SA-regering “betreur” ooreenkoms oor taalsamewerking

Argieffoto

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse regering skop klaarblyklik ‘n ooreenkoms met Nederland en België oor taalsamewerking in die tande.

Volgens ‘n mededeling tydens ‘n vergadering van ‘n Interparlementêre Kommissie van die Nederlandse Taalunie sou die SA-regering amptelik laat weet dat hulle dit betreur dat hulle vier jaar gelede ‘n intensieverklaring oor taalsamewerking in Brugge, België met Nederland en België onderteken het en dat hulle afsien van die samewerking, sê prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR) in ‘n verklaring.

“Pogings van die Taalunie om met die SA-regering te onderhandel en woorde in dade om te sit, was oor vier jaar tevergeefs,” aldus Van der Elst.

Die Nederlandse Taalunie is die amptelike liggaam wat die inisiatief geneem het om taalbande tussen die verskillende lande te reël. Die Afrikaanse Taalraad wag nog op bevestiging van die Taalunie of daar wel ‘n amptelike skrywe van die SA-regering ontvang is. Op grond van Nederlands se verwantskap met Afrikaans is daar met die Suid-Afrikaanse regering onderhandel om ook Afrikaans by die bestaande taalverdrag in te sluit. Samewerking kan slegs op ‘n regering-tot-regering basis plaasvind, nie deur burgerlike instellings soos die ATR nie.

“Die Afrikaanse Taalraad is daarvan bewus dat die regering, by name die departement van kuns en kultuur, oor jare voete sleep waar dit kom by die inwerkingstelling van die verdrag. Die Taalraad sal die saak met die departement opneem. Klaarblyklik kan vooroordeel en miskenning van die voordele wat die betrokke taalverdrag vir Afrikaans sou inhou, ‘n rol by die besluitneming kon speel.

“Na verneem word, sou die uitwerking van die verdrag nie net betekenis vir Afrikaans hê nie. Voorstelle vir subsidiëring van taaltegnologie om veeltaligheid in Suid-Afrika te bevorder, het blykbaar op dowe ore geval. Indien bevestiging gekry word dat die Suid-Afrikaanse regering nou wel amptelik samewerking van die hand gewys het, het die ATR ‘n gebeurlikheidsplan wat die gebrek aan samewerking kan oorbrug.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kaapse Kulturele Uitsaai Assosiasie ·

Ons is ‘n sukkelende grotendeelse Afrikaanse gemeenskapsradio, maar sukkel om Afrikaans-sprekende aanbieders te kry hier aan die voet van Tafelberg!!!

Asseblief, leiers wat die taal lewend probeer hou….gee raad. Ek doen nou leeslesse met voornemendes, maar hulle wil selfs vir die leersessies betaal word! Teen dag 3 moet ek hoor….we don’t have taxi money! When are we getting paid?

Dankie vir jul mooi webwerf….ook rkpfm streef na hierdie standaard!!! mooi loop!
Silla vannie Kaap

Chris ·

Dit is echt belachelijk. Ik hoop dat de Nederlandse minister van Buitenlandse zaken, Frans Timmermans, door partijen in het Nederlandse parlement op dit geval gewezen wordt. Gelukkig kwam het vorige initiatief in 2008 om Zuid-Afrika bij de Taalunie te betrekken ook van Frans Timmermans. De Nederlandse minister van Buitenlandse zaken heeft in interviews met Afrinetwerk/Solidariteit aangegeven dat hij de betrekkingen tussen het Afrikaans en Nederlands zeer belangrijk vindt.

Ik hoop dat zowel Frans Timmermans als de Vlaamse regering hun Zuid-Afrikaanse collega’s even flink op hun donder geven!

Apartheid is voorbij, dus een culturele boycot is nergens voor nodig. Breek af die barricade en zorg dat Afrikaans- en Nederlandssprekenden samen kunnen werken. Linksom of rechtsom!

Chris ·

Silla vannie Kaap,
Lekker om van jul stasie te hoor. Ook jammer om te verneem dat julle “maar sukkel om Afrikaans-sprekende aanbieders te kry hier aan die voet van Tafelberg!!!
Glo my vry, dit is nie net aan die voet van jul berg waar dit die geval is nie. Ek het 8 jaar in diens van Suidkaap FM gestaan sonder enige vergoeding want die Afrikaanse uitsaai is ‘n passie vir my. Daarna was ek vir 7 maande by Radio Panorama in die Noord-Vrystaat werksaam waar ons eweneens maar met die tekort aan goeie omroepers gesukkel het. Ek is tans in Bloemfontein waar ek sedert Julie 2013 poog om ‘n stemtoets by Radio Rosestad en/of OFM te kan doen, sonder dat hulle enigsins op my versoeke reageer.
Dankie vir die goeie diens wat julle aan die Kaap lewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.