Sluitingsdatum vir kortverhaalwedstryd om die draai

nuwe storiesDie inskrywings vir Human & Rousseau en LitNet se jaarlikse Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd vir skrywers onder 30 sluit reeds 6 Februarie 2014. Die kortlys sal in April 2014 bekend gemaak word en hiérdie skrywers sal die geleentheid kry om hul verhale na aanleiding van keurverslae te herskryf.

Die wenners sal in November 2014 op ’n prysfunksie aangekondig word. Die wenners én die skrywers wie se verhale uiteindelik vir publikasie gekies word, sal almal prysgeld ontvang.

Die doel van die wedstryd is om jong skrywers te lok, nuwe talent te identifiseer en aan te moedig, asook om aan hulle die geleentheid te bied om hul werk te publiseer.

Die eerste en tweede weergawe van elke verhaal op die kortlys, sowel as die keurverslae, sal op LitNet geplaas word, sodat skrywers wat nié die kortlys gehaal het nie, ook uit die proses kan leer. Human & Rousseau sal die beste kortverhale in Nuwe Stories 3 publiseer.

Geen manuskripte sal ná die keuringsproses aan skrywers terugbesorg word nie. Suksesvolle skrywers sal deur Human & Rousseau in kennis gestel word, waarna die redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Insluiting in die finale bundel berus op die suksesvolle voltooiing van die redigeringsproses. Ongelukkig sal verslae of kommentaar nie aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel vir publikasie ná die redigeringsproses berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

Vanjaar het Human & Rousseau altesaam 116 inskrywings vir die Nuwe Stories 2-wedstryd ontvang waarvan 20 verhale deur 17 skrywers uiteindelik gepubliseer is. Dié bundel is saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn.

Skrywers kan solank hulle verhale gereed kry; verdere inligting oor hoe om in te skryf, verskyn binnekort op NB-Uitgewers se Facebook-blad en op LitNet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.