SA Akademie kondig wenners aan

Antjie Krog. Foto: Antonia Steyn

Die raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het op die volgende bekronings vir 2017 besluit.

Hertzogprys vir poësie

Die Hertzogprys is die vernaamste prestigeprys in die Afrikaanse letterkundewêreld en is genoem na die groot kampvegter vir Afrikaans, genl. JBM Hertzog. Die prys is beperk tot oorspronklike letterkundige werk in Afrikaans en word jaarliks om die beurt toegeken vir poësie, drama en verhalende prosa in dié volgorde. Die prys word toegeken op aanbeveling van die Akademie se letterkundekommissie.

  • Die Hertzogprys word vanjaar toegeken aan Antjie Krog vir haar digbundel Mede-wete.

Eugène Maraisprys 2015

Die prys word toegeken vir ʼn eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ʼn persoon toegeken word. Boeke wat in 2015 verskyn het, het in aanmerking gekom.

  • Die prys word toegeken aan Lien Botha vir Wonderboom (prosa).

Eugène Maraisprys 2016

Die prys word toegeken vir ʼn eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ʼn persoon toegeken word. Boeke wat in 2016 verskyn het, het in aanmerking gekom.

  • Die prys word toegeken aan Amy Jephta vir Kristalvlakte (drama).

Eugène Maraisprys 2016

Die prys word toegeken vir ʼn eerste of vroeë letterkundige werk en kan net een keer aan ʼn persoon toegeken word. Boeke wat in 2016 verskyn het, het in aanmerking gekom.

  • Die prys word toegeken aan Bibi Slippers vir Fotostaatmasjien (poësie).

SA Akademieprys vir vertaalde werk

Dieselfde genre-indeling (prosa, poësie, drama) as by die Hertzogprys word gevolg.  Die prys word toegeken vir vertaling in Afrikaans van bellettristiese werk uit enige ander taal. By die beoordeling van die vertaling word gelet op die aansien wat die vertaalde werk binne sy eie taal se letterkunde geniet en op die juistheid en algemene geslaagdheid van die vertaling.

  • Die prys word toegeken aan Daniel Hugo vir Oorlog en terpentyn, oorspronklik in Nederlands geskryf deur Stefan Hertmans.

L.W. Hiemstraprys vir niefiksie

Die toekenning van die prys word driejaarliks oorweeg vir ʼn oorspronklike niefiksie werk in Afrikaans wat nie beperk is tot die vakspesialis nie.

  • Die prys word toegeken aan Carel van der Merwe vir Donker stroom.

Havengaprys vir lewenswetenskappe

Die Havengaprys is ʼn jaarlikse prestigeprys wat toegeken word vir oorspronklike navorsing op natuurwetenskaplike en/of tegnologiese gebied.  Die prys kan net een keer aan ʼn persoon toegeken word.

  • Die prys word toegeken aan prof. Jolanda Roux, verbonde aan die Departement Plantwetenskappe, Universiteit van Pretoria.

Roux is een van Suid-Afrika se uitsonderlike wetenskaplikes en haar werk word nasionaal en internasionaal erken. Haar bydrae tot die wetenskap in Afrika word wyd erken en waardeer.

Havengaprys vir fisieke wetenskappe

  • Die prys word toegeken aan prof. HB (Hendrik) Geyer, verbonde aan die Departement Fisika, Universiteit van Stellenbosch.

Geyer se publikasierekord getuig daarvan dat hy ʼn baie aktiewe navorser is wat ʼn enorme bydrae tot aspekte van kwantummeganika maak. Hy word beskou as ʼn baanbreker in die relatief nuwe veld van sogenaamde PT-simmetriese fisika.

Stalsprys

Dié prys word toegeken vir ʼn hoogstaande publikasie of ʼn reeks van hoogstaande publikasies by voorkeur in Afrikaans, asook vir individuele of gesamentlike produkte van hoogstaande gehalte waardeur buitengewone bydraes tot die wetenskaps­beoefening gemaak word.

Stalsprys vir maatskaplike werk

  • Die prys word toegeken aan LK (Lambert) Engelbrecht, hoof van die Departement Maatskaplike Werk, Universiteit van Stellenbosch.

Engelbrecht lewer ʼn beduidende bydrae tot die professie van maatskaplike werk. Dit is veral Engelbrecht se werk oor die effek van neoliberalisme op maatskaplike werk-dienslewering wat plaaslik en internasionaal hoog aangeskryf word.

Huberte Rupertprys vir klassieke musiek

  • Die prys word toegeken aan die operasangeres Hanna van Niekerk.

Volgens die maatstaf van opera optredes het Van Niekerk veel tot haar krediet in hoofrolle in operaproduksies soos Madama Butterfly, La bohème en Nabucco. Die kunslied, en meer spesifiek die Afrikaanse kunslied, het mettertyd die middelpunt van haar loopbaan gevorm.

Deleen Bekkerprys vir die beste dokumentêre TV-draaiboek in Afrikaans

  • Die prys word toegeken aan Richard Finn Gregory vir Boere op die aardsdrempel.

Gregory is die regisseur en draaiboekskrywer van die program wat die verhaal van 600 Boerefamilies van Suid-Afrika ná die Anglo-Boereoorlog na Argentinië verlaat om die spook van die konsentrasiekampe en ʼn nuwe regering te ontwyk. Die wetenskaplike waarde van die rolprent lê veral in die dokumentering van die Afrikaanse taal wat na meer as ʼn eeu in isolasie weinig verander het en tot vergelykende taalstudies kan lei.

Erepenning van die Akademie

Die Akademie se Erepenning gee erkenning vir besondere prestasie op verskeie terreine binne die doelstellings van die Akademie.

Erepenning vir die bevordering van geskiedenis

Hierdie erepenning gee erkenning aan ‘n persoon vir ʼn besonder hoogstaande bydrae tot die bevordering van die geskiedenis as dissipline in Suid-Afrika.

  • Die Erepenning word vanjaar toegeken aan dr. Nicol Stassen van Protea Boekhuis.

Stassen het op ʼn wye front ʼn besonder positiewe bydrae tot die studie van geskiedenis gelewer. Nie alleen het hy met sy eie publikasies ʼn unieke bydrae tot ons kennis van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gelewer nie, maar speel as uitgewer en boekhandelaar ʼn prominente rol in die ontginning van geskiedeniswerke en, indien ʼn mens die begrip kultuurgeskiedenis breër interpreteer, vanweë die publikasie van Afrikaanse poësie, prosa en dramakuns, en die vertaling in Afrikaans van anderstalige werke van fiksie en niefiksie.

Erepenning vir ʼn dokumentêre televisieprogram in Afrikaans

  • Die Erepenning word toegeken aan Richard Finn Gregory vir Boere op die aardsdrempel.

Die program handel oor die afstammelinge van ʼn groep Afrikaanssprekende Boere wat na die Anglo-Boereoorlog in 1902 hulle in Patagonië, Argentinië, gevestig het. Die program is ʼn dokumentêr met gegewens wat vir die huidige Suid-Afrikaner van besondere waarde is, naamlik die historiese taalkundige vonds wat daarin gevind word, asook die optekening van ʼn verbygegane leefwêreld van ʼn klein groep Afrikaners op ʼn ander vasteland en hulle verbintenis met ʼn historiese gegewe van meer as ʼn eeu gelede.

Erepenning vir toneel- en verhoogkuns en die Gerhard Beukesprys

  • Dié erepenning word toegeken aan Gerben Kamper, verbonde aan die Departement Drama en Teaterkuns, Universiteit van die Vrystaat.

Die prys word aan Kamper toegeken vir sy lewenslange en uitmuntende artistieke bydrae tot die Afrikaanse teater as veelsydige teaterkunstenaar, teateradministrateur en akademikus. Op artistieke gebied bly hy besonder bedrywig en tree op in die professionele teatergroep FACTS van die Universiteit se Dramadepartement. Op nasionale kunstefeeste tree hy gereeld op as bekroonde akteur en regisseur.

Erepenning vir radiodrama in Afrikaans

  • Dié erepenning word toegeken aan Marita van der Vyver vir haar radiohoorspel Genade.

Met haar hoorspel skep Van der Vyver twee onvergeetlike karakters. ʼn Egpaar wat ʼn lang en gelukkige huwelik gesmaak het, word onderwerp aan die vrou wat aan Alzheimer se siekte ly. Die skrywer slaag daarin om twee volbloedmense daar te stel en terselfdertyd met subtiliteit en besonder raak gekose woorde en omstandighede die toename in die simptome van die gevreesde siekte vas te vang. Dit word nooit ʼn mediese lesing nie. Dit bly ʼn eg menslike verhaal vol kinkels en humor en patos.

Erepenning vir visuele kunste

  • Die erepenning vir visuele kunste (grafiese kuns) word toegeken aan Ben Botma.

Botma is ʼn grafiese kunstenaar wat op ʼn hoogs individualistiese manier na die Suid-Afrikaanse landskap kyk, wat hy interpreteer met ʼn groot verskeidenheid mediums. Sy delikate aanslag en die tydsaamheid waarmee hy werk, is in al sy werke tekenend van ʼn groot liefde vir die agterdoek van epiese proporsies waarvoor ʼn landskapkunstenaar in Suid-Afrika te staan kom. Sy kommentaar op voorwerpe wat op die ongeskonde aarde verskyn, soos kruise of blokhuise langs die pad, is vlymskerp en dikwels roerend. Min plaaslike kunstenaars het met hul medium só na aan die aarde van hierdie land gekom.

Erepenning van die Fakulteit Natuurwetenskap en Tegnologie

Hierdie erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebied en kan net in uitsonderlike gevalle toegeken word.

  • Die prys word toegeken aan prof. JH Neethling, verbonde aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in Port-Elizabeth.

Neethling het onverpoos ʼn bewusmakings- en geldinsamelingsveldtog geloods om op dieselfde vlak in Suid-Afrika te kom as die voorste materiaalnavorsingsuniversiteite deur ʼn moderne hoë-oplosvermoë elektron­mikroskoop en kundige personeel by die NMMU te vestig. Neethling het ook die nodige geld bekom vir die oprig van ʼn spesiale gebou om die vier elektronmikroskope ter waarde van R96 m te huisves.

Protea Boekhuisprys vir die beste geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs

  • Die prys word toegeken aan Anneke van Heerden, verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Die prys word toegeken vir haar MA-verhandeling met die titel “Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die Suid-Afrikaanse blanke burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog 1968-1989”.

Albert Stratingprys vir voorkomende geneeskunde

Die volgende geld by die keuse van ʼn kandidaat: Voortreflike bydraes tot ʼn vertakking of vertakkings van voorkomende geneeskunde wat as wesenlike bydrae tot die bevordering van die gesondheid van die gemeenskap en die voorkoming van siekte beskou kan word.

  • Die prys word toegeken aan prof. SJ (Hanlie) Moss, navosingsdirekteur van die fokusarea Fisieke Aktiwiteit, Sport en Rekreasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

Epidemiologiese studies dui aan dat fisieke aktiwiteit as ʼn belangrike modaliteit in die bevordering van gesondheid kan dien. Vir Moss is hierdie navorsingsveld ʼn passie en haar wetenskaplike ingesteldheid en ywer, asook die praktiese toepassing van navorsingsresultate werp vrugte af. Sy het onder meer monumentale werk gelewer met verstandelik-gestremde persone waarvoor sy internasionale erkenning gekry het.

DF du Toit-Malherbeprys vir genealogiese navorsing

  • Die prys word toegeken aan prof. Gerhard Geldenhuys, emeritus-professor van die Departement Toegepaste Wiskunde, Universiteit van Stellenbosch.

Geldenhuys ontvang die prys vir die besondere rol wat sy genealogiese navorsing gespeel het op ʼn medies-wetenskaplike gebied in die ontrafeling van die molekulêre oorsake van oorerflike siektes.

Elizabeth C. Steijnmedalje

Hierdie medalje is ingestel om ʼn onderwyser of onderwyseres te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne, sowel as buite die klaskamer.  Dit is genoem na Elizabeth C. Steijn, wat vir baie jare die hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria was.

  • Die medalje word toegeken aan mnr. Jannie van der Westhuizen, rektor van die Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch.

Die kombinasie van Van der Westhuizen se strategiese en praktiese denke, tesame met sy unieke kundigheid rondom onderwys-kompleksiteite in Suid-Afrika, word wyd erken in die skole-sektor, sowel as akademiese kringe.

Besondere erepenning

  • ʼn Besondere erepenning word toegeken aan Tommie Sassen van Pretoria.

Sassen word beskou as een van Suid-Afrika se werklik groot kunstenaars op die gebied van die ontwerp en maak van stempels vir geldmuntstukke, sowel as medaljes vir spesiale geleenthede en vir prystoekennings. Om ʼn stempel vir ʼn medalje of vir ʼn muntreeks voor te berei en te sny is ʼn seldsame vaardigheid. Die persoon moet nie net ʼn goeie kunstenaar wees nie, maar moet ook oor uitstekende tegniese vermoëns beskik. By die vervaardiging van die stempels is kennis van metale noodsaaklik om te verseker dat ʼn goeie weergawe van die beplande ontwerp gedruk word.

Douw Greeff-prys

Dié prys word toegeken vir ʼn navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gedurende die jaar wat die prys voorafgaan, gepubliseer is.

  • Die prys word toegeken aan prof. Eduard Venter, Phumzile Sibisi en Natasha van de Haar van die Departement Plantkunde en Plant Biotegnologie, Universiteit van Johannesburg en Adriaana Jacobs van die Landbou-navorsingsraad, Plantbeskerming vir hul artikel “Bakteriële populasieprofiele vanaf diesel verkry by vulstasies” in Die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, vol. 35, no. 1 (2016).

Esther Greeff-prys

Dié prys word vir ʼn navorsings- of oorsigartikel van hoogstaande wetenskaplike gehalte wat in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe gepubliseer is, toegeken.

  • Die prys word vanjaar toegeken aan prof. Nerina Bosman, verbonde aan die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria vir haar artikel “EET en DRINK in Afrikaans – ʼn leksikaal-semantiese ondersoek” in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jg. 55(1), Maart 2015.

Junior Kaptein Scott-gedenkmedalje (Plantkundige Wetenskappe)

Die medalje kan jaarliks toegeken word vir die beste verhandeling wat by ʼn Suid-Afrikaanse universiteit vir die MSc-graad ingedien is (om die beurt in die dierkundige of plantkundige wetenskappe).

  • Die medalje word toegeken aan SF (Ancia) Cornelius, student van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroom-kampus. Die titel van haar verhandeling is “Health Clinic Gardens in North-West Province, South Africa, as Complex Social-ecological Systems”.

Poortprys

Toekenning van hierdie prys word jaarliks oorweeg vir die twee beste skeppende bydraes (poësie, prosa, drama) deur leerders in graad 10, 11 en 12.

Die prys word vanjaar toegeken aan:

  • Prosa: Nina du Preez, ʼn graad 10-leerder aan die Hoërskool Centurion, Pretoria.
  • Poësie: Brigitte Geyer, ʼn graad-12 leerder aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pr2 ·

Ag net nie Antjie Krog nie. Was daar dan niemand, niémand anders nie?

Lynette Schultz ·

Pr2, ek het regtig gedink ek is die enigste mens wat so oor haar voel. Dankie! Ek wonder so dikwels of ou Antjie Somers-Krog darem nog ‘n paar trane het om te stort vir blankes wat letterlik geslag word in hierdie land soos wat sy gestort hetby die Waarheids- en Versoeningskimmissie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.