Só herbedink Taalkommissie standaardtaal vir Afrikaans

Die Afrikaanse Taalkommissie se komitee vir die termyn 2022 tot 2024. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) het Dinsdag tydens ʼn hibriede seminaar die stilswye verbreek en amptelik tot die herstandaardiseringsgesprek van Afrikaans toegetree.

“Ons raak nou by ʼn taalpolitieke situasie betrokke waarteen ons gewaarsku is, maar ons kan eintlik nie langer meer swyg oor die politieke omstandighede wat rondom hierdie variëteit aan die gang is nie,” sê Suléne Pilon, voorsitter van die Taalkommissie. Tot op hede het die Taalkommissie gesprekke oor die herstandaardisering van Afrikaans op ʼn afstand dopgehou.

Vrae wat al ʼn geruime tyd op verskeie platforms onder die loep kom, en waarvan die Taalkommissie deurgaans kennis geneem het, hou verband met die behoefte aan ʼn standaardtaalvariant, die relevansie van die term ‘Standaardafrikaans’, hoe herstandaardisering van Afrikaans plaasvind, en wie verantwoordelikheid vir so proses moet neem.

Einde van Standaardafrikaans?

Die herstandaardisering van Afrikaans lê die Taalkommissie na aan die hart, omdat ‘Standaardafrikaans’ die variëteit van Afrikaans is wat deur dié taalliggaam in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) beskryf word.

(Foto: Christel Cornelissen/Maroela Media)

Om te verseker dat die werk wat deur die Taalkommissie gedoen word, bruikbaar en nuttig vir alle sprekers van Afrikaans is, is dié taalliggaam van mening dat dit tyd geword het om die term ‘Standaardafrikaans’ te vervang.

“Standaardafrikaans het bepaalde konnotasies waarvan dit nie los kan staan nie: dat dit wit-Afrikaans is, dat dit deur ʼn klein groepie mense uitgedink word en op die sprekergemeenskap afgedwing word, en dat dit ʼn variëteit is wat doelbewus die sprekers van ander variëteite uitsluit en vervreem,” sê Pilon.

Afgesien van die Taalkommissie se pogings om Standaardafrikaans (soos opgeteken in die 2017-weergawe van die AWS), wyer op te teken, kan dié term nie van die stigmas wat daaraan kleef, loskom nie.

“Gegewe die werkwyse van die Taalkommissie is ons dus van mening dat die naam van die variëteit wat die kommissie beskryf, moet verander. Ons wil ons ook aansluit by ʼn tradisie wat besig is om in die taalkunde gevestig te raak, waar ‘algemene Afrikaans’ gebruik word wanneer verwys word na die variëteit van Afrikaans wat onder andere in hoofstroommedia en ander geredigeerde publikasies gebruik word.”

Op hierdie punt, is dit belangrik om in gedagte te hou dat die herstandaardisering van enige taal ʼn komplekse proses is. Die ontwikkeling van skryf- en spreektaal word in samewerking met verskeie rolspelers oor ʼn lang tydperk uitgevoer. Selfs Standaardafrikaans het sedert die eerste AWS in 1917 verskyn het, ook voortdurend aangepas om met veranderende tendense tred te hou.

Die rol wat die Taalkommissie die afgelope eeu spesifiek in die vestiging van Afrikaans as skryftaal gespeel het, word in die 2017-uitgawe van die AWS, uiteengesit. Enersyds bied die Taalkommissie leiding deur “reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel”, en andersyds, reflekteer die Taalkommissie se werk “die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap”.

Die Taalkommissie sal dus verantwoordelik wees vir die kodifisering, oftewel die beskrywing, van geskrewe, algemene Afrikaans.

AWS steeds die grondslag

Of daar binne die huidige gegewe wel nog iets soos ʼn standaardvariëteit van Afrikaans nodig is, sê Pilon dat die Taalkommissie wel so ʼn behoefte geïdentifiseer het.

“Gebruikers van die taal het riglyne nodig. Hierdie grondslag help onder andere onderwysers om kinders te leer hoe om Afrikaans te gebruik, joernaliste raadpleeg dit vir die spel- en skryfwyse van woorde, en so kan ʼn mens talle voorbeelde ophaal.”

Die Taalkommissie bied riglyne in die vorm van die AWS aan. “Die variëteit wat daarin beskryf word, moet egter een wees waarmee die grootste deel van die Afrikaanse gemeenskap gemaklik is, en die AWS moet dus ʼn bron wees wat bruikbaar is vir alle Afrikaanse mense wat in algemene Afrikaans wil skryf.”

Daar word tans verskeie doelbewuste pogings aangewend om die inhoud van die AWS meer gebruikersvriendelik te maak, soos om bestaande AWS-hoofstukke te herstruktureer en met gebruikersvriendelikheid in gedagte, te herskryf. Verskeie nuwe bylaes, soos transliterasietabelle vir Arabies, Grieks en Oekraïens, en ʼn lys van binnelandse en Namibiese plekname is ook onder ontwikkeling.

Verskillende dele van die AWS is reeds gratis op die internet beskikbaar. Gebruikers kan onder andere die woordelys, lys van buitelandse geografiese plekname en afkortingslys in die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se woordeboekportaal raadpleeg.

“Deur hierdie hulpbronne beskikbaar te maak, verseker ons dat die inhoud van die AWS dus ook toeganklik is vir mense wat nie ʼn AWS kan bekostig nie.”

Só word Afrikaans uitgebrei

Die komitee van die Taalkommissie is deeglik bewus daarvan dat hulle op die skouers van reuse staan en dat ʼn besluit soos die herstandaardisering of naamsverandering van ʼn taalvariëteit nie ondeurdag geneem moet word nie, aldus Pilon.

“Ons kan nie self oor ons doen en late besluit nie. Ons kry ons mandaat en taak van die SAAWK af. Enige besluite wat geneem word, moet aan die raad vir goedkeuring voorgelê word. Daarbenewens maak die komitee staat op die ondersteuning en insette van vorige voorsitters en lede.”

Die Taalkommissie beskou wel hierdie situasie as ʼn gulde geleentheid om iets meer te doen as om bloot net die variëteit wat beskryf word, te herdoop. Pilon het in haar aanbieding die Taalkommissie se werksaamhede, navorsing en toekomsplanne uiteengesit.

Ander maniere waarop die Taalkommissie erns van die herstandaardiseringsgesprek maak, is:

  • Unieke benoemers uit die variëteite (woorde waarvoor daar geen sinonieme in Standaardafrikaans bestaan nie) is reeds in die woordelys van die 2017-AWS ingesluit.
  • Deurlopende herstandaardisering, aangesien daar die hele tyd hedendaagse gebruikswoorde tot die woordelys toegevoeg word en aan die spelreëls geskaaf word om met veranderende tendense in geredigeerde Afrikaanse korpora (ʼn korpus is ʼn groot versameling lopende, geskrewe teks) tred te hou.
  • Die Taalkommissie werk al vir baie lank toenemend gebruiksgebaseerd. Besluite word dus gebaseer op dit wat gesien word in die korpora (en ander bronne) tot die Taalkommissie se beskikking. “Ons beskryf dus, eerder as om voor te skryf,” voeg Pilon by.
  • Dit is vir die Taalkommissie ʼn groot prioriteit om besluite op ʼn korpus te baseer wat so verteenwoordigend as moontlik van geskrewe Afrikaans is. Hoe meer data beskikbaar is om ingesluit te word by ʼn korpus, hoe meer verteenwoordigend word hierdie korpus van geskrewe Afrikaans. Pilon sê: “As die Taalkommissie ons besluite op so ʼn verteenwoordigende korpus kan berus, vind ʼn verruiming van die variëteit wat die Taalkommissie beskryf, eintlik outomaties plaas.”
  • Wat demografie betref, is die Taalkommissie tans nie verteenwoordigend van die Afrikaanse sprekergemeenskap nie. “Dit is vir ons ʼn baie groot probleem wat nie langer onopgelos kan bly nie. Ons het reeds planne gemaak en met die bestuur van die SAAWK bespreek, om hierdie kwessie te begin regstel.”

Die Afrikaanse Taalkommissie se komitee, en paneellede wat aan ‘n gesorek oor die herstandaardisering van Afrikaans deelgeneem het. (Foto: Verskaf)

Pilon se aanbieding het gevolg ná ʼn paneelgesprek, “Die einde van Standaardafrikaans”, wat deur Heindrich Wyngaard gelei is.

Wyngaard, joernalis, meningsvormer en uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, het met Ria Olivier van die Afrikaanse Taalraad, Rudolf Stehle van Netwerk24, en Gerda Odendaal, mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), oor ʼn verskeidenheid aspekte van die saak gesels.

Die algemene siening van die paneel is dat ʼn groter bewustheid rondom ander taalvariëteite geskep moet word. Hulle het ook die behoefte aan die herstandaardisering van Afrikaans benadruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

annie ·

Ons verstaan presies wat beplan word. Ons het die al Son en die Maan en die Ster moet nou bygevoeg word want ons bly nou almal in Babel net voor die volgende verwarring. Veels geluk!

Karin ·

Ons noem dit taal verarming. Die suiwer taalgebruik word weggeneem en dan word alles aanvaarbaar. Ek ervaar dit daagliks.

houopkruip ·

So, ‘n stuk of 10 mense besluit nou hoe die taal daar moet uitsien. Wat se die ander 3 999 990 mense ?
Verstommend.
Moet sekere van ons ou naiewe nasie (wat duidelik verveeld is) altyd karring aan iets waar dit nie nodig is nie.
Los ons taal uit – dit ervaar reeds enorme druk vir die uitwissing daarvan.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die taalmoeders en ‘n paar vaders is besig met ‘n gevaarlike speletjie. Hoe gaan Afrikaans oor 100 gebesig word?

Treurwilger ·

Standaardafrikaans het geen “herstandaardisering” nodig nie.
Dis rééds op standaard.
Ander streeksvariëteite verdien erkenning sónder om aan Standaardafrikaans te torring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.