Skakel regstreeks in by Taalberaadfees

Afrikaanse Taalraad ErfenisdagprogramDie Afrikaanse Taalraad (ATR) hou vir die eerste keer ’n nasionale taalberaadfees by die Kunstekaap-teater op Erfenisdag, 24 September, om die ryk, gedeelde erfenis van Afrikaans as taal te vier. Die taal-opskop geskied ook teen die agtergrond van Afrikaans se 90-jarige bestaan as amptelike taal.

Die dag is propvol met interessante gesprekke en debatte rondom Afrikaans as taal in Suid-Afrika, musiek en sang in Afrikaans en daar gaan selfs in Afrikaans geëet en gedans word!

Die goeie nuus is dat jy nou ook deel kan wees van die feesvieringe waarookal jy mag wees in Suid-Afrika en selfs die wye wêreld. In samewerking met OFM sal die hele dag se verrigtinge hier aanlyn uitgesaai word.

Skakel gerus in om te hoor wat bespreek word op die besonderse dag. Daar word gesprekke gevoer oor onder meer wat Afrikaans se rol is in die smee van ’n gedeelde erfenis, wat is die huidige stand van Afrikaans, wat van die toekoms en wat dink die jonger geslag van Afrikaans. Dit is vir OFM belangrik om deel te wees van die geskiedkundige uitsending en sien uit om hande te vat met die Afrikaanse Taalraad om meer mense blootstelling te gee aan die dag se gebeure in Afrikaans.

Kaapstad se eerste burger, Patricia de Lille, en prof. Jacques van der Elst, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, is ook aan die woord om die vieringe in perspektief te stel.

Daar is ook heerlike vermaak deur die dag met Sarah Theron en Hemelbesem, so wel as die Betjies van Betjieskraal en hul besonderse rieldanstalent. Die Kaapse Affodille is ’n dames-boereorkes en hulle speel almal balke toe! Die ERUB-kinderkoor bring jong stemme van die groter Kaapse Vlakte byeen en wys wat gedoen kan word wanneer ouers en onderwysers moeite doen om hul kinders uit die strate en weg van moeilikheid te hou. Later die middag is die Jaloersbokkies op die verhoog en die aand se verrigtinge word afgesluit op ‘n hoë noot met Karen Zoid, rockmusikant en TV-aanbieder, Zanne Stapelberg, operasanger, en Zolani Mahola, voorsanger van Freshlyground.

Van die gassprekers en gesprekleiers is prof. Steward van Wyk (Departement Afrikaans, UWK), Fatima Allie (koskenner en storieverteller uit die Bo-Kaap), Conrad de Kock (Pendoring-wenner: kopie), Martin Dentlinger (taalstryder van Rehoboth, Namibië) en prof. Anne-Marie Beukes (ATR-voorsitter en hoof van die Departement Linguistiek, UJ), Fahrid Essack (hoof van die departement religieuse studies, UJ), Saartjie Botha (uitvoerende hoof van die Woordfees, US), Tony Ehrenreich (Cosatu-leier in die Wes-Kaap) en dr. Leon Wessels (UV en NWU), orof. Debra Meyer (dekaan van die fakulteit Natuurwetenskap, UJ), Cerneels Lourens (prokureur en taalaktivis) en Marlene le Roux (waarnemende hoof van Kunstekaap en onder-voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans), dr. Michael le Cordeur (Departement Taalonderrig, US en voormalige ATR voorsitter), Karen Meiring (kykNET-hoof), Christina Mashobane (ATKV), Sinki Mlambo (Revlon), Benjamin Bock (ATKV), Mischke le Cordeur (Protea Hotel-groep), Marius Swart (Departement Afrikaans en Nederlands, US) en Dian Wessels (Sunflood Studios).

Besoek www.ofm.co.za om na die uitsending op 24 September 2015 te luister. Skakel gerus vanaf 09:00 in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.