SA Akademie hou dán hul derde Studentesimposium

(Foto: Mohammad Shahhosseini/Unsplash)

Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) nooi nagraadse studente in die sosiale en geesteswetenskappe om hul navorsing voor te lê vir die derde Studentesimposium wat op 16 Oktober plaasvind.

Tydens die tweede Studentesimposium vir Sosiale en Geesteswetenskappe in 2019 het 46 nagraadse studente van ses Suid-Afrikaanse universiteite referate gelewer.

Die referaat-vakgebiede het ingesluit antieke tale en kulture, drama, filosofie, geskiedenis, kuns, linguistiek en letterkunde, musiek, maatskaplike werk, opvoedkunde, regsgeleerdheid, sosiologie, spraakterapie en teologie.

Nagraadse studente van reg oor Suid-Afrika het nou weer die geleentheid om hul navorsingswerk in Afrikaans in die vorm van ʼn referaat of plakkaat by die simposium aan te bied.

Die Akademie bring vanjaar Jakarandastad-gasvryheid na die huis van elke simposiumganger deur ʼn virtuele aanbieding.

Zoom, ʼn aanlyn videotoepassing, sal ingespan word om virtuele simposiumlokale te skep en deelnemers sal hul referaat per video vir die gehoor lewer. Die gehoor kan ná afloop van die referaat vrae stel deur hul virtuele hand op te steek of die vrae in die gesprekshoekie op skrif te stel.

Die simposium onderskraag die oogmerke van die Akademie deur denkleiers aan te moedig om hul bevindinge in die sosiale en geesteswetenskappe in Afrikaans met ʼn breër gehoor te deel.

Studente wat navorsing in ander tale onderneem, word dus aangemoedig om hul bevindinge te vertaal vir ʼn referaat aangebied in Afrikaans. Op dié manier groei Afrikaans as vaktaal deur menige nuutskepping in die veld van sosiale en geesteswetenskappe.

Kwalifiseer jy nie om deel te neem nie, maar jy het steeds ʼn behoefte om na ontluikende navorsers se akademiese bevindinge te luister? Geen probleem nie.

Die Akademie maak ook voorsiening vir kongresgangers wat die geleentheid wil bywoon. Maak seker jy registreer voor 28 September op die webwerf.

Die sluitingsdatum vir aansoeke is 14 September. Meer inligting oor die aanbiedingsformaat en aansoekvorm is op die Studentesimposium se webwerf beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.