SA Akademie bekroon baanbrekers

Dr. Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van SA Akademie. Foto: YouTube/Skermskoot uit 'n Dagbreek-video

Dr. Dionē Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van SA Akademie. Foto: YouTube/Skermskoot uit ‘n Dagbreek-video

Die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SA Akademie) se bekroningsgeleentheid is Woensdag by die Atterbury Teater in Pretoria gehou. Verskeie baanbrekers, onder wie Karen Meiring en Koos Vorster, is tydens die geleentheid vereer.

Die oogmerk van die Akademie, as multidissiplinêre organisasie, is die bevordering van wetenskap, tegnologie en literatuur in Afrikaans en die kunste, asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans, hoofsaaklik binne Suid-Afrika.

Die volgende bekroningsgeleentheid van SA Akademie word op 7 Oktober in Stellenbosch gehou.

Poortprys vir Poësie
Dié prys word toegeken aan Alet Janse van Rensburg van die Hoërskool Cradock vir haar gedig Wie laaste lag.

Die toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir die twee beste skeppende

bydraes (poësie, prosa en drama) deur leerlinge in grade 10, 11 en 12. Skool- en vakhoofde behartig die inskrywings om seker te maak die werk is oorspronklik. Die prys kan meer as een keer aan ʼn skrywer toegeken word.

Junior kaptein Scott-gedenkmedalje (Dierkundige wetenskappe)
Dié medalje word toegeken aan Lindi Steyn, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, vir haar verhandeling met die titel “Comparative determination of the numbers of house sparrow Passer domesticus, the Cape Glossy starling Lamprogtornid nitens, the Cape turtle dove Streptocopelia capicola and the laughing dove Streptopelia senegalensis in the Johannesburg and Vaalwater area, with study into the possible causes of expected declines”.

Besondere Erepenning van die akademie
Die erepenning is toegeken aan Karen Meiring, kykNET se direkteur van Afrikaanse TV-kanale. Meiring bevorder Afrikaans binne die vermaaklikheidsbedryf en deur verskeie bestuursprojekte. Sy het uitgestyg as waarskynlik een van die bekwaamste kunste-administrateurs in die land.

Erepenning vir visuele kunste
Die erepenning vir visuele kunste (beeldhoukuns) word toegeken aan Maureen Quin.

Quin geniet reeds sedert die tagtigerjare plaaslik en internasionaal groot aansien vanweë haar voortreflike beeldhoukuns en die uitvoer van openbare opdragte. Sy word tans beskou as een van Suid- Afrika se begaafste senior beeldhouers.

Erepenning van die SA Akademie se Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie
Die prys word toegeken aan prof. Annemarie Oldewage, hoof van die departement dierkunde, Universiteit van Johannesburg, vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebied en kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word. Prof. Oldewage se navorsing fokus op vis-parasiete en die gebruik daarvan as wagte vir watergehalte.

Stalsprys vir Politieke Wetenskap
Die prys word toegeken aan prof. Deon Geldenhuys, verbonde aan die departement politiek en internasionale verhoudinge, Universiteit van Johannesburg, vir sy bydrae oor vier dekades tot die vakgebied politieke wetenskap en in die besonder tot die ontwikkeling van internasionale verhoudinge as ʼn dissipline in eie reg.

Havengaprys vir Lewenswetenskappe.
Die prys word toegeken aan prof. Alvaro Viljoen, van die departement farmaseutiese wetenskappe by die Tshwane Universiteit van Tegnologie, Pretoria.

Die Havengaprys is ʼn jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegniese gebied. Die prys kan net een keer aan iemand toegeken word.

Prof. Viljoen is een van die voorste wetenskaplikes in die veld van medisinale en aromatiese plante in die wêreld. Hy het op betreklik jong leeftyd al meer as 80 nagraadse studente opgelei en bykans 200 publikasies in leidende internasionale wetenskaplike tydskrifte gelewer.

Havengaprys vir Gesondheidswetenskappe
Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Robert Pattinson, van die departement obstetrie en ginekologie, Kalafong Hospitaal, Universiteit van Pretoria.

Prof. Pattinson is een van min leiers op die gebied van Perinatologie in Suid-Afrika. As direkteur van die Mediese Navorsingsraad (MNR) is hy nou betrokke by die vestiging en bestuur van verskeie navorsingsprojekte in Suid-Afrika.

Ds. Pieter van Drimmelenmedalje
Dié prys word toegeken aan prof. Hermie van Zyl, navorsingsgenoot by die fakulteit teologie, Universiteit van die Vrystaat. Erkenning word veral aan prof. Van Zyl gegee vir sy bydrae ten opsigte van die Afrikaanse Bybelvertaling.

Die Ds. Pieter van Drimmelenmedalje word toegeken vir aktiwiteite soos Bybelvertaling, teologiese handboeke in Afrikaans vir gebruik deur universiteitstudente, gepubliseerde preekbundels, godsdiensonderwys en die skryf, vertaling, toonsetting en bywerking van Afrikaanse Psalms en Gesange.

Totiusprys vir Teologie en die studie van die grondtale van die Bybel
Die prys word toegeken aan prof. Koos Vorster, van die departement etiek by die Noordwes-Universiteit. Prof. Vorster word vereer vir sy uitgebreide reeks publikasies in Afrikaans en sy navorsing op die terrein van die politieke teologie en die rol van die kerk in Suid-Afrika in ʼn oorgangstydperk.

Die Totiusprys kan driejaarliks toegeken word vir ʼn hoogstaande publikasie of ʼn reeks hoogstaande publikasies in Afrikaans oor die Christelike teologie en/of die studie van die grondtale van die Bybel.

M.T. Steynmedalje vir Natuurwetenskaplike en Tegnologiese prestasie
Dié medalje word vanjaar toegeken aan prof. Ivan Horak van die departement veterinêre tropiese siektes by die fakulteit veeartsenykunde, Onderstepoort, Universiteit van Pretoria.

Prof. Horak is ʼn wêrelddeskundige oor bosluise en parasiete by diere. Hy het veral, ten opsigte van die studie van bosluise, ʼn groot bydrae gemaak wat nie net akademies waardevol is nie, maar ook ʼn basis vorm met onberekenbare waarde vir die hele Afrika, asook groot implikasies op die vee- en wildbedryf het.

Die medalje word toegeken aan ʼn kandidaat vir sy skeppende bydraes tot die ontginning, organisasie en volgehoue uitbouing van vertakkings van die natuurwetenskap of die tegnologie.

Besoek SA Akademie se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eliza-beth ·

Veels geluk aan elke wenner wat dit duidelik verdien het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.