nuwe loseerder, Linda. Sy’t al die pad van die stasie af gelóóp met die grote tas.”

Hulle groet en dan vra Stephen: “Kan ek dit neem? Die kamers is bo.”

“Dit sal gaaf wees.”

“Dis jou skuif,” herinner Leanne hom, “so moenie heelmiddag vat nie. Al wil jy.”

“Weet jy waar die ander mense is, juffrou wysneus?” vra Essie. “Ek wil Linda voorstel.”

Die meisie trek haar skouers op. “Slaap seker.”

Linda volg Stephen by ’n breë trap op, Essie agterna. Ook die boonste gang is breed, met twee toe deure, vermoedelik die slapende loseerders s’n.

Haar kamer is aan die punt en kyk uit op die voortuin. Daar is egter geen uitsig nie, weens ’n monster van ’n akkerboom voor die venster. Maar die kamer is ruim genoeg om in rond te dans.

Die eienares pof die dubbelbed se kussings op. “Die ander twee is Moira en Bert. Hy was ’n poeliesman, nou afgetree. En Moira maak mense mooi. Jy’t gesien die badkamer is reg langsaan?”

“Ek het, e … Essie.”

“Jy wil seker uitpak en rus.” Stephen glimlag. “Vir iemand wat wil rus, is Stilwater net die plek.”

Linda glimlag terug. Sy glo dis hoekom enige ander persoon sou kom.

Nie soos sy, om te ontsnap nie.

 

“Watse soort werk doen jy?” vra Bert Scheepers die aand aan die etenstafel.

“Ek het nie hier kom werk nie, oom.”

“Watse soort werk gewóónlik?” hou hy vol.

“Sekretarieel.” Dis vaag genoeg, meen sy. En sy moet dit as belangstelling beskou, iets wat mense nog spontaan op so ’n plekkie toon.

“Waarvan verdink oom haar,” wil die vrou oorkant Linda weet, “dat oom so uitvra?”

Daar is by Moira nie ’n haartjie uit sy plek nie. Sy is die beste moontlike advertensie vir haar eie werkplek.

“Ek dink ek het op pad hierheen verby jou boetiek gestap,” sê Linda.

“Ja, wel, ’n halfuur te voet en dan was jy oral.”

“Moira oefen maar op haarself daarso,” merk Leanne op.

Linda het begin vermoed die meisie is jaloers op Moira – maar sy is dalk mooier, net minder gesofistikeerd.

“Sal jy die poedingbordjies deurvat, Leanne?” vra Essie. “En hoe vorder die biologie vir môre?”

Die meisie gryp omtrent die bordjies en marsjeer kombuis toe.

“Groeipyne,” sê Stephen saggies vir Linda.

Sy kyk na hom en na Moira, en maak seker dat sy ewe veel vir albei glimlag. Dat sy nogal van hom hou, is irrelevant. Daar kan niks van kom nie. Daar mág nie.

Is sy dan nie juis hier as gevolg van ’n man nie?

 

Toe Linda wakker skrik, is dit al byna nege-uur. Sy het die indruk gekry sy kan so laat slaap as wat sy wil, tog voel dit verkeerd om eers halftien se kant by die trap af te gaan.

Essie loer om die kombuisdeur. “Môresê! Spek en eiers reg vir jou?”

“Ek het nie gedink …”

“Jy weet mos alle etes is ingesluit.”

“Maar ek het so laat geslaap.”

“Sit,” word sy vriendelik geboelie. En toe die bord kos kom, val sy met mening weg. Cholesterol se maai.

Sy is verbaas toe sy opstaan en Moira die eetvertrek binnestap. “Ek het gedink jy sal al by die boetiek wees.”

Moira sug teatraal. “Eers later. Hoekom ’n leë plek oppas?” Sy roep kombuis toe: “Net muesli vir my, Essie!”

 

In die hoofstraat herinner Linda haarself dat sy mos van alles wou wegkom – want dis duidelik sy hét. Dat hier nie baie opsies is nie, is al iets wat sy van die stad sal mis.

“Juffrou Carstens!”

Verras kyk sy na die vrou in die oop deur. Op die ruit staan Mevrou Meiring se Tuisbedryf.

“Ek neem aan u is mevrou Meiring?”

“Dorinda. En jy’s Essie se nuwe loseerder – tensy ons nou oorval word deur die nooiens. Kom in!”

Daar is min op die rakke behalwe melkterte en beskuit, maar die winkel is groter as wat die voorkant beloof het.

“Ek bak alles self. Vroegsoggens al op.” Dorinda Meiring tik Linda op die voorarm. “Ek is julle buurvrou. Of byna! Net een huis tussen ons.”

Sy wil net daarop reageer toe die vrou oor haar skouer kyk. “Tog nie weer nie!”

Linda sien Bert Scheepers doelgerig oor die hoofstraat aankom.

“Kan die oukêrel nie ’n skimp vang nie?” weeklaag Dorinda en duik summier agter die toonbank in. “Sê vir hom ek’s uit.”

“Môre, môre,” suiker die afgetrede polisieman in, “ek het nie verwag om jóú hier aan te tref nie. Waar’s die mooie dame van die plek?”

Linda hoop nie sy lyk of sy lieg nie. “Sy is nou net iewers heen. Sy’t gevra dat ek ’n rukkie waghou.”

“Nie gesê hoe lank sy gaan wees nie?”

“Glad nie, oom.”

Hy sug, maar blaas die aftog – en is skaars uit of Dorinda Meiring verrys agter die toonbank. “Dankie! ’n Lastige vryer is erger as ’n vlieg. Nou wil ek alles omtrent jou hoor.”

Linda glimlag en dink dit sal die dag wees. Maar op ’n manier geniet sy dit dat iemand hier nog so reguit kan wees oor haar motiewe.

 

Terug by Kanieklanie, nadat sy tot buite die dorp geloop en toe lank onder ’n boom oor haar lewe getob het, sien sy Leanne het al van die skool af gekom.

“Jy hoef nie jou deur te sluit nie. Ek het gehoor jy doen dit. Ons doen dit nie een nie.”

“O,” sê Linda.

“Of het jy duur goed?”

Die meisie loop aan. Linda sou dalk oor die mededeling nagedink het, as haar aandag nie dadelik deur iets anders opgeëis is nie. Toe sy haar kamerdeur oopstoot, lê daar ’n vel papier op die vloer, in vier gevou.

Die hoofletters is so oordadig netjies dat dit niks van die persoon se handskrif kan verklap nie.

WAT SOEK JY HIER?

 

Dinsdagoggend voel sy soos ’n lyk, maar nou ja, dit kom van so min slaap.

Sy het gehoop sy sou die lewenslesse wat sy die afgelope paar maande moes leer, hier kon hersien. Dat sy weer die mooi in mense kon ontdek. En wat kry sy!

Van wie af kom daardie boodskap? Sy kan net aan twee kandidate dink.

Toe sy afgaan vir ontbyt, is Stephen in die kombuis. “My ma is na haar suster toe, so nou het jy my vir ’n kok.”

Dis weer spek en eiers – en hy kom sit oorkant haar. “Ek wou nog nie eet nie, ek het vir jou gewag.”

“Dankie.” Sy probeer sy aantreklikheid miskyk. Dis buitendien simpel om iemand op sy voorkoms te takseer. “Moet jy nie al op kantoor wees nie?”

Sy weet hy en ’n vriend het ’n regspraktyk, Brink en Maree Prokureurs.

Stephen grinnik. “Ek is seker Rupert kan die stormloop hanteer tot ek hom aflos.”

Terwyl hulle gesels, kan Linda nie anders as om op te merk hoe openlik hy is en hoe min besonderhede sy self verskaf nie. Meisie sonder verlede. Tot onlangs het sy gedink sonder enige hoop op ’n toekoms ook …

Stephen keer toe sy hom wil help opwas. Sy hou hom wel geselskap en toe, vol energie, is hy uit by die voordeur.

“Warrelwind, nè?” hoor Linda ’n stem agter haar en swaai om. Dis Moira, wat haar selfoon uithou. “En kyk net hoe fotogenies.”

Op die foto het Stephen sy arm om Moira. Sy lyk stralend – en hy beskermend. Dis voorwaar nie sommer twee mense wat toevallig saam afgeneem is nie.

Dan lui die telefoon, skril.

“Sal jy dit kry?” vra Moira.

Linda loop onwillig soontoe. Sy het juis van haar selfoon ontslae geraak omdat sy ’n vrees ontwikkel het vir ’n stem wat telkemale haar lewe kan ontwrig.

En die sekonde toe sy optel, wéét sy. Hier verander dinge nou. Sy het haarself maar net wysgemaak sy’s in beheer.

“Hallo, Kanieklanie?” antwoord sy nogtans en hoop dis haar verbeelding.

“Ek ken daardie stem,” sê hy.

En hoe bekend is syne nie. Die afstand is oorbrug, die verlede het haar ingehaal. Sy wil naar word. Só sal enigeen voel wat sonder waarskuwing ’n stem hoor wat jou herinner dat jy ’n dood op jou gewete het.

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

François Bloemhof

Meer oor die skrywer: François Bloemhof

François Bloemhof het reeds meer as 100 boeke vir volwassenes, tieners en jong lesers geskryf. Hy woon in Durbanville en is die persoonlike sjef van vier puntenerige katte.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae