Sintaktiese vorm vs sintaktiese funksie

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Deur Cecilia Erasmus

Vrydagoggende het ek ʼn bottel drinkwater klas toe moes neem vir die gehoesery. As jy mooi sou oplet, het jy my waarskynlik fronsend onder ʼn dik bordkryt-wolkbank sien staan terwyl ek as enigste sintaksis-honneursstudent stukbeelde (ook bekend as boomdiagramme) vir my prof op sy swartbord moes trek. ʼn Regterbrein-loskop het met groot moeite die linkerbrein-stukbeeldewa deur die sintaksisdrif getrek. Ek het ʼn groot slaak van verligting gegee toe ek in my eerste jaar as onderwyseres uitgevind het ek hoef nie die bloedjies voor my in die klas met knooppunte en diagramme te belas nie. Ek hoef aan niemand te verduidelik dat NP en VP nie politieke partye is nie, dit verwys na die naamwoordstuk en die werkwoordstuk.

En tog is sintaksisonderrig een van die mees gevreesde en gehate afdelings in die taalkunde. Dit is te verstane, maar eintlik gans onnodig. In ʼn reeks blogs bespreek ek hierdie afdeling volledig, sodat ons hierdie wa nou waarlik op die oorkantste oewer kan kry.

Sintaksis verwys na die studie van sinsdele en hulle onderlinge samehang. Die woord sintaksis is afgelei van die Latynse woord syntaxis. Die Griekse woord suntaxis is afgelei van die werkwoord suntassein wat beteken om iets (in ons geval die sin) te orden en te sistematiseer.

In die sintaksis bestudeer ons dus die sin as grammatikale konstruksie. Die sin bestaan uit woorde wat in ʼn bepaalde volgorde gerangskik word en saam groepeer as kleiner konstruksies of eenhede, naamlik die sinsdele. Hierdie sinsdele kan op drie verskillende maniere beskryf word afhangend van die bril wat jy as sintaktikus opsit: Ons kan die sintaktiese vorm bestudeer, ons kan sintaktiese funksie bestudeer, en ons kan betekeniskomponente in die sin bestudeer.

Wanneer ons praat oor die sintaktiese vorm van ʼn sin/sinsdeel, verwys ons na konstrukte soos naamwoordstuk, werkwoordstuk, adjektiefstuk, voorsetselstuk. Dit is belangrik dat ʼn mens verstaan dat die vormlike ontleding van ʼn sin te doen het met die bou van sinsdele en die woordsoorte wat hulle kerne vorm, en nie waar hierdie sinsdele in die sin voorkom nie.

Kom ons neem die sin Jan koop ʼn motorfiets as voorbeeld. Vormlik lyk die ontleding van hierdie sin so:

Daar is dus twee naamwoordstukke in hierdie sin: Jan en ʼn motorfiets. Vormlike ontleding sê net vir ons dat dit sinstukke is met ʼn naamwoord as kern, dit sê nie vir ons wat die sinstukke in die sin doen nie.

Sinsontleding wat te make het met wat sinsdele in ʼn sin doen, lewer sinsfunksies op, en dit is slegs hierdie afdeling van die sintaksis wat op skool onderrig word. Waar vormlike ontleding te make het met die woorde wat die kerne van die sinstuk vorm, het funksionele ontleding te make met wat die spesifieke sinsdeel vir die werkwoord doen. Hierdie beginsel is om verskeie redes kernbelangrik.

In die eerste plek beteken dit dat die sinsfunksies wat ons identifiseer, altyd beskryf word ten opsigte van hulle verbintenis/verhouding met die werkwoord. Kyk weer na ons voorbeeldsin Jan koop ʼn motorfiets. Vormlike ontleding het vir ons gesê daar is twee naamwoordstukke in die sin, Jan en ʼn motorfiets. Funksionele ontleding sê vir ons die sin het ʼn werkwoord wat ʼn handeling uitdruk (koop), ʼn entiteit wat die handeling uitvoer (Jan) en ʼn entiteit wat die handeling ondergaan (ʼn motorfiets). Daardie “entiteit wat die handeling uitvoer” is die subjek (onderwerp) van die sin, en die “entiteit wat die handeling ondergaan”, is die direkte objek (direkte voorwerp).

In die tweede plek beteken die beginsel die leerder se vermoë om sinsontleding te doen, word in die eerste stap al bepaal deur sy/haar vermoë om werkwoorde korrek te kan identifiseer. Verwys na hierdie afdeling in ons gratis aanlyn grammatika vir ʼn volledige bespreking van die soorte werkwoorde wat ons in Afrikaans identifiseer.

In die derde plek beteken dit dat ʼn byvoeglike bepaling nie ʼn sinsfunksie kan wees nie. Ja, dit beteken dit is nie korrek om vir leerders te leer daar is so ʼn ding in ʼn sin nie, want byvoeglike bepalings is uitbreidings van die naamwoord, nie die werkwoord nie, en dus per definisie nie sinsfunksies nie.

As ons die voorbeeldsin meer kompleks maak, lyk die ontleding van sy sinsfunksies so:

My broer Jan het vir hom ʼn splinternuwe motorfiets gekoop met die geld wat hy in die Lotto gewen het.

Onderwerp: My broer Jan

Gesegde: het vir hom ʼn splinternuwe motorfiets gekoop met die geld wat hy in die Lotto gewen het

Direkte voorwerp: ʼn splinternuwe motorfiets

Indirekte voorwerp: vir hom

Adjunk: met die geld wat hy in die Lotto gewen het

Uit bogenoemde is daar ʼn paar belangrike afleidings te maak wat dwarsdeur hierdie afdeling geld:

  • Die opvatting wat tans in skoolwerk opduik dat die gesegde gelyk is aan (slegs) die werkwoorde in die sin, is nie korrek nie. Die gesegde is alles in die sin wat nie die onderwerp is nie.
  • Dit is moontlik om ʼn sinsfunksie binne ʼn ander sinsfunksie te kry. Die gesegde is ʼn sinsfunksie, en binne die gesegde kry ʼn mens ander sinsfunksies soos direkte objek, indirekte objek, adjunk, ens.
  • Dit is moontlik dat ʼn sinsfunksie deur ʼn woord (Jan), ʼn frase (my broer Jan) of ʼn sin (my ma se ander seun wat eerste gebore is) verrig kan word.
  • Die aard van die verbintenis tussen ʼn bepaalde sinsdeel en die werkwoord, bepaal wat ons daardie sinsdeel gaan noem.
  • Sommige sinsdele is noodsaaklik omdat hulle die sin grammatikaal maak. ʼn Mens kan byvoorbeeld nie die onderwerp uit ʼn sin weglaat nie, maar jy kan die adjunk uit ʼn sin weglaat.

In die volgende blogs in hierdie reeks, sal die onderskeie sinsfunksies breedvoerig bespreek word. As jy vandag net verstaan dat daar in die sintaksis ʼn reuseverskil is tussen hoe ʼn sinsdeel lyk en wat ʼn sinsdeel in ʼn sin doen, het jy al berge versit.

*Cecilia Erasmus is ʼn onderwyser van Afrikaans EAT en sintaksisspesialis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae