Vervolgverhaal: Roep van die uil (Hoofstuk 6)

Roep van die uil
Hoofstuk 6
Deur François Bloemhof

Wat vooraf gebeur het: Nadat Linda die aand saam met Rupert uit was, word hy tussen bosse ingelok. Sy besef dat sy hom sal moet volg …

 

Linda kyk in die losieshuis se rigting. Dis te ver – as sy soontoe hardloop om hulp te kry, kon iemand lankal iets aan Rupert gedoen het. Hy is nie vas genoeg op sy voete om hom behoorlik te verdedig nie.

In die donker sukkel sy om te sien wat is takke en wat nié, en word liggies oor die wang gekrap voordat sy daaraan dink om haar hande voor haar gesig te hou.

“Rupert?” roep sy saggies. Dit help nie om stil te bly nie, want sy raas soos sy beweeg.

Haar hart gaan byna staan toe daar ’n fladdering links van haar is. Iets vlieg weg – dalk die uil wat buite haar venster was. En dalk het hulle so pas vir hóm gehoor?

Nee. ’n Uil klink nie so nie.

Asof ’n gordyn weggetrek word, kom die maan agter die wolk uit – en sy gewaar vir Rupert. Hy staan met sy rug na haar toe en …

Iemand beweeg tussen haar en hom in.

“Rupert!” skree sy.

Dis ’n ewigheid voor hy na haar toe draai, die figuur agter hom gewaar en uit die pad spring. Want die persoon het iets gelig en na hom toe geswaai.

Die maan is terug agter die wolk toe die geluid kom: ’n stomp wat ’n boomstam tref.

Linda hoor ’n geskuifel en hoe ’n man swets: Rupert. Daar is ’n struweling, swaar asemhaling. Beweging.

Iemand is by haar. Raak aan haar. Sy gil amper.

Dis Rupert. “Die een het padgegee,” sê hy.

Hy neem haar in sy arms en dis so ’n spontane gebaar dat sy vir eers net so bly staan.

 

Kanieklanie is in rep en roer nadat hulle almal bymekaar gekry het om te vertel wat gebeur het. Stephen wil Linda omtrent nie uit sy sig laat nie.

Dit ontlok ’n frons van Moira. “Sy’s nóú orraait, hoor.”

Sersant Goosen daag op en Linda voel hy kyk na haar asof sy die aanvaller was. En verbeel sy haar dat oom Blik haar ’n afgetrede-polisieman-kyk gee wat sê hulle het geen sulke probleme gehad voor sy hier opgedaag het nie?

Dalk is dit hoe dit werk: sy het die stad se geweld hierheen gebring. Sy wat reeds dáár ’n vrou se dood help veroorsaak het.

“Drink ietsie,” sê Essie en hou ’n glas met brandewyn uit. Dit slaan byna Linda se asem weg.

Nadat Rupert saam met die polisieman vertrek het, volg Moira haar by die trap op. “Watter soort speletjie speel jy?” sis sy in die gang.

“Wat bedoel jy?” Sy wil nou net gaan slaap.

“Dié ding is onderdeur my deur gepos.” Moira hou ’n stuk papier na haar uit. “Herken jy jou handewerk?”

Linda neem dit en lees.

JOU TYD IS MIN.

 

“Ek wil graag met jou praat,” sê Linda by sersant Goosen se oop kantoordeur. Sy het die “u” laat staan aangesien hy dit nie teenoor haar gebruik nie.

“Kom in.” Hy skuif reg agter ’n uiters ordelike lessenaar en sy sit skaars voor hy vra: “Wat het jy op die hart?”

“Ek dink ek weet wie Rupert gisteraand aangeval het.” Toe hy sy wenkbroue lig, gaan sy voort: “Die man van wie ek jou gister vertel het.”

“Die Greeff-kêrel?”

“Dirk, ja. Hy het my gister laat verstaan hy’t my kom haal. Hy is hier.”

“Ek weet hy is.” Hy moet haar verbasing sien, want hy voeg by: “Hier weet ons sodra iemand nuuts opdaag. Was dit voor of nadat ek en jy gesels het?”

“Net voor dit.”

“Jy het niks gesê nie.”

“Ek het nie gedink dis belangrik nie.”

“En nou is dit?”

Linda aarsel. “Hoekom sou iemand juis daardie tyd kies, nadat ek en Rupert uit was vir ete, om sy kar se bande stukkend te sny? Daar is geen ander pad nie, ons moes verby daardie blok loop wat die ene bosse is.”

“Hmm,” maak hy. “Jy glo hy wou sy mededinger uit die weg ruim.”

“Daar is niks tussen …”

“Maar hý dink dalk so. Hoe ook al, mevrou Alberts van die hotel het niks klagtes oor jou Dirk Greeff nie. Sy sê hy is vriendelik en stel geen eise nie.”

Vriendelik met al wat vrou is, dink Linda. “Maar wie anders kon dit gewees het?”

Hy korrel na haar. “Dink jy jou vriend het ook die moord gepleeg?”

“Ek weet nie. Darem seker nie. Dirk het nie vir mevrou Meiring geken nie. Dit was ook te gou – hy kon nog nie lank op die dorp gewees het voordat sy vermoor is nie. En hoe sou hy so vinnig uitgevind het sy hou geld by die huis?”

“Wanneer het hy hier aangekom?”

“Vroeg gisteroggend, dink ek. Of anders laterig eergister.”

Sersant Goosen sug. “Dalk moet jy eerder die speurwerk vir die polisie los, juffrou Carstens. Is daar nog iets?”

Sy dink aan die briefies. Twee vir haar en een vir Moira – en Moira glo sý het daardie een geskryf. Sy kon nie haar eie vir Moira wys nie omdat sy so sotlik was om dit weg te smyt. Dis beslis iets wat sy nou behoort te noem.

Maar sy het haar vererg en staan op. “Dankie vir jou kosbare tyd.”

 

By Kanieklanie loop sy Essie in die boonste gang raak.

“Jy het nie iewers ’n sleutel sien rondlê nie, kind?”

“Nee. Jou kamer s’n?”

“Nee, jy’s mos al een wat sluit. Die spaarsleutel vir die voordeur.” Die vrou frons. “Dalk moet ons van nou af álmal snags ons deure sluit. In elk geval, dit het altyd aan ’n hakie in die kombuis gehang.”

“Miskien moet jy oom Bert op die saak sit!”

“Sjympies, die ou swernoot mis Dorinda verskriklik. So ’n liefde van net een kant af …”

Linda gaan haar kamer binne en maak die deur toe. Vou weer haar leesboek oop, al het sy die draad van die storie verloor. En dit voel na skaars ’n minuut later toe daar ’n klop aan die deur is.

“Kom in, dis oop.”

Dis hy. Dirk.

Vir ’n oomblik dink Linda sy het aan die slaap geraak. Dit sou die mees logiese verklaring wees: dis ’n droom. Maar nee. Hy stoot die deur agter hom toe.

“Jy het geen reg om hier te wees nie!” Sy sit regop.

“Ek stem nie saam nie.” Hy hou ’n vinger voor sy mond. “Sagter.”

Sy snap meteens: “Het Essie jou nie ingelaat nie?”

“Dan sou ek mos moes verduidelik.” Dirk kyk in die kamer rond. “Dit is meer gerieflik hier as die hotel.” Hy gee sy gepatenteerde glimlag. “Ek kon vroeër al ingeloer het, maar jy sluit mos jou deur.”

“Hoe weet jy ek doen dit?” Linda raak koud, so warm soos wat dit daar buite mag wees.

“Ek was gistermiddag hier. Jy sien, ek het nie gevoel ons het klaar gepraat in die restaurant nie. En as julle lot nie wil hê iemand moet inkom nie, moet julle nie die voordeur oop los nie.”

“Jy kan nie net …”

“Sjuut, sê ek mos. Netnou kry jy ’n slegte reputasie omdat jy mans in jou kamer onthaal. Ek is seker dis teen die reëls.”

Sy kyk na hom. Hy’s die ene stedelike swier en selfversekerdheid – en hoe steek dit nie af teen Stephen Maree se plattelandse ordentlikheid en minder vertonerige manlikheid nie.

Dirk kom sit op die bed en glimlag toe sy wegskuif. “Hoe kortstondig is ’n vrou se liefde tog. Sê my, daardie hemelbesem met die geweldige rooi kop wat gisteraand saam met jou in die eetplek was, is dít my kompetisie?”

“Dan was dit jy!”

“Wat hoe gemaak het?” Sy is byna seker hy koggel haar.

“Wat Rupert in die bosse aangeval het.”

“Sou ek so iets doen?” vra Dirk en hou sy hande omhoog. Goedversorgde hande, die naels blinkgepoets. Groot hande. En weer word Linda koud. Op die rugkante is daar skrapies. Sy het self sulke merke – van toe sy gisteraand takke van haar gesig weggekeer het.

“Jy moet gaan.” Sy is seker hy wou hê sy moes die skrapies sien. “Asseblief, Dirk. Dan sal ek vir niemand sê nie.”

“Maar wat hét jy om te sê?”

“Loop nou,” smeek sy omtrent.

“Ag, goed dan.” Hy kom orent. “Ek sal jou dan maar net later moet kom haal. Want een ding is seker, my lief, en dis dat alles wat ek gedoen het om jou te kon hê nie sommer verniet was nie.”

Die implikasie dring tot haar deur. “Bedoel jy …”

“Jy kan nou maar weet. Jy behóórt te weet hoe ernstig ek is as ek die dag op iets besluit. Op jóú.” Vir ’n oomblik word sy stem sag. “Jy moet weet hoe baie jy vir my beteken.”

“Maar wil jy sê …”

“Dis reg,” antwoord hy. “Ek het dit gedoen net voor ek daardie aand van die huis af weg is – na jou toe. Jy het haar nie geken nie, anders sou jy geweet het Desirée het nie die deursettingsvermoë gehad om haarself op te hang nie.”

 

(Lees die volgende hoofstuk elke Dinsdag op Maroela Media)
*Die verhaal het oorspronklik in Vrouekeur verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

François Bloemhof

Meer oor die skrywer: François Bloemhof

François Bloemhof het reeds meer as 100 boeke vir volwassenes, tieners en jong lesers geskryf. Hy woon in Durbanville en is die persoonlike sjef van vier puntenerige katte.

Deel van: Toetentaal

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Namgrl

Ek kan mos sulke tipe verhale opvreet….ek sit nie maklik ‘n boek neer as dit my bind nie. Nou is volgende week so veeeerrr…. ;)