Skryfkursus aangebied in die mooie Montagu

Woord en Kos: ‘n Winterfees (Foto verskaf)

Kom deel in die avontuur van skoonheid: die ontdekking, uitdaging en vreugde van ʼn skryfkursus gekombineer met klasse in Klein-Karoo kulinêre kuns in een van Montagu se mees elegante historiese huise.

Montagu se Boekefees bied hierdie jaar ʼn uitsonderlike geleentheid aan 11 mense om hul kreatiwiteit binne ink en kruie te ontdek: ʼn skryfkursus onder die bekwame leiding van dr. Riana Scheepers en kosdemonstrasies onder leiding van Jacques Erasmus van die Hemelhuijs-restaurant.

Dít alles in Montagu waar die berge jou in haar skoot sus.

Riana Scheepers is ‘n bekende skrywer en letterkundige, maar sy is ook veral bekend daarvoor dat sy nuwe skrywers ontdek. Haar skryfkursusse is avontuurlik en passievol, haar mentorskap en praktiese aanslag is van onskatbare waarde. Vir meer as dertig jaar al stel sy opwindende skrywerstemme bekend en help mense om hul eie kreatiwiteit te ontgin.

“Hierdie kursus is nie slegs vir die literêrbegaafde persoon nie, maar vir almal wat betower word deur die wonderwêreld van woorde,” verduidelik Riana.

Woord en Kos: ‘n Winterfees, vind plaas by Jonkmanshof, Badstraat 20 – een van twee
asemrowende gastehuise van eienaars Jacques Erasmus en Hein Liebenberg. Dié pragtige Kaaps Hollandse huis wat in 1854 gebou is, is in 2015 deur Jacques en Hein gerestoureer. Die ou opstal met sy uiters stylvolle inkleding en ontwerp, kontemporêre kunsversameling en 18de-eeuse Kaapse meubels, besonderse tuin en inheemse vetplantkweekhuis, is jou tuiste vir vier dae. Hier word al jou sintuie geprikkel en uitgedaag.

Skaars 100 m straataf, wag daar nog besonderse styl en skoonheid: Jonkmanshof, Badstraat 30, in 1856 gebou, is in 2018 gerestoureer. Beide gastehuise is beskikbaar vir verblyf van kursusgangers vir die 3 nagte. Daar is akkommodasie vir 8 deelnemers (4 pare
of 2 pare en 4 enkelpersone wat deel). Die skryfskool sluit die kreatiewe sessies saam met
Riana in, asook middag- en aandetes deur Jonkmanshof se span. Aandetes sal die tema van woord en kos verder ondersoek, deur na plaaslike verskaffers, hul produkte en voorbereiding te kyk.

ʼn Historiese toer van die dorp op ʼn kunsfiets deur Marchelle van Zyl van Flying Feet is ook ingesluit om deelnemers verder bekend te stel aan die geskiedenis van die dorp.

Woord en Kos: ‘n Winterfees vind plaas van 22 tot 25 Julie in aanloop tot die Montagu Boekefees wat van 25 tot 28 Julie plaasvind.

Koste en inligting:

R4 600:
Skryfkursus + Drie interaktiewe kookdemonstrasie aandetes
Vier ligte middagetes
Historiese dorpstoer
(Verblyf uitgesluit)

R8800:
Skryfkursus + Drie interaktiewe kookdemonstrasie aandetes
Vier ligte middagetes
Historiese dorpstoer
Verblyf in Jonkmanshof ingesluit

Inligting en besprekings:
Mareletta Mundey 082 444 3927
[email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Michelle leR ·

Lyk so interessant, maar hoe moet ons gewone mense dit bekostig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.