Skrywersvereniging kies nuwe bestuur

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

PEN Afrikaans kondig met trots aan dat ʼn nuwe bestuur van dié skrywersvereniging, ’n plaaslike sentrum van PEN International, onlangs verkies is.

Tydens die organisasie se algemene jaarvergadering wat op 19 Oktober aanlyn plaasgevind het, is Bernard Odendaal en Jolyn Phillips met die volle steun van die vergadering tot die posisies van onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter verkies.

“Ek voel werklik geëerd om verkies te wees tot voorsitter van PEN Afrikaans,” sê Odendaal. “Terselfdertyd staan ek geïntimideerd deur die diep voorgangerspore op die paadjie waarlangs ek moet voortstap. Gelukkig dien ek in ’n bekwame bestuurspan, mense op wie se ondersteuning en energie staatgemaak kan word.”

Volgens Odendaal bly die inskakeling by die wêreldwye PEN-gemeenskap belangrik in die strewe om, hier te lande maar ook elders, skrywer- en uitgewersbelange te help beskerm en om die reg op vryheid van uitdrukking gehandhaaf of bevorder te sien.

“Die uitdaging om, as lid van die PEN Afrikaansspan, hierdie belange-netwerk te help versterk en uitbou, is ’n opwindende een,” meen hy.

Phillips sê die versterking en ontwikkeling van Suid-Afrikaanse letterkunde, meer spesifiek Afrikaanse letterkunde, is iets wat sy aktief voorstaan.

“My persoonlike deelname aan die PEN Afrikaans-bestuur spruit uit my voorspraak vir die welstand van skrywersregte met betrekking tot vryheid van spraak en taalbeleid. Ek voel regtig bevoorreg om die geleentheid te hê om saam met die groter PEN-gemeenskap en bestuur hieraan te werk.”

Die ander verkose bestuurslede is: Carolyn Meads, Danie Marais, Dibi Breytenbach, Fiona van Kerwel, Izak de Vries en Mercy Kannemeyer.

PEN Afrikaans se bestuur dien telkens vir ’n termyn van twee jaar. Die organisasie is daarop gemik om ’n sentrum in stand te hou vir Afrikaanse skrywers wêreldwyd en op dié manier ’n vaste en gerespekteerde plek in die internasionale skrywersgemeenskap – soos verteenwoordig deur PEN International – te verwerf. Fokuspunte behels die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en joernalistiek, uitdrukkingsvryheid en die belange van dié wat met Afrikaanse skryfwerk gemoeid is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.