Só bly Afrikaans lewendig

afrikaans scrabble

Argieffoto

Jy kry ‘n heele aantal woorde n leer hulle speling n ook wt hulle biteekin n dan kompiteer jy met jou maaikies om te kyk wie se gehee die besti is. Kort voor lank spel jy hu hont yte bosyt! Om goet te kan spel, help natierlik ook om woordi se biteekinise te firstaan. So dis somer twiee flee mit een klap!
Dis nou wt ‘n mens ‘n intrisante proejek noem.

As jy dalk nie kop of stert van bogenoemde paragraaf kan uitmaak nie of dit dalk komies vind, sal jy
verstaan hoekom die ATKV graag mense wil help om beter te kan spel. “’n Mens wat goed kan spel, is iemand wat nog iets tot sy/haar mondering van ‘n ‘volledige mens’ kan voeg,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê. “Opvoedkundiges raak liries oor dié onderwerp. Die ATKV stem saam … en wil help!”

ATKV-Spelathon 2015 was ‘n reusesukses. “Ons nooi graag skole om weer in 2016, of dalk vir die
eerste keer, deel te neem.”

Volgens die ATKV is die doel van die projek om geletterdheid in skole te bevorder, spelvaardigheid te onderlê, regverdigheid te beklemtoon en gesonde kompetisie aan te moedig. “Moedig gerus leerlinge aan om aan hierdie kompetisie deel te neem of om sommer net spel te begin geniet en word so deel van die groeiende getal mense wat opnuut die vreugdes van taal ontdek,” lui die verklaring.

ATKV-Spelathon is ‘n nasionale spelkompetisie vir moedertaal en niemoedertaalsprekers en word aangebied vir graad 6 tot 10 in Gauteng en graad 9 tot 10 in die res van die provinsies. Die inskrywingsfooi is R160 per twee leerlinge, per vlak. Dubbelmediumskole kan tot 4 leerlinge (Graad 9 en 10) per vlak laat inskryf.

Tans word ‘n opwindende nasionale finaal vir leerlinge in graad 9 en 10 aangebied. Bekendes in die mediawêreld soos Riaan Cruywagen en Ivor Price was al van die persoonlikhede wat kleur aan die geleentheid verleen het.

“Die skole hou hulle eie uitdunne om te besluit wie die skool gaan verteenwoordig by die provinsiale uitdunne,” het Tina Mashobane, projekorganiseerder, gesê. “Ons moedig onderwysers aan om die spellys onder al die grade wat deelneem, te versprei. Hulle kan die spellys as deel van taalonderrig aanbied. Leerders kan leer hoe om ‘n woordeboek te gebruik en die betekenis van die woorde na te slaan, hoe om woorde te gebruik om verskillende tye aan te dui, sinne op te stel of die sinne te gebruik vir kreatieweskryfwerk en mondelinge werk. Sodoende bly Afrikaans lewendig en relevant.”

Die sperdatum vir inskrywings is 29 Februarie 2016.
Vir meer inligting kontak Tina Mashobane by 011 919 9018, e-pos [email protected] of besoek die ATKV se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.