Skole: Ouers kan Afrikaans help oorleef

skool-vakkeuses-loopbaan

Foto: YeriLee/Pixabay.com

Die besluit van die Laerskool Meyerspark in Pretoria om vanaf 2017 met Afrikaans as onderrigmedium weg te doen, het die kollig opnuut op die oorlewingstryd vir onderrig in Afrikaans geplaas.

Die skool se besluit om volgende jaar slegs in Engels onderrig aan te bied, het ouers onkant betrap en talle is besorg oor waar hulle hul kinders volgende jaar heen moet stuur. In Gauteng is dit veral ’n probleem omdat daar ’n tekort aan skole is en goeie skole reeds tot barstens toe vol is.

Wat by Meyerspark gebeur, is niks nuuts nie. Talle skole, wat aanvanklik ’n Afrikaans-enkelmediumskool was, het die pad van verengelsing geloop nadat dit na parallel- of dubbelmedium oorgeskakel het. Wanneer dié stap gedoen word, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die demografie van ’n skool só verander dat dit uiteindelik uitsluitlik onderrig in Engels aanbied.

Baie navorsing is al die verband gedoen en net soveel voorstelle is al gemaak ter behoud van Afrikaans- enkelmediumskole. Die dilemma lê dikwels by ouergemeenskappe wat nie saamstaan om die voortbestaan van Afrikaanse skole te verseker nie. Te dikwels word aan druk van onderwysdepartemente en arrogante amptenare toegegee wat onregmatig by besluitnemingsprosesse rakende taal en ander beleide by skole inmeng.

Nog ’n probleem is die verandering in demografie wat uiteindelik tot gevolg het dat daar nie regverdiging vir meer as een enkelmediumskool in ’n bepaalde gebied of distrik is nie. In plaas daarvan dat Afrikaanse ouers leiding neem en in die beste belang van hul kinders besluit om een skool met hulpbronne en getalle sterk te maak, word in verskillende rigtings getrek wat tot gevolg het dat al die skole uiteindelik hul medium van onderrig moet aanpas wat uiteindelik tot verengelsing lei.

Ondanks groot druk op Afrikaanse skole, veral ook op die platteland, is daar egter steeds geleenthede vir onderrig in Afrikaans, meen dr. Jaco Deacon, adjunk uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

In ’n referaat wat hy onlangs by ’n konferensie van die Rapport Onderwysfonds gelewer het, het hy ’n voorlopige prentjie geskets oor hoeveel Afrikaanse skole daar in die land is. Volledige statistieke sal binnekort bekend gemaak word.

Voorlopige syfers dui daarop dat daar 2 489 Afrikaanse skole in die land is. Afrikaanse skole veronderstel skole waar leerders in enkel-, parallel- of dubbelmedium  onderrig kry. Van die 2 489 skole is 1 274 enkelmedium.

Die syfers vir Afrikaans-enkelmediumskole in die verskillende provinsies sien só daaruit: Oos-Kaap (173), Vrystaat (78), Gauteng (137), KwaZulu-Natal (10), Limpopo (15), Mpumalanga (17), Noord-Kaap (184), Noordwes (51) en die Wes-Kaap (609).

As Afrikaanse skole (enkel-, parallel-, en dubbelmedium) bereken word tot ’n persentasie van die 27 719 openbare skole oor die hele land, lyk die scenario só: Oos-Kaap (6,31%), Vrystaat (14,42%), Gauteng (12,53%), KwaZulu-Natal (0,83%), Limpopo (1,45%), Mpumalanga (5,6%), Noord-Kaap (56%), Noordwes (7%) en die Wes-Kaap (75,6%).

Deacon het daarop gewys dat talle van die land se toppresteerders steeds uit dié skole kom. Enorme potensiaal is steeds in Afrikaanse skole opgesluit wat die intellektuele kapasiteit moet ontwikkel om aan die behoeftes van die land te voorsien.

Ondanks druk wat Afrikaanse skole van owerhede kry, ook in terme van die beskikbaarheid van onderwysers en ander personeel, hulpbronne, karige subsidies en onregmatige inmenging in die alledaagse bestuur van dié skole, is hulle steeds in ’n posisie om gehalte-onderrig te bied.

Die noodsaaklikheid dat dié skole op alle vlakke bygestaan, ondersteun en versterk moet word, kan volgens onderwysontleders nie onderskat word nie aangesien sowat 80% van openbare skole disfunksioneel is. Ouerbetrokkenheid by funksionerende openbare skole sal nog meer moet toeneem om dié skole in die toekoms te beskerm.

Die Solidariteit Beweging het ook vroeër vanjaar aangekondig dat indringend na ’n strategie vir groter selfstandigheid van Afrikaanse skole gekyk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Leonard van der Dussen ·

Die sentiment vir Afrikaans is reg en verstaanbaar. Dit moet egter oor meer gaan as net woorde in ‘n bepaalde taal gebruik, en sekere skoolgeboue: in die proses van politieke posisionering en opeis van regte, die ontwikkeling en vooruitgang van die onderwys in ‘n snel-veranderende wêreld op die agtergrond geskuif word. Afrikaanse onderwys net ter wille van politieke bevrediging om Afrikaans te wees en regte op te eis, loop gevaar om ‘n politieke saak te wees onder vordering en ‘n toekoms vir die kinders.

Leonard van der Dussen ·

Beter weergawe:
Die sentiment vir Afrikaans is reg en verstaanbaar: Dit moet egter oor meer gaan as net woorde in ‘n bepaalde taal te gebruik, en oor sekere skoolgeboue: in die proses van politieke posisionering en opeis van regte word die noodsaak vir ontwikkeling en vooruitgang van die onderwys in ‘n snel-veranderende wêreld op die agtergrond geskuif. Afrikaanse onderwys net ter wille van politieke bevrediging om Afrikaans te wees en regte op te eis, loop gevaar om politiekery te wees sonder vooruitgang en ‘n toekoms vir die kinders wie se loopbane en lewe nog voorlê. Dis nie roepingsbewuste en verantwoordelike onderwys nie.

JC ·

Leonard, die antwoord is DIE BESTE BELANG VAN DIE KIND, soos verwoord in Art 28 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996. Indien op hierdie fundamentele en grondliggende beginsel gelet word, sal besef word dat ontwikkeling en vooruitgang van die onderwys in ‘n snel veranderende wereld; en vooruitgang en toekoms vir ons AFRIKAANSE kinders NIE wedersyds uitsluitende begrippe is nie maar inderdaad saamvloei. Inderdaad, onlangse wereld gebeure wys net weer daarop dat die “politiekery” en opeis van ‘n bepaalde identiteit te wete Afrikaans-wees, weer op die voorgond en politieke
prioriteitslys geplaas MOET EN SAL word. Ek stem dus met respek nie saam met jou nie, al is jou argument weldeurdagt. Die basis waarvan af jy jou argument voer is foutief- JY IGNOREER DIE BESTE BELANG VAN DIE KIND beginsel EN DIE WETENSKAP in jou argument. MOEDERTAAL onderrig, is die wetenskaplik bewese BESTE MODEL en niks kan dit verander nie, daarom die aandrang daarop, en geensins NIE om politiekery nie.

Kabous ·

Die feig dat skole ook oorvol is kan hulle mos kinders weg jaag soos hulle wil. Ek sit dan eerder my kins in n engelse skool

John ·

Alle Afrikaanse skole gaan uiteindelik geteiken word. ‘n Verdere bekommernis is naskoolse studie. Die twee sake moet saam bekyk word. Mens sou nie graag wou sien dat Afrikaanse kinders na’ matriek jare in oorbruggingsklasse verwyl om Engels te leer om daarna aan die anderstalige inrigtings te kan studeer nie. Indien die probleme nie reg benader word nie en verkieslik deur ‘n ingeligte Afrikaanse kommissie wat die saak tot op die hoogste vlak sal deurvoer nie, sal dinge aansloer en baie gepraat word en ‘n klomp leerlinge se lewensloop sal sodoende benadeel word. Rebelse ouers in koeelvaste baadjies gaan hul kinders ook nerens bring nie. Afrikaners moet die tye reg lees en taktiese besluite neem vir die’ tydsvak en oor wat die beste sal wees vir oorlewing. Afrikaners kan selfs na-ure hul taal bestudeer soos Frans of Mandaryns ens. Ons het jare gelede dieselfde probleme ervaar. Tye verander weer. ‘n Boer maak ‘n plan, dan nie?

Disselboom ·

Dis ‘n saak van hart en sin om Afrikaanse skole te hê, moet dus nie die vraag se doel verkeerd verstaan nie: maar kom ons maak ‘n slag die saak uit HOEKOM ons Afrikaanse skole wil hê, en wat is die definisie van ‘n AFRIKAANSE skool. Dan sal ons beter weet hoe om dit aan te pak. Op die oomblik is dit ‘n soort gewoonte om maar net die ou skole voort te sit, sonder dat ons regtig weet hoekom ons Afrikaanse skole wil voortsit. En baie van die Afrikaanse skole doen gebruik Afrikaanse woorde, maar voer in elk geval ‘n Engels-gedrewe (kultureel) kurrikulum uit. Almal praat ook sommer van “CAPS”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.