Skryf nou in vir Internasionale Afrikaans-Ekspo

Argieffoto (Foto: u_uf78c121/Pixabay)

Dit is weer tyd vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se jaarlikse Internasionale Afrikaans-Ekspo wat vanjaar die negende keer aangebied word.

Wat is die tema?

“Ons is opgewonde oor dié jaar se ekspo. Met die tema ‘skepe’ lê die wêreld voor jou oop,” sê Esté Cilliers, projekbeampte van skoolprojekte by die FAK.

Buiten dié vaartuig self, is die moontlikhede eindeloos om “lewe” aan hierdie tema te gee, meen Cilliers.

Jo Black se alombekende liedjie “Skepe”, is maar een van die voorbeelde hoe om skepe as tema uit te beeld.

“ʼn Skip word in ʼn hawe gebou.
ʼn Skip lyk in ʼn hawe baie mooi vir my en jou,
Maar dis nie waarvoor skepe gemaak word nie
Die storms en die winde sal waai
Hys jou seile hoog, want een of ander tyd moet die tyding draai.”

Dan is daar is ook Afrikaanse uitdrukkings soos: “Moenie jou skepe agter jou verbrand nie” (moenie ʼn onherroeplike stap doen nie; in die verhaal het die vroue van Troje hul skepe verbrand toe hulle op Sicilië geland het) en “daar kom altyd beter skepe in, as wat daar uitgaan” (vorentoe wag dalk meer kanse as in die verlede).

Verwante woorde soos “skeepvaart”, “handelsvloot”, “skeepvaartbedryf”, “seehandel”, “seevervoer” en “bote” kan ook wind in jou kreatiewe seile blaas.

Skepe word van die vroegste tye af gebruik om goedere en mense van een punt na ʼn ander te vervoer. In 1652 het Jan van Riebeeck met drie skepe in die Kaap aangekom, en ‘n paar maande later het nog twee van sy skepe Oliphant en Walvis hier aangeland.

“Vandag, presies 370 jaar later, wil ons hê julle moet jul kreatiwiteit inspan om vrye teuels aan dié tema te gee. Die tema sluit alles verwant aan skepe, van die vaartuig self, tot die seile, kraaines en anker, in,” verduidelik Cilliers.

Jongmense kan in 10 kategorieë meeding en boonop ʼn verskeidenheid kreatiewe werk inskryf. Jy kan jou verfkwaste of potlode inspan om jou idee op ʼn doek vas te vang of skuif agter jou kamera in en neem jou beste kiekie, of pen of tik ’n storie oor skepe.

Buiten die splinternuwe tema, is daar in 2022 ook twee nuwe windmakerige kategorieë, naamlik lirieke en grafiese ontwerp. Die ander kategorieë is: dagboekinskrywings, resensies, opstelle, kortverhale, poësie, voordrag, fotografie en kuns, wat skilder- en tekenkuns insluit.

Wie kan deelneem?

Enige persoon ter wêreld van graad R tot en met die ouderdom van 25 wat Afrikaans praat of ʼn liefde vir dié taal koester, kan deelneem. Dit sluit alle moedertaal‑ en niemoedertaalsprekers in.

Gr. R tot 3 kan vir voordrag en kuns inskryf, gr. 4 tot 5 ding mee in fotografie, poësie, voordrag, lirieke en kuns; en graad 6 tot die ope afdeling (tot 25 jaar oud) kan in al tien kategorieë deelneem.

Wat vanjaar ook anders maak, is dat die publiek uiteindelik vir die algehele wenners sal kan stem. Maak dus seker dat jy die tema perfek versinnebeeld of op ʼn skilderdoek vasvang.

Wat kan jy wen?

Die skool met die meeste inskrywings staan die kans om R10 000 te wen. Algehele wenners van gr. R tot 3, asook van gr. 4 tot 7 ontvang prysgeld ten bedrae van R1 000. Kategoriewenners in gr. 8 tot 12 wen R1 500 en prysgeld ten bedrae van R2 000 word aan die wenner in die ope afdeling toegeken.

Hoe neem jy deel?

Alle inskrywings, behalwe die kunswerke, moet aanlyn ingeskryf word by www.projekte.co.za. Alle kunswerke moet per hand by die FAK-kantoor by die Voortrekkermonument in Pretoria ingedien word. Die aanlyn inskrywings se sluitingsdatum is 29 Julie 2022.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.