Rolspelers in Afrikaans word vereer

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het Vrydagaand sy jaarlikse Prestige-aand gehou, wat uitsonderlike kultuurprestasies in die Afrikaanse taal vereer.

Die Prestige-aand word beskou as die hoogtepunt van dié organisasie se jaarlikse kultuurkalender.

Ná gesellige boeremusiek, melktertdrankies, asook biltong en droëwors as peuselhappies het gaste die Voortrekkermonument in Pretoria binnegestroom om die onderskeie wenners te vereer.

Dr. Callie Opperman het die FAK-Prestigetoekenning vir uitnemende leierskap ontvang. (Foto:Maroela Media/Janie Monsieur)

Dr. Callie Opperman het die FAK-Prestigetoekenning vir uitnemende leierskap ontvang. Hy het gesê hy voel baie bevoorreg om die toekenning te kry, juis omdat hy weet wie dit al voorheen ontvang het.

“Afrikaans het ʼn baie sterk rol in Namibië, waar ek woon. Baie Afrikaners het hulle in Namibië gaan vestig, maar is steeds baie lief vir hul taal. Ons het dus met Afrikaanse privaat skole in Namibië begin. Dit is uit beginsel – dit is beter vir kinders om in hul huistaal skool te gaan, en ons moet dit behou,” het Opperman gesê.

Prof. Hans du Plessis het die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur ontvang. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Prof. Hans du Plessis het die NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur ontvang. Hy het gesê hy het nie die toekenning verwag nie.

“Afrikaans is maar my lewe, so ek het maar net gelewe en toe kry ek ʼn toekenning daarvoor,” het hy gesê.

“Afrikaans is die taal van versoening. Dit is die enigste taal in Suid-Afrika wat ewe veel wit as niewit sprekers het, en ons móét Afrikaans bevorder om ons los te maak van die verlede.”

Paul van Deventer het die HB en MJ Thom-Prestigetoekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding gekry. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Paul van Deventer het die HB en MJ Thom-Prestigetoekenning vir die bevordering van Afrikaanse onderwys en opleiding gekry. Van Deventer is die afgelope 10 jaar besturende direkteur van die tegniese opleidingskool Sol-Tech.

“Dit is vir ons belangrik dat mense moet weet jy kan in Afrikaans gehalte-onderrig kry, en dat daar ʼn toekoms vir jou in hierdie land is. Navorsing bewys moedertaalonderrig is die beste,” het hy gesê. “Jou sukses in die lewe hang nie af van die taal waarin jy onderrig is nie, maar van die kennis wat jy opdoen – en die beste manier om dié kennis werklik jou eie te maak, is as dit in jou moedertaal opgedoen is.”

Johan Vorster het die FAK-Prestigetoekenning vir uitnemende kultuurprestasie ontvang. Vorster was aanvanklik deel van die musiekgroep Eden, maar is nou saam met Sean Else die eienaars van Mozi Records.

Vorster het die lirieke van bekende liedjies soos “De la Rey” (gesing deur Bok van Blerk) en “Ons vir jou Suid-Afrika” geskryf. Vorster het gesê hy het ʼn liedjie oor die Afrikaner probeer skryf, maar gesukkel om ʼn naam daaraan te koppel. Toe hy generaal De la Rey teëkom, het ʼn wysie dadelik in sy kop opgekom, en hy het die liedjie in twee uur geskryf. Hy het sy oorspronklike weergawe van “De la Rey” vir die gehoor gesing.

Nicol Stassen het die FAK-Prestigetoekenning vir die bevordering van Afrikaans deur die uitgewersbedryf ontvang vir sy betrokkenheid as besturende direkteur by Protea Boeke en Protea Uitgewers.

Stassen het gesê sy grootste dankie gaan aan al die mense wat by Protea werk, wat die boeke redigeer, ontwerp, bymekaarsit en verkoop. “Sonder julle sou ons beslis nie gewees het waar ons vandag is nie, en ek sou nie hierdie toekenning ontvang het nie,” het Stassen gesê.

Jacques Muller is vereer vir sy toewyding aan die herstel van Paul Kruger se graf in die Heldeakker van Pretoria. (Foto: Maroela Media/Janie Monsieur)

Jacques Muller is vereer vir sy toewyding aan die herstel van Paul Kruger se graf in die Heldeakker van Pretoria.

Jacques het die reaksies op sosiale media gevolg nadat oudpres. Paul Kruger se graf in Julie vanjaar geskend is. Hy het toe die inspirasie en oortuiging gekry om Oom Paul uit die rou elemente van krans en klip te kap.

“Afrikaner-erfenis is ʼn ding waaraan gebou moet word omdat ons kultuur en nasie deesdae so afgebreek word. Die bewaring van ons erfenis is absoluut noodsaaklik, anders gaan dit uitsterf,” het Muller gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gwen ·

Baie geluk aan al die ontvangers. Ons Afrikaners in Suid-Afrika kan iets by dr. Opperman leer!

Hanlie Carstens ·

Baie geluk aan die wenners. Ek kan amper nie glo dat géén vroue onder die wenners is nie? Wonder nou net of vroue enige bydraes lewer. Mmmmm….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.