Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 4)

Roep van die uil
Hoofstuk 4
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Daar is ’n moord naby Kanieklanie – en Moira vertel die polisie dat sy Leanne se kêrel kort tevore buite die losieshuis gewaar het …

 

Hoenderhane het nie ’n saak met moord nie. Die hele mensdom kan om hulle vergaan en steeds sal hulle opgewek die nuwe dag aankondig.

“Ek is naar,” kla Leanne dié Donderdagoggend. Linda loer by die deur in en die klagte is veel oortuigender as toe die meisie gister siek gegooi het. Daar is geen kleur in haar gesig nie.

“Bly maar weer in die bed, my kind,” sê Essie. “Dis ook te verstane, met wat byna langs ons gebeur het.”

In die gang sê sy vir Linda: “Ek gaan sersant Goosen by die tuisbedryf ontmoet. Hy het gesê hulle wil net eers die plek deursoek – mens weet nooit wat kry jy dalk nie – en dan probeer ek maar om die laaste goedjies verkoop te kry. Dit kan tog nie so op die rak bly staan nie … Sal jy af en toe by Leanne inloer?”

“Enige tyd.”

Linda weet waaroor die olikheid gaan. Hoe moet dit vir ’n matriekmeisie wees as haar ou van moord verdink word?

Essie sê nog vir oulaas: “Ek kan dit steeds nie glo nie, ’n moord net twee huise van ons af. En dit nog Dorinda Meiring wat nooit ’n vlieg skade gedoen het nie. Wat word van die wêreld!”

In haar kamer kry Linda opnuut ’n beklemming. Dalk kom praat die polisie weer met almal in die losieshuis – veral met haar wat enkele dae gelede op Stilwater aangekom het. Hulle kan uitvra oor haar verlede, en dan uitvind dat …

Nie een van die huisbewoners het ’n alibi vir toe mevrou Meiring vermoor is nie. Sy probeer onthou wie se stem sy eerste in die gang gehoor het.

Voor dit was sy van niks bewus nie. Selfs Essie, wat die gil gehoor en toe die polisie gebel het, kon dalk vinnig van daar af teruggesluip gekom het.

Nee, Essie Maree kan niemand doodmaak nie. Niemand hier nie. Die polisie glo die motief was diefstal, omdat Dorinda Meiring geld by haar huis gehou het. Maar of Linda nou van almal hierso hou of nié, en al is daar ’n skrywer van lelike boodskappies tussen hulle, moord is ’n ander saak.

Haar binneste knoop saam toe sy die telefoon onder hoor lui. Dit kan weer Dirk wees. Of die polisie. Sy moet maar gaan antwoord.

Dis Rupert Brink. “Ek het gehoop jy sal antwoord. Vreeslike storie. Die dorp gons.”

“Ek het die vrou nog min gesien, maar dis vreeslik, ja.”

Daar is ’n geluid en Linda swaai om. Stephen staan in die deur, blou das en al, so aantreklik soos altyd. Sy dog hy is al werk toe.

Dan vra Rupert: “Sal jy vanaand saam met my gaan eet?” Haastig voeg hy by: “Dit sal jou goed doen om uit te kom, het ek gedink.”

Sy kyk in Stephen se rigting. Onthou hoe hy aandag aan haar gegee het én met Moira ’n vryery aan die gang het.

Dis hoekom sy sê: “Dit klink lekker, Rupert. Gaan jy my kom oplaai? Hoe laat?”

 

Sy klop aan Leanne se deur voor sy instap. Die meisie sit regop teen opgepofte kussings. Geen jongmens behoort so lewensmoeg te lyk nie.

“Hoe voel jy nou?” vra Linda.

“Jy kan mos dink.”

“Jy gaan moet sê wat Jannie regtig hier gemaak het.”

“My ma sal my uitmoor. Sy’s nog so outyds. En dit sal nie help nie – hulle kan net sê hy’t dit gedoen nadat hy hier weg is. En dit wás eers later!”

Linda sug. “Ek is seker dit was nie hy nie.”

“Ek sal nooit vir my ma kan sê ek en Jannie …” Leanne gee ’n snuif. “Sy het boonop al met sy ma vasgesit. Maar wie is sy om vir my voor te skryf? Sy hou óók nie haar geld in ’n bank nie. As Dorinda Meiring haar fortuin by die huis kan hou, sê sy altyd, is dit goed genoeg vir haar ook.”

“Jy moet nou bedaar.”

Skielik vra Leanne: “Is jou ouers in die stad? Is hulle ook so erg?”

“Hulle is dood in ’n motorongeluk toe ek klein was. Ek het by my tante gewoon. Sy is nou vroeg-vroeg in ’n aftreeoord, maar wou eerder in my woonstel bly terwyl ek vir ’n ruk … rondreis.” Linda glimlag. “Daar was al tye toe ek graag ’n ma sou wou gehad het om mee te praat. Byvoorbeeld oor liefdesake.”

“Dink jy hulle het hom al gearresteer? Hy antwoord nie, ook nie WhatsApps nie.”

“As die polisie sy selfoon gekonfiskeer het, weet hulle reeds van julle twee. Jy móét met jou ma praat voor hulle dit doen.”

“Hoekom is jy so afsydig teenoor Stephen?” vra Leanne uit die bloute.

“Lyk dit so?” probeer sy tyd wen.

“Jy is die eerste meisie van wie hy hou wat nie … simpel is nie. Maar jy het soos handomkeer verander. Ek het mos oë in my kop.”

Linda besluit om eerlik te wees: “Daar is mos iets tussen hom en Moira.”

“Daar wás. Seker vir vyf minute.”

“Maar Stephen laat dan toe dat sy aan tafel sy hand vashou.”

Leanne lag. “Net om jou aandag te kry!”

“Ek hou nie van sulke speletjies nie.”

“Jy speel dan self een, deur te maak of jy nie in hom belangstel nie.”

Linda frons. Dis waar. Hoe ongereed sy ook al vir ’n nuwe man in haar lewe is, sy stél belang. Maar het so pas ingestem om saam met ’n ander man te gaan eet. Terwyl die vorige een haar hier opgespoor het.

Toe hoor sy iets by die deur – en daar staan Stephen in die gang. Aan die kyk wat hy haar gee, en die glimlag voordat hy wegbeweeg, weet sy hy het alles gehoor.

Sy gaan na haar kamer. Hoor die huisfoon lui en besluit om dit te ignoreer.

Minder as ’n halfminuut later is daar voetstappe, dan ’n kloppie aan haar deur en Stephen se stem.

“Oproep vir jou, Linda. Dis ’n man.”

 

Sy stoot die restaurant se deur oop en gewaar Dirk Greeff waar hy by ’n tafeltjie sit. Die ligblou oë. Die borselkop waaroor sy graag gevryf het. Hy staan byna oordrewe galant op toe sy nader kom.

“Dit was ’n lang tyd.”

Dit moes vir ewig gewees het, dink sy. ’n Kelner is dadelik by aangesien hulle die enigste klante is.

“Die lasagne vir jou, neem ek aan,” sê Dirk. En toe sy hoenderslaai bestel: “Lyk my iemand se smaak het verander.”

“Iemand se hele lewe het.” Sy skep asem. “Ek weet nie hoekom jy so ver gekom het nie. Dit was baie duidelik dat ek besluit het ons moenie mekaar weer sien nie.”

“Eerstens was dit skaars ’n uur se ry hierheen, en tweedens verdien ek beter.”

“Wanneer het jy hier aangekom?”

“Gistermiddag.”

“En hoe hét jy my opgespoor? My tannie?”

Dis al antwoord. Tannie Marina het haar dikwels oor die sluheid van die manlike spesie gewaarsku, maar haarself al telkemale deur hulle ’n gat in die kop laat praat.

Dirk knipoog. “Ek was by jou woonstel. Ek hoef haar skaars te gevra het.”

Sy sterk persoonlikheid is wat haar oorweldig het, nadat sy aanvanklik wal gegooi het. Hy was dan getroud en daar was boonop fluisteringe van ander meisies. Toe maak sy die flater: versag haar hart die dag toe hulle alleen in die kantoor is en hy aan die huil raak. ’n Man wat nog kon huil!

Hy het haar vertrou met die storie van sy eensame huwelik. Sy het gedink hoe eensaam sy self is, hoe skrikkerig haar streng oujongnooi-tante haar vir mans gemaak het. Hy het gesê Desirée wou ’n dienskneg hê, nie ’n eggenoot nie. Sy het hom gereeld voor mense verneder, het die werk vir hom gekry by haar pa se onderneming en hom dit nooit laat vergeet nie. Desirée was meer as net die baas se dogter; sy wás sy baas.

Nou kyk Linda na sy ligblou oë. Na sy streelbare borselkop. Dit roer niks in haar nie.

“Môre ry ons twee terug,” sê hy. “Ek is klaar sat van die vlooihotel hier oorkant. Ons hét nou daardie grote huis.”

“Nee, dis joune. Ek het oor begin.”

“Hiér?” Dirk snorklag. “Ons hoort dan saam. Jou woorde.”

Sy onthou hoe Stephen in die losieshuis na haar gekyk het. Dirk het haar nooit as ’n volledige mens gesien nie. Sy was vir hom ’n trofee, hy vir haar ’n verbode vrug.

“Hoe gaan dit by die werk?” verander sy die onderwerp.

“Die plek waar jy oornag bedank het? Wie gee om? Ons toekoms is wat tel.”

“Dirk …” Die kelner bring hulle kos en Linda wag dat hy moet loop. “Ek en jy was nooit werklik saam nie. Desirée was altyd tussen ons, en nou nog meer.”

“Desirée, Desirée!” ontplof hy. “Sy is dood! Ek en jy is nie!”

Linda kyk hom stip aan. “Elke keer as ek jou sien, dan sien ek haar ook. En al waaraan ek dan kan dink, is hóé sy dood is.”

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.