Sagteware: Afrikaanse Skryfgoed 4

Die nuwe Afrikaanse SkryfGoed 4 is nou beskikbaar vir almal wat foutlose Afrikaans wil skryf. Dié versameling van Afrikaanse elektroniese skryfhulpmiddels is pas deur die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®), ʼn navorsing- en ontwikkelingsentrum aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, ontwikkel.

Hierdie jongste weergawe van die immergewilde Afrikaanse SkryfGoed bestaan uit vier skryfhulpmiddels vir Microsoft Office, naamlik ’n Afrikaanse Speltoetser, Grammatikatoetser, Tesourus en Woordafbreker, en is volledig met Microsoft® Office 2013 en Windows 8 versoenbaar.

Die Grammatikatoetser en Tesourus is enig in hul soort in Afrikaans vir Microsoft Office, en die Speltoetser is die enigste sogenaamde tweedegenerasiespeltoetser wat tans vir Afrikaans bestaan. Dit beteken dat die nuutste tegnologie en gevorderde prosessering gebruik word om beter resultate te lewer.

Afrikaanse SkryfGoed 4 word ook gereeld bygewerk om by die nuutste spelreëls en ontwikkelinge in Afrikaans aan te pas, en dié hulpmiddels het reeds goeie reaksie by verskeie taalkenners en -praktisyns ontlok.

“Ek wil regtig nie meer aan ’n Afrikaanse teks werk sonder my SkryfGoed nie,” sê Tom McLachlan, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie. Hy is, nes vele Suid-Afrikaanse skrywers, akademici en sakelui, ʼn getroue gebruiker van Afrikaanse SkryfGoed. McLachlan sê hy wil nie sonder Afrikaanse SkryfGoed werk nie, omdat die grammatikatoetser hom “…meermale help om glipse wat hy weens skryfhaas maak, betyds raak te sien”. Boonop breek die woordafbreker woorde op die regte plekke af na ʼn volgende reël.

Volgens prof. Franci Greyling, ’n skrywer en dosent in Skryfkuns op die Potchefstroomkampus, is die Afrikaanse Speltoetser ʼn nuttige manier om spel- en tikfoute vinnig raak te sien. Sy gebruik verder graag die Afrikaanse Tesourus om alternatiewe vir geykte woorde in haar skryfwerk te soek.

“Ek is een van die getroue volgelinge en ondersteuners van Afrikaanse SkryfGoed. Ek kan my amper nie ʼn tyd indink dat ek daarsonder moes klaarkom nie! Ek gebruik alle funksies. Die Speltoetser is veral besonder waardevol omdat dit gou my tikfoute uitwys,” het prof. Wannie Carstens, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, gesê.

Afrikaanse SkryfGoed 4 is nou by www.spel.co.za of [email protected] beskikbaar. Belangstellendes kan ook 018 297 0164 skakel vir enige navrae, bestellings of tegniese ondersteuning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.