Sinonieme en ekwivalensie – die gewig van woorde

Argieffoto (Foto: Tumisu, Pixabay)

Ek kry heelwat navrae oor sinonieme. Dis skoolwerk, en dis iets wat geleer moet word, maar dit lyk my dit wat mense onder die term verstaan, verskil hemelsbreed. En die “skooldefinisie” daarvoor, wat lui dat dit gewoon “woorde met dieselfde betekenisse” is, gee ook nie die kompleksiteit van die verskynsel behoorlik weer nie.

Die WAT definieer sinoniem so: “Enigeen van twee of meer leksikale items, soos ‘n morfeem, woord of frase, waarvan die betekenisse in ‘n hoë mate ooreenstem en wat mekaar dikwels in sommige kontekste kan vervang.”

Ja, sinonieme handel oor betekenis, en ja, dit handel oor betekenis wat ooreenstem. Maar betekenis is ʼn ding wat ʼn mens net so moeilik in jou hande hou as water, en as jy weer kyk, het jou hele argument oor sinonimie verdamp.

Dis allernoodsaaklik om te besef dat sinonimie nie iets is wat los van konteks bespreek kan word nie. Die WAT-definisie wat pertinent “sommige kontekste” noem, gee iets hiervan weer. Selfs woorde wat in sommige kontekste uitruilbaar voorkom, is in ander nie sinonieme nie. Of woorde wat oënskynlik dieselfde betekenis het, het nie dieselfde emosionele gewig nie.

Dink maar aan ʼn woord soos “mooi”. Wie gaan stry dat “pragtig” ʼn sinoniem is vir “mooi”? Dis so ʼn standaardvraag en -antwoord in ʼn skoolhandboek dat ʼn mens nie eers meer daaraan dink dat dit dalk nie die volle waarheid is nie. ʼn Mooi blom of meisie of motor of rapport kan beslis ook pragtig wees. Selfs die dag of die weer kan netsowel “pragtig” as “mooi” wees as ʼn mens nou regtig die saak wil uitrek. Maar jy kan nie eintlik vir ʼn kind sê om pragtig te eet of te praat of te sit nie. Die bevel gaan altyd wees: “Eet mooi!” Daarna kan jy prys en sê: “Jy het pragtig geëet!”, maar dis nie die muntkant van “eet mooi” nie. “Eet mooi” beteken “eet gemanierd”. “Jy het pragtig geëet” beteken “jy het al jou kos mooi gehoorsaam opgeëet”. Nie sinonieme nie.

Emosionele gewig speel ʼn rol by woorde soos “gesig”, “gelaat”, “gevreet” en “bakkies”. Die woorde beteken presies dieselfde ding en is dus volgens die eenvoudige definisie sinonieme. Maar taalgebruikers weet baie goed dat hierdie terme nie in alle kontekste ewe gepas is nie. In ʼn koerantberig oor iemand se dood kan ʼn joernalis byvoorbeeld verwys na ʼn begrafnisganger se “stroewe gelaat”, maar nie na sy “stroewe bakkies” nie. ʼn Oulike kleuter kan ʼn “fraai gevreetjie” hê, maar nie ʼn “fraai gelaat” nie. ʼn Hond wat die skaapboud van die tafel af gesteel het, kan sy “skuldige bakkies” wegsteek, maar nie sy “skuldige gelaat” nie. En as jy sonder enige konteks vir ʼn leerder vra om vir jou ʼn sinoniem vir “gesig” te gee, kan hy of sy ook skryf “visioen” en korrek wees. Konteks is die sleutel.

Die bittereinders gaan redeneer dat woorde soos “chirurg” x “snydokter” of “bloulelie” x “agapant” uitruilbaar is, maar selfs hier is daar subtiele verskille. ʼn Ma wat met haar slim bloedjie wil spog, gaan sê sy is ʼn “chirurg”, sy gaan nie sê haar meisiekind is ʼn “snydokter” nie. Die een klink belangriker as die ander. En ʼn skrywer wat ʼn kontreistorie vertel waarin ʼn veldkind loop en blomme soek om op haar oorlede pa se graf te sit, gaan skryf van die bloulelies wat blom, nie van die agapante wat die kind aangedra het nie. Die betekenis is dieselfde, maar die gevoel is nie.

Kortom: Woorde is multidimensioneel. Taal is multidimensioneel. Om ʼn lys op te stel waaruit leerders sinonieme of antonieme moet leer en dit dan voor te hou as die volle reikwydte van die taal se uitdrukkingsvermoë, is kortsigtig. Dit doen die taal ʼn onreg aan. Dit doen die kinders ʼn onreg aan.

Laat hulle liewer kyk na die lyste woorde in Afrikaanse SkryfGoed se Tesourus as hulle sinonieme nodig het. ʼn Tesourus gee verskillende alternatiewe moontlikhede, maar gee dit binne ʼn bepaalde konteks of gebruikstoepassing. Dis nie ʼn plat lys waarin daar net ʼn kruis en ʼn munt is en wat die seggingskrag van die taal verskraal nie. En SkryfGoed se Tesourus is boonop gratis toeganklik via ons slimfoontoepassing of via ons webblad. Laai gerus VivA-app of VivA-app (Aanlyn) af, of registreer op ons webblad by viva-afrikaans.org.

VivA-groete
Sophia

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.