Skakel in vir aanlyn gesprek oor Van Wyk Louw, derde Afrikaner

Carel Boshoff. (Argieffoto.)

Die Vryheidstigting bied vanaand (Donderdag 18 Junie) om 19:00 ʼn huldigingslesing vir die groot Afrikaanse denker NP van Wyk Louw aan.

Louw is op 18 Junie 1970, 50 jaar gelede, dood, maar sy denke het sedertdien steeds ’n vormende invloed op Afrikaners se selfbeeld en toekomsverwagting gehad. Hy was ’n profetiese stem wat mag met waarheid uitgedaag het, self ook toe dit Afrikanermag was.

Die lesing word intyds op die Vryheidstigting se Facebook-blad uitgesaai met as onderwerp “NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner”. Carel Boshoff, hoof van die Vryheidstigting, sal die lesing lewer en prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia en voorsitter van die FAK, sal dit inlei.

Oor die belang van Louw se denke sê Boshoff: “Nadat Afrikaners se politieke mag gebreek is ontstaan die vraag of Louw ook vir ons tyd nog iets te sê het. Ek glo dat sy denke nou te méér van belang is.”

Boshoff is naas sy betrokkenheid by die Vryheidstigting ook ’n medewerker van die NP van Wyk Louw-sentrum en skrywer van die boek NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner.

NP-van-Wyk-Louw

NP van Wyk Louw. Foto: Af.wikipedia.org

Agtergrond oor dié boek:

Wat kom ná die “donker nag van die siel” waarin ’n volk, na sy beste oordeel onder die omstandighede, besluit het om eerder onder te gaan as om in ongeregtigheid voort te bestaan? As NP van Wyk Louw dié vraag met die klem op geregtigheid gestel het, dan stel Carel Boshoff dit nou met die klem op voortbestaan. En waar Louw die oomblik van beslissing in die vooruitsig stel, kyk Boshoff daarop terug en is dit die nuwe dag wat daarop kan volg, wat hom boei.

NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner is die vrug van ’n dekade lange gesprek tussen twee denkers wat mekaar nooit ontmoet het nie, maar dieselfde vraag stel. Dit is die vraag na ’n volhoubare bestaan vir dié klein volk waartoe elkeen hom, na sy eie tyd en omstandighede, verbind het; die vraag na die Afrikanervolk se plek in die wêreld. Vir albei is die Afrikaner nie net ’n gegewe grootheid nie, maar die verwikkelde samespel van mense in gemeenskap; vir albei is die toekoms nie gewaarborg nie, maar ’n waagstuk en ’n avontuur.

Carel Boshoff is “’n derde Afrikaner”. Sy kultuur-politieke denke is gebore uit die nood van die tweede Afrikaner se ondergang toe sy liggaam, die Suid-Afrikaanse staat, hom afgesterf het. Net soos sy pa, ’n voortreflike tweede Afrikaner, se kultuur-politieke denke gebore is uit die nood van die oorgang tussen ’n tradisionele, landelike lewe en die moderne, stedelike bestaan wat Afrikaners in die vorige eeu moes verower. Hy woon sedert 1997 permanent in Orania en is die president van die Orania Beweging.

  • NP van Wyk Louw en die derde Afrikaner is uitgegee deur die FAK.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.