Só onthou hulle PG du Plessis se studeerkamer

Deur Ilze Nieuwoudt

PG du Plessis. Foto: Maroela Media

Vir die een was dit ’n kuierplek, vir die ander ’n wegkruipplek, vir die skrywer ’n broeiplek en vir sy familie selfs ’n plek waar die musiek kon vloei.

Soos die vele persoonlikhede van die mense wat aan die skrywer PG du Plessis se deur kom klop het, so ook het sy spreekwoordelike sanctum sanctorum, oftewel allerheiligste, net soveel identiteite of persoonlikhede gehad. In hierdie “allerheiligste” spasie van die skrywer – sy studeerkamer – het karakters gestalte gekry en skerp sêgoed die begin van ’n nuwe storie gevorm. Vir een van Afrikaans se mees geliefde skrywers en die mense wat dikwels hulself daar kom tuismaak het, was hierdie plek soveel meer as net ’n blote studeerkamer.

PG du Plessis im sy studeerkamer.

Du Plessis, die skrywer van tientalle bekroonde dramas, kortverhale, draaiboeke en romans soos Siener van die suburbs, Koöperasiestories en Fees van die ongenooides, is verlede jaar in die ouderdom van 82 oorlede. Die inhoud van sy studeerkamer is onlangs aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein geskenk. Dit was Du Plessis se wens dat sy literêre kosbaarhede én sy hele boekery hul pad na dié sentrum, waarvan hy ’n medestigter was, moes vind. Sy vrou, Marie, wat deesdae by die egpaar se dogter Marita Carnelley op Potchefstroom woon, was boonop vasberade om haar oorlede man se wense te eerbiedig.

Haar geliefde eggenoot van bykans 59 jaar se studeerkamer op die plaas Sémoér was nie net die ruim spasie met rye en rye boeke, studeertafels en ’n kaggel nie.

PG du Plessis. Foto: Esté Meyer Jansen

“Ons het geleef in die studeerkamer,” erken sy vrolik in ’n telefoniese onderhoud met Maroela Media. “Dit was ’n geselsplek… Almal het hom [PG] in sy studeerkamer kom sien en dan het ek kos gekook. Hulle het ingekom om hom vir vyf of tien minute te sien en dan bly hulle die hele dag,” lag sy.

In ’n onderhoud het Du Plessis een maal erken dat eensaamheid die “eintlike hel van skryf is”. Sou dit moontlik wees waarom dié woordmeester al te gretig was om die eensaamheid te verdryf? Uit familie en vriende se kosbaarste herinneringe aan hul tye in Du Plessis se studeerkamer, blyk dit tog of daar waarheid in dié teorie steek. Marie stel dit bondig: “Hy het dit gehaat om alleen te skryf.”

“Dis waar ons die land se probleme opgelos het”

Dr. PG du Plessis en prof. Hans du Plessis by die toekennings geleentheid van die 2014 Clover Aardklop Nasionale Kunstefees Foto: Burger Meyer, Maroela Media

’n Tekort aan geselskap in dié eensame proses was daar duidelik nie in Du Plessis se studeerkamer nie. Sy jare lange skrywersvriend Hans du Plessis verduidelik: “Vir my was die studeerkamer die plek waar ek en PG oor onsself en ons eie skryfwerk kon praat. Hy sou voor sy rekenaar sit en stukke voorlees wat hy geskryf het en ons sou daaroor praat.” Dié vriende sou boonop ook hier hul tonge losmaak en teenoor mekaar uitvaar oor die resensente en literati. Dikwels het hulle ook saam-saam “die land en die teologie se probleme opgelos”.

Dan sou Marie ook, wanneer sy ruskans van die plaaswerk gaan opsoek het, twee of drie keer per dag ’n koppie tee na haar man se studeerkamer aandra, herinner die egpaar se 29-jarige kleinseun Lovat Carnelley hom.

En as die mensgeselskap yl raak, was die hond Mao Tse Tung, altyd buite Du Plessis se studeerkamer of op die vloer langs hom. Volgens Lovat het sy oupa Mao ná ’n pofadderbyt nagte lank versorg. Daarna was Mao so te sê ’n skaduwee agter Du Plessis en wanneer die skrywer in sy studeerkamer verdwyn, sou Mao permanent buite die deur waghou.

“Hy kon my alles oor enigiets vertel”

sandra-prinsloo-en-pg-du-plessis-80-verjaardag

Sandra Prinsloo saam met PG du Plessis tydens sy 80e verjaardagvieringe in 2014 by die Atterbury-teater in Pretoria. Foto: Esté Meyer Jasen/Maroela Media.

Anders as vir Mao, was die deur na Du Plessis se studeerkamer altyd wyd oop vir familie, skrywers, vriende en bure. Du Plessis se liefde vir stories vertel, het dikwels ’n vinnige inloer in ’n lang kuiersessie omskep. Herman Fouché en die Du Plessis-egpaar was vir nagenoeg twee dekades bure in die Rysmierbult-plaasgemeenskap buite Ventersdorp. Fouché het onlangs ook die plaas gekoop en beplan om dit nou as ’n gasteplaas onder die naam Sémoér Destination in te rig. Sy weeklikse besoeke aan Du Plessis lê hom na aan die hart.

“Ek het altyd vir hom gesê ek wil nie daar kom nie, want dan kom ek nie weg nie,” lag dié boer. Hy het Du Plessis dikwels in sy studeerkamer aangetref waar hy besig was om te skryf, maar dan sou die storieverteller altyd sy rekenaar afsit en sy buurman innooi. “Hy het altyd gesê, ‘Jy het ope toegang’,” vertel Fouché nostalgies oor die man met die ongelooflike kennis wat dié boer met antwoorde oor enige onderwerp kon help. “Ek het nooit nodig gehad om na te slaan nie, want oor enige onderwerp kon hy my alles vertel.”

“Dis die plek waar ek veilig was”

PG du Plessis en Alexa Strachan

Vir mense soos die skrywer, aktrise en feesbestuurder van Aardklop, Alexa Strachan, was die deur tot Du Plessis se studeerkamer, ’n deur tot ’n “heiligdom”.

“Wat sou ek gee om nog daarheen te kon gaan, want dit was net een mens s’n: syne. Die res van ons was gaste, dit was ’n eer om daar te mog wees. Dis die plek waar ek geleer het, gekuier het, ontsettend baie gelag het, soms geskinder het en soms raas gekry het. Dit was ’n heiligdom: Die groot foto van Sandra en Marius uit Siener van die suburbs aan die een kant, die ontsaglike klomp boeke, die stille teenwoordigheid van groot geeste was tasbaar. Maar dit was ook die plek waarheen ek gevlug het in donker tye, waar ek veilig was.”

Soms sou klaviermusiek ook dié vertrek vul. “Daar het ’n mooi klavier in my oupa se studeerkamer gestaan. My oupa het self ook gespeel toe hy klein was, maar het dit later jare verleer,” skets kleinseun Lovat die prentjie. “My broer, Pieter, en neef Ross, sou dan hier op die klavier gespeel het en oupa sou by die tafel sit en luister.”

En dan, wanneer die dag se storievertellings, geselsies en rumoer bedaar het, was dié “heiligdom” ook die skrywer se dinkplek. Volgens Marie het Du Plessis eens ’n hele week lank elke nag opgestaan, na sy studeerkamer gegaan en gaan broei oor één woord wat hy in ’n skryfwerk wou gebruik. Die woord het hom nag ná nag ontwyk tot die een aand – in die stilte van sy studeerkamer het ook dié woord, soos die duisende ander, sy weg na dié meesterlike skrywer gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Sy suster Miemie was met my ouma se broer getroud….en ek en sy het op dieselfde dag verjaar. Ek het so twee jaar terug sy plaas gaan soek….hom daar gekry…en gevra dat hy sy boek “Fees van die Ongenooides” vir my teken. En net soos hier gesê word……ek wou stop vir 10 minute….en het vir ‘n heeldag gebly…..

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.