Skryf nou in vir Afrikaanse romanwedstryd

Die aanspraak van lewende wesensNB-Uitgewers wag vanaf 1 Januarie 2014 inskrywings in vir die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015. Die wedstryd bied aan skrywers die geleentheid om by die land se grootste en suksesvolste uitgewery te publiseer!

Dit is boonop die omvangrykste romanwedstryd in die land met die grootste beloning vir skrywers. Prysgeld van altesaam R350 000 is op die spel en sluit ’n stewige debuutprys in:
Wenner R200 000
Naaswenner R70 000
Derde prys R40 000
Debuutprys R40 000

Skrywers kan hulle manuskripte aan enige van NB-Uitgewers se fiksiedrukname voorlê: Tafelberg, Human & Rousseau, Queillerie of Kwela Boeke. NB-Uitgewers onderneem om die wenmanuskrip(te) te publiseer en het eerste opsie op alle manuskripte wat ingeskryf word. Met die debuutprys wil NB-Uitgewers aan nuwe Afrikaanse skrywers erkenning gee en hulle aanmoedig om met volgehoue dissipline, uitstekende navorsing en deursettingsvermoë ’n trefferroman te skep en af te rond.

“Skryf in! Dis ’n waagstuk en ’n bietjie angswekkend. Maar dit is ook opwindend, en ’n aansporing, en wie weet – mevrou Fortuin is jou dalk ewe goedgesind!” sê Ingrid Winterbach wie se roman Die aanspraak van lewende wesens (Human & Rousseau) in 2012 as die wenner van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd aangewys is. Hierdie roman het ook in 2013 die Hertzogprys vir Afrikaanse Prosa en die M-Net Literêre Toekenning in die kategorie Afrikaans ontvang, en is boonop aangewys as die wenner van die W.A. Hofmeyr-prys vir die beste Afrikaanse literêre werk in alle genres en die Universiteit van Johannesburg-prys in die kategorie kreatiewe skryfwerk in Afrikaans.

Chris Karsten, wat in 2012 as die naaswenner aangewys is vir sy roman ’n Man van min belang (Human & Rousseau), sê: “Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd is die plek waar jy jou eie storie kan vertel in die geselskap van ander storievertellers, almal aangesteek deur die lekker gees van die Afrikaanse woord − boonop beloon met aansien, erkenning en ’n goeie gawe vir jou harde werk.”

Volgens Eloise Wessels, die uitvoerende hoofbestuurder van Media24 Boeke, gee hierdie wedstryd erkenning aan ontluikende én gevestigde skrywers. “Dit is ook ’n uitstekende platform vir die ondersteuning, ontwikkeling en moontlike publikasie van nuwe werk in Afrikaans,” sê sy.

Ingrid Winterbach Foto: Andries Gouws (aan Maroela Media verskaf deur NB-Uitgewers)

Ingrid Winterbach Foto: Andries Gouws (aan Maroela Media verskaf deur NB-Uitgewers)

Die Groot Romanwedstryd, voorheen onder meer bekend as die Sanlam/Insig Groot Romanwedstryd en daarna die Sanlam-romanwedstryd, werf reeds sedert 1990 nuwe talent onder aspirantskrywers en moedig ook ervare skrywers aan om nuwe manuskripte te voltooi. Vorige wenners van hierdie wedstryd sluit in Alexander Strachan, Erika Murray-Theron en Dan Sleigh.

Manuskripte vir die Groot Romanwedstryd 2015 word vanaf 1 Januarie 2014 aanvaar en die sluitingsdatum is 1 September 2014. Die wedstrydreëls en inskrywingsvorm kan hier afgelaai word. Skrywers kan ook NB-Uitgewers se webwerf besoek vir meer inligting oor die drukname.

Alle manuskripte moet gepos word na:
Vir aandag: Danita van Romburgh NB-Uitgewers Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015 (voorkeurdruknaam)
Posbus 879
Kaapstad
8000

Navrae oor die Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2015 | 021 406 3412 | [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.