Sakpas-pryse vier Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag

Argieffoto (Foto: Birgit Böllinger/Pixabay)

Daar is niks so lekker as om agteroor te kan sit met ʼn stomende koppie koffie en om jou gunsteling- Afrikaanse boek oop te slaan nie.

Of dit nou spanningsbelaaide misdaadfiksie, ʼn Romanza of ʼn niefiksieboek is, daar is niks so bevrydend soos om verlore te raak in ʼn ander wêreld nie.

Op 14 Augustus vier die Vriende van Afrikaans (VVA), ʼn afdeling van die ATKV, die Afrikaanse geskrewe woord met Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag.

“Ons wil die lekkerte van boeke en lees in Afrikaans onder almal se aandag bring, veral omdat daar wonderlike Afrikaanse boeke op die mark is,” sê Chareldine van der Merwe, projekbestuurder van die VVA.

Sy sê verskeie uitgewers en boekhandelaars maak deel uit van dié bewusmakingsveldtog.

“Ons wil die waarde van boeke en lees deur die projek bevorder en help verseker dat daar nog steeds goeie Afrikaanse boeke sal verskyn. Almal kan by hierdie projek baat: lesers, skrywers, boekwinkels en uitgewers.”

Van der Merwe wil ook hê dat ouers hulle kinders by die dag betrek.

“ʼn Kind of mens wat lees, verstaan die wêreld beter, weet die wêreld is veel groter as sy leefwêreld, weet ons is nie almal eenders nie en besef ons dink ook nie eenders oor sake nie. Iemand wat lees, het ʼn geleentheid om ander mense met respek te hanteer.”

Vanjaar se Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag word spesiaal opgedra aan wyle oom Nolte Smit (83), ʼn spitsraadlid van die VVA. Smit, ʼn oudskoolhoof, is Saterdag 30 Julie dood. Die idee om ʼn dag aan die Afrikaanse letterkunde te wy het juis by hom posgevat.

“Die VVA het groot waardering vir die werk wat hy gedoen het. Hy was ʼn besonderse mens en het hard vir die VVA gewerk omdat hy so lief was vir Afrikaans, en teen geen vergoeding nie. Oom Nolte het die VVA se argief behartig en dit is absoluut verstommend wanneer ʼn mens deur daardie lêers werk hoe sistematies en netjies hy dié taak voltooi het.”

Smit word op 14 Augustus – Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag – ter ruste gelê. Vanjaar sal die 17de jaar agtereenvolgens wees wat hierdie dag gevier word.

“Dis in alle opsigte ʼn wen-wendag, want lesers, skrywers, uitgewers en boekwinkels word bevoordeel. Lesers kry afslag op boeke waarvoor skrywers tantième verdien. Hoe meer boeke verkoop word, hoe beter vir die algehele Afrikaanse boekbedryf, en jy kan deel wees hiervan,” sê Van der Merwe.

Ondersteun die Afrikaanse boekbedryf en koop ʼn Afrikaanse boek vir jouself of skenk dit aan iemand wat nie so bevoorreg is om nuwe boeke te koop nie.

Die volgende boekwinkels en uitgewers vier saam met die Vriende van Afrikaans en die ATKV Koop-ʼn-Afrikaanse-boekdag en bied afslag tussen 9 en 16 Augustus.

Wees op die uitkyk vir afslag op boeke by die volgende winkels:

  • Die volgende PNA-boekwinkels bied 25%-afslag: Strand Square, Somerset Mall, Somerset Square, Eikestad Mall, Stellenbosch Square, The Sanctuary, Whale Coast Mall, Gordonsbaai, Hermanus Station Mall, Swellendam.
  • Alle Exclusive Books-takke bied 20%-afslag vanaf 9 tot 15 Augustus.
  • Alle CUM Books-takke bied 20%-afslag op 14, 15 en 16 Augustus.
  • Alle Protea-boekwinkels bied 20%-afslag van 10 tot 14 Augustus.
  • Lapa Uitgewers bied op 14 Augustus tussen 10%- en 75%-afslag op aanlyn verkope en op co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.