Skerpskryf-kompetisie vir leerders

TaalmuseumSkerpskryf is ’n skeppende Afrikaanse skryfkompetisie vir graad 10-, 11- en 12-leerders van Drakenstein. Dit word vanjaar vir die vierde keer aangebied deur die Hugenote Gedenkskool in Dal Josafat in samewerking met die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl. Die Hugenote Gedenkskool was die eerste skool in Suid-Afrika waar kinders amptelik onderrig in Afrikaans ontvang het.

Die doel van die kompetisie is om leerders se kreatiwiteit te stimuleer deur storielyne rondom sekere temas te ontwikkel en te skryf. Die kompetisie is tot voordeel van elke leerder wat in Afrikaans skryf en help om belowende jong skrywers in Afrikaans te identifiseer.

Vanjaar moet leerders ‘n resensie skryf van tussen 300 en 350 woorde oor ’n kunswerk, uitstalling, toneelstuk, boek, ensovoorts. Toepaslike inligting moet verskaf word, soos die naam van die skrywer/kunstenaar/regisseur/akteur of titel van die boek/werk/rolprent, die naam van die uitgewer/produksiemaatskappy en die verkoopprys (waar van toepassing).

Die finaliste en hulle onderwysers sal genooi word om by die prysoorhandiging by die Hugenote Gedenkskool deel te neem aan ‘n gespreksessie waar bekende skrywers, joernaliste en rubriekskrywers teenwoordig sal wees. Hulle sal ook ‘n onderhoud met ’n bekende persoonlikheid voer en ’n berig daaroor skryf.

Lekker pryse vir die wenners sowel as vir skole kan gewen word. Die algehele wenner kry R2 000 kontant plus ’n koopbewys vir R1 000 vir Afrikaanse boeke. Die twee wenners in die kreatiewe en taalkundige afdelings wen elkeen R500 kontant plus ’n koopbewys vir R500 vir ’n Afrikaanse boek. Elkeen van die drie skole van die drie wenners ontvang ook ’n koopbewys van R500 vir ’n Afrikaanse boek. Die opvoeder of persoon wat die wen-inskrywing aangemoedig het sowel as die onderwyser wat die meeste inskrywings instuur, kry elkeen R500.

Leerders kan by hulle Afrikaans-onderwyser inskryf. Wenners van die vorige jare kan weer inskryf, maar sal nie in aanmerking kom vir ‘n prys nie. Inskrywings moet teen 31 Julie 2014 ingehandig word by Janine Brown by die Taalmuseum in Pastorielaan 11, Paarl. Sy kan gekontak word vir navrae by 021 872 3441 of [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.