Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 3)

Roep van die uil
Hoofstuk 3
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Die ryk vrou wat byna langs hulle woon, word dopgehou – en in die losieshuis is daar iemand wat agter die gordyn wegkruip …

Dit is die oomblik van waarheid, weet Linda so deur haar paniek. As sy wil vlug voordat die persoon agter die gordyn uitkom, moet sy nóú, of anders …

Sy pluk die gordyn opsy, die blompot gereed om mee te slaan.

Dis ’n seun wat net so verskrik lyk as wat sy voel. Hy het blonde hare, sproete en glad nie die wrede gelaatstrekke wat sy verwag het nie.

“Jou sot. Ek het jou gesê jy moenie raas nie.”

Die stem het van agter Linda gekom.

Dis Leanne – wat klaarblyklik glad nie siek is nie. Wat ’n stywe toppie dra by ’n rompie wat net so groen gepluk is.

“Dis Jannie,” verduidelik sy. “My ou.”

Jannie steek sy hand ewe formeel uit. “Bly te kenne. En jammer as ek jou …”

“Jy hét.” Linda kan nie anders as om te lag nie.

“Dis Linda van wie ek jou vertel het.” Dan vat Leanne aan haar arm. “Moenie vir my ma sê nie. As sy uitvind Jannie was ook nie vandag skool toe nie …”

“Oukei.” Sy wil Essie nie graag ’n rat voor die oë draai nie, al is dit net deur stil te bly, maar twee matrieks se hartsake het niks met haar uit te waai nie.

En daardie harte werk oortyd as Jannie saans klippies kom gooi en Leanne by ’n venster uitklim om by hom te wees.

 

Die Woensdagmiddag is minder gebeurtenisvol. Teen die tyd dat Essie en oom Bert terugkeer, is Jannie lankal vort.

“Ek dink die rus het Leanne goed gedoen,” sê Essie. “Skool is soveel moeiliker as in my tyd. Soveel meer fieterjasies.”

Linda swyg maar. Leanne se “siekte” is inderdaad verby en sy het ’n glimlag vir ’n ieder en ’n elk.

 

Dorinda Meiring sluit die tuisbedryf betreklik laat voor sy huis toe begin loop.

Dit bly maar ’n régte dorp, dink sy die soveelste keer. Met doodgewone huise wat nog gebou is om te hou.

Die kerkhorlosie gee ses slae en sy kyk so na die konstruksies om haar dat sy nie die persoon raaksien wat haar volg nie.

Sy bereik haar straat en loop verby Kanieklanie. Al hou sy van die eienares, kan sy nie dieselfde van die woning sê nie. Plein lelik, maar gelukkig weggesteek agter al die bome in die tuin. Dit was nooit bedoel om ’n losieshuis te wees nie, maar toe sterf Essie se man, tref die verveeldheid haar en wou sy iets met al die leë vertrekke doen.

Die persoon wat haar van ’n afstand dophou, is nou oortuig dat die geld nie iewers op die dorp versteek is nie – Dorinda Meiring is die tipe mens wat al seker sou gaan maak het dit is nog daar. Dis ook nie by die tuisbedryf nie, sy sou bang wees iemand breek in.

Haar eie vesting is die enigste plek. Dit móét in die huis wees. En vanaand is die aand.

 

“Haai daar,” sê Stephen in die gang.

“Hoe was jou dag?” vra Linda. Sy glimlag is so breed, so spontaan, dat sy haarself moet herinner só lyk hy ook op die selfoonfoto wat Moira haar gewys het. Moira wie se hand gisteraand op syne gerus het.

“Heel goed. Brinkie eet vanaand hier. My vennoot.”

“Ek weet. Brink en Maree.”

“Hy sien baie uit daarna om jou te ontmoet.”

En dit was sagkens gestel, besef Linda toe Rupert Brink ’n kwartier later opdaag en meer as net ’n oomblik te lank in haar oë kyk. Hy is oor die outydse ses voet, met die rooiste bos hare wat sy nog aan ’n man gesien het. Beurtkrag sal geen probleem wees met hom in die omtrek nie.

Aan die etenstafel blyk dit hy is ’n aangename geselser. Hy weet hoe om te luister ook.

Maar ’n meisie weet mos dadelik of ’n man ’n “kandidaat” is, glo sy – al wys die noodlot dalk later hoe ’n groot fout jy begaan het. Geen hoeveelheid rooi hare kan ’n vonk genereer wat net nie daar is nie.

Sy het dit nog slegs twee keer ervaar. Eers met die verkeerdste man denkbaar, en toe weer hier … maar dis nou genoeg van dié getob. Sy fokus weer op die bobotie op haar bord. En die ander aansittendes.

Skielik vra Rupert die vraag wat sy verwag het: “Waarvandaan kom jy?”

“O, Kaapstad.”

“En …”

Sy is bly toe die telefoon lui én sy ruk onwillekeurig. Leanne spring op om te gaan antwoord.

Linda bemerk oom Bert se blik op haar en voel sy moet verduidelik: “Ek is nie meer gewoond aan daardie soort lui nie. So min mense het deesdae nog ’n huisfoon.”

Moira kyk ook na haar. “Is ek reg as ek glo jy het nie ’n selfoon nie?”

“Dis reg. Ek stem saam met my tannie, dis ’n onding. Sy haat alle fone.”

“Jy moet ál persoon onder veertig in die hele land wees wat nie een het nie.”

Leanne glimlag met die inkomslag liefies vir Moira. “Met al jou opleiding kan jy tog sien hoe lyk iemand onder dértig. Of hoe, Linda?”

“Ek … is sewe-en-twintig, ja.”

“Wie’t gebel, Leanne?” vra Essie.

“Net ’n vark wat neergesit het.”

Linda hoor nie meer die geselsery nie. Was dit Dirk Greeff?

Dit kon bloot iemand gewees het wat besef hy’t die verkeerde nommer geskakel. Sy moenie haar oor niks opwerk nie.

Eindelik sê Rupert hy sal sy ry moet kry. “Al sal dit môre waarskynlik net so stil wees soos vandag. Dalk moet ek of Stephen een van die dae self ’n oortreding begaan, sodat die ander een ten minste iemand het om te verdedig!”

 

Toe Linda haar kamerdeur oopstoot, sien sy dadelik die opgevoude vel papier.

Sy weet dit sal weer ’n boodskap in perfek gevormde, identiteitlose hoofletters wees. Sy moenie eens kyk wat dit sê nie.

Maar natuurlik kyk sy.

IS JY NOG NIE WEG NIE?

Asof dit vir hom ’n teken was dat dit nou die aangewese tyd is, roep die uil buite haar venster.

 

Al is dit reeds halfelf, sit Dorinda Meiring nog vasgenael voor die TV-fliek oor jong liefde. Sy het gevoel sy sondig deur soveel op die yslike plasmaskerm te bestee, maar dit was loshande haar beste kopie die afgelope dekade.

’n Bitter mooi man smeek hartstogtelik om vergifnis, en ’n bitter mooi meisie vergeef hom hartstogtelik met soene oral oor sy gesig.

’n Sagte knarsgeluid pas nie in by dié toneel nie.

“Wie’s daar?” roep Dorinda, al weet sy dis die rondloperkat wat altyd met Stippel kom baklei.

Stippel gee ’n verergde miaau toe sy hom van haar skoot af lig.

Dorinda loop kombuis toe. Sy los altyd die venster oop, want daar is diefwering en niemand sal mos die moeite doen om dit los te skroef nie.

Maar sy steek vas. Die geluid wat sy gehoor het – was dit yster op yster?

Toe sy uiteindelik die moed bymekaarskraap en die lig aanskakel, sien sy die traliewerk is weg voor die venster.

En toe sy gaan uitloer, sien sy die gekrulde ysterstukke lê in die blombedding. Sy vererg haar. Sulke uitvaagsels! Moes geskrik het toe hulle haar hoor roep.

Die huis langsaan is leeg; die De Wets is na Herklaas se broer toe. En Kanieklanie is te ver, hulle sal haar nie hoor skrou nie. Sy sal maar die polisie moet bel. Ou Bert sou kon gehelp het, maar dan gee sy hom weer aanleiding en –

“Moenie ’n geluid maak nie.”

Iemand het agter die kas uitgekom net toe sy wou omdraai. Nou kán sy nie, so lam is haar bene. Iets skerps word teen haar nek gedruk. Die laai met messe is oop.

“Al wat jy gaan doen, is om my te wys waar jy die geld hou.”

Vir ’n oomblik wil sy vra watter geld. Net vir ’n oomblik, want sy weet dit gaan nie werk nie.

Dorinda slaag toe tog daarin om haar bene te beweeg. Sy loop sitkamer toe, die skerp voorwerp steeds teen haar nek. Sy sien Stippel het padgegee.

Daar is ’n nissie in die pilaar agter die plasmaskerm. Dáár, wys sy.

Die sekonde voor die steekpyn haar tref, weet sy dit kom. En gil sy.

 

“Dood?” herhaal Leanne geskok.

Essie was nog in die kombuis doenig en het onmiddellik die polisie gebel toe sy die gil hoor. Die res van die huisbewoners het almal intussen uit hulle kamers gekom en is saam in die sitvertrek.

“Het enigeen van julle dalk iets gesien?” wil die speursersant weet. “Enigiets vreemds wat julle opgeval het?”

“Weet jy,” sê Moira peinsend, “ek hét. Iemand hier buite die huis, meer as ’n uur gelede. Ek het gedínk hy hang vir kwaadgeld rond.”

“Iemand bekends?” vra die sersant.

“Sy ma was al by my boetiek. Hulle van is Engelbrecht.” Net toe Linda sien hoe Leanne verstar, voeg Moira by: “Ek dink hy is in matriek. Blonde hare, sproete. En as ek dit nie mis het nie, is sy naam Jannie.”

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.