SA dorp kry nié Unesco-status

Stellenbosch-stadsaal (Foto: Google Maps)

Ondanks die harde werk en insette van dr. Darryl David van die Universiteit van Wes‑Kaapland en sy bodkomitee is Stellenbosch nie deur Unesco as ʼn “stad van letterkunde” aangewys nie.

Die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch het hierop gereageer en meen dat David en die komitee se werk nié tevergeefs was nie.

“Ons is dankbaar vir die geweldige hoeveelheid werk wat hulle gedoen het om Stellenbosch se naam internasionaal te laat opklink. Al is Unesco-status nie aan die dorp toegeken nie, sal al die tale wat in en om Stellenbosch gebruik word by dié blootstelling baat,” sê Lenelle Foster, mediabestuurder van die departement.

Maroela Media het vroeër berig dat David ʼn aansoek ingedien het om die Eikestad deur die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) as ʼn Afrikaanse dorp van letterkunde te laat verklaar.

Indien die bod suksesvol was, sou die Stellenbosch-munisipaliteit een van slegs 39 literatuurstede wêreldwyd wees en sou die dorp in uitgelese internasionale geselskap gewees het naas ander literatuurstede soos Utrecht, Dublin, Praag, Seattle en Edinburgh. Unesco het vanjaar Gotenburg, Jakarta en Vilnius by sy netwerk van kreatiewe stede gevoeg.

Stellenbosch se status as literatuurstad sou nie direkte of onmiddellike finansiële voordeel inhou nie, maar dit was ʼn geleentheid om die dorp en omliggende dorpe, soos Franschhoek en Pniël, by ʼn wêreldwye netwerk van tientalle ander stede te laat inskakel.

Volgens Foster gaan dit veral gepaard met samewerkingsmoontlikhede om boeke en letterkunde te bevorder.

“Die bod is dalk nie aanvaar nie, maar dit was ʼn fantastiese geleentheid om ’n internasionale gehoor aan gevestigde plaaslike skrywers bloot te stel. Moontlikhede wat hier bestaan om saam met die boekebedryf die ekonomie te stimuleer en ʼn liefde vir die woord te kweek, is ook onder die vergrootglas geplaas.”

Wanneer dit by literêre en boekefeeste kom, is David ʼn bekende naam. Hy was betrokke by die vestiging van die BookBedonnerd-fees op Richmond, die kinderboekfees in Pietermaritzburg, die Adam Small-fees in Pniël en die Madibaland World Literary Festival, ʼn aanlyn boeke- en skrywersfees – om slegs enkeles te noem. In 2017 het Durban onder sy leiding ʼn stad van letterkunde geword.

David het op 11 November tydens ʼn middaguurgesprek by die Departement Afrikaans en Nederlands oor die bod en die idee van Stellenbosch as ʼn stad van letterkunde gepraat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
MARTIE

Wat was rede dat bod nie aanvaar is nie?

Jaada

Weens die onderdrukking van afrikaans aan US kan Stellenbosch nie aanvaar word nie – dit sou teenstrydig gewees het.

koos

Man, Stellenbosch se kultuur kom uit ‘n wynbottel uit en daarom het julle ‘n hoër status in my oë.