SA Akademie herbesin oor prys vir drama

Barry Hertzog

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het begin met ʼn proses van herbesinning oor die manier waarop die taal se voorste literêre toekenning, die Hertzogprys, toegeken word wanneer die genre drama aan die beurt kom.

Ter sprake is die vereiste dat die dramateks (in boekvorm) uitgegee moet word alvorens dit vir die Hertzogprys oorweeg kan word.

Soos dr. Anthea van Jaarsveld van die Universiteit van die Vrystaat onlangs in ʼn artikel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe uitgewys het, is die aantal Afrikaanse dramatekste wat in boekvorm uitgegee word aan’t krimp.

Dít juis terwyl die aantal nuwe Afrikaanse dramatekste ontploffend toeneem danksy die opbloei in produksies, in ooreenstemming met die huidige vraag na die Afrikaanse uitvoerende kunste.

In hierdie verband het die Afrikaanse PEN-skrywersvereniging ʼn versoek aan die Akademie as toekenner van die Hertzogprys gerig om die publikasievereiste as kriterium vir die oorweging van dramatekste vir die Hertzogprys te laat vaar.

Die PEN-versoek eggo ʼn beswaar wat al jare lank in kunskringe die ronde doen oor die publikasiekriterium vir die Hertzogprys vir drama.

Die Akademie sal dus op Dinsdag 9 Oktober by die Akademie se kantore in Pretoria ʼn oop gesprek oor die onderwerp aanbied vir belangstellendes, wat voor 3 Oktober hul bywoning moet bevestig met dr. Linda Brink by telefoonnommer 086 133 3786 of e-pos [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Daan Erasmus ·

Boeke is ou tegnologie. Toe die vereiste opgestel is het byna niemand voorsien dat boeke soos hulle dit geken het sou uit sterf nie.

OWO ·

Boeke sal nie maklik uitsterf nie, maar die vereiste dat die dramateks in boekvorm uitgegee moet word alvorens dit vir die Hertzogprys oorweeg kan word,is na mening verouderd.Ons lewe lankal in die rekenaarera.

Marthinus Willemse ·

Ek glo ook dat papierboeke nie sommer gaan uitsterf nie, maar enigeen wat al gesukkel het, of soos ek nog steeds sukkel, om `n manuskrip gepubliseer te kry, weet dat die huidige Afrikaanse hoofstroomuitgewers, soos Naspers, Lapa, Penguin, slegs publiseer indien geld daaruit verdien kan word. Daar is nie meer `n behoefte om boeke te publiseer wat dalk uit `n historiese en/of letterkundige hoek belangrik is, maar nie baie kopieë gaan verkoop nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.