Sintaktiese funksies – ʼn blitsgids

Foto ter illustrasie. (Foto:
Vladyslav Bahara/Unsplash)

As daar nou een ding is waaroor onderwysers, leerders en ouers maagpyn kry, is dit sinsontleding. Daardie deel van die grammatika waar ons moet bepaal wie die bal wanneer waar vir wie geskop het.

Ongelukkig het van die skoolhandboeke die pad byster geraak, en daar is onakkurate inligting wat die rondte doen. Die volgende inligting oor sintaktiese funksies is behoorlik nagevors, geverifieer en in ooreenstemming met internasionale navorsing.

Wat is sintaktiese funksies?

As ons oor sintaktiese funksies praat, praat ons oor begrippe soos subjek (of onderwerp), gesegde, direkte objek (of direkte voorwerp), indirekte objek (of indirekte voorwerp), en bywoordelike bepalings.

Dit is kernbelangrik om in gedagte te hou dat sintaktiese funksies gaan oor wat die bepaalde gedeelte van die sin vir die hoofwerkwoord doen. Dit is hoekom ons met sinsontleding altyd heel eerste vra Waar is die hoofwerkwoord?

Wat is die verskil tussen sintaktiese funksies en sintaktiese vorm?

Dit is geweldig belangrik om te onderskei tussen ʼn sinsdeel se funksie (dit wat die stuk sin vir die groot sin doen) en die sinsdeel se vorm (hoe die stuk sin vormlik lyk), want ʼn sintaktiese funksie kan deur ʼn woord, ʼn sinsdeel of ʼn bysin verrig word. Die grootste verwarring in sinsontleding kom by hierdie onderskeid in, en as ʼn mens dit gesnap het, is jou kop deur.

In die voorbeelde hier onder is die vetgedrukte gedeeltes elke keer die subjek (onderwerp), hoewel die funksie deur verskillende bousels (vorm) verrig word.

Hy droom van pienk olifante. (subjek = woord)

My kollega droom van pienk olifante. (subjek = sinsdeel)

Wie ook al hierdie voorstel gemaak het, droom van pienk olifante. (subjek = bysin)

Watter sintaktiese funksies onderskei ons?

Sprekers wat ʼn taal vlot praat, kan vir hom buig en plooi soos wat dit hulle pas. Dis nie vir leerders nodig om te weet wat ʼn subjek, ʼn gesegde of ʼn bywoordelike bepaling is om Afrikaans te kan praat nie, en selfs ontaalvaardige sprekers kan baie ingewikkelde sinne maak. Taalkundiges wat sintaksis as hulle studieveld kies, is deeglik hiervan bewus, en die onderskeid tussen al die verskillende sinsfunksies kan soms vurige debatte ontlok.

Uit die navrae wat ek kry, lyk dit vir my asof ʼn mens op skoolvlak ten minste die volgende moet kan identifiseer:

Die subjek (ook onderwerp)

Die gesegde

Die direkte objek (ook direkte voorwerp)

Die indirekte objek (ook indirekte voorwerp)

Die bywoordelike bepaling(s)

Jy sal opmerk dat ek nie byvoeglike bepaling(s) hier insluit nie. Die “vereiste” vir ʼn sintaktiese funksie is dat dit ʼn stuk sin moet wees wat iets vir die hoofwerkwoord doen. Enige byvoeglike ding doen iets vir ʼn naamwoord, nie ʼn werkwoord nie, en daar kan dus per definisie nie iets soos ʼn byvoeglike bepaling wees nie. Dit wat tans as byvoeglike bepalings bekend staan, is gewoon deel van ʼn ander sintaktiese funksie, soos die subjek of die direkte objek.

Hoe onderskei ons sintaktiese funksies?

Ek het vir my studente die volgende “resep” gegee om hulle te help. Dis nie ʼn voorskrif nie, as jy ander maniere het om ontledings te doen, is dit doodreg. Hierdie metode het maar net vir my gewerk.

Gestel jy moet die volgende sin ontleed: Hierdie kind wat julle gesê het is dom, vra my gereeld vrae in my klas.

Stap 1: Vind die hoofwerkwoord.

  • Vra: Watter woord dui die handeling of toestand aan en gaan oorbly in die sin as al die ander werkwoorde weggelaat is?
  • Antwoord: vra

Stap 2: Vind die subjek (onderwerp).

  • Vra: Wie/wat [hoofwerkwoord]?
  • In die voorbeeld is dit Wie [vra]?
  • Antwoord: Hierdie kind wat julle gesê het is dom

Let wel: dis die hele lang antwoord, nie net hierdie kind nie.

Stap 3: Vind die gesegde.

  • Dit is alles in die sin wat nie die subjek is nie.
  • In die voorbeeld is dit: vra my gereeld vrae in my klas.

Let wel: Die gesegde is nie net die werkwoorde nie, die gesegde bevat die hoofwerkwoorde en die res van die sin. Die gesegde is met ander woorde ʼn soort sambreelkategorie waarin daar ander sintaktiese funksies voorkom.

Stap 4: Vind die direkte objek (direkte voorwerp).

  • Vra: [subjek] [hoofwerkwoord] wie/wat?
  • In die voorbeeld is dit [Hierdie kind wat julle gesê het is dom], [vra] wie/wat?
  • Antwoord: vrae

Stap 5: Vind die indirekte objek (indirekte voorwerp).

  • Vra: [subjek] [hoofwerkwoord] [direkte objek] aan/vir wie/wat?
  • In die voorbeeld is dit [Hierdie kind wat julle gesê het is dom] [vra] [vrae] vir wie/wat?
  • Antwoord: my

Let wel: Die vir/aan kan weggelaat word en die indirekte objek kan dan voor die direkte objek staan.

Stap 5: Vind die bywoordelike bepaling(s).

  • Vra: [subjek] [hoofwerkwoord] [direkte objek] [indirekte objek] waar/wanneer/hoe/hoekom?
  • In die voorbeeld is dit [Hierdie kind wat julle gesê het is dom] [vra] [vrae] [my] hoe?
  • Antwoord: gereeld; en
  • [Hierdie kind wat julle gesê het is dom] [vra] [vrae] [my] waar?
  • Antwoord: in my klas

As jy meer inligting oor hierdie sintaktiese funksies nodig het, lees die blogs wat ons reeds gepubliseer het oor:

Die subjek
Die gesegde
Die direkte objek
Die indirekte objek
Die bywoordelike bepaling(s)

As jy steeds sukkel, skakel met my by [email protected], dan verduidelik ek meer uitvoerig.

VivA-groete

Sophia

Sophia Kapp

Meer oor die skrywer: Sophia Kapp

Sophia Kapp is senior taaladviseur by die Virtuele Instituut vir Afrikaans, lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ʼn skrywer. Sy help (gratis) met enige taalnavrae per e-pos by [email protected] of per WhatsApp by 062 126 0295.

Deel van: Afrikaans

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.